Polisie geloof ná hul vermiste 2-jarige opspoor

Ao. Jacques Meyer met Mfundo in sy arms (Foto: Claudine Senekal/Ladysmith Herald via Tabloid Newspapers)

ʼn Foto van ʼn KwaZulu-Natalse polisieman wat met ʼn tweejarige dogtertjie in sy arms loop nadat sy twee dae ná haar verdwyning op die piek van ʼn berg in die Emmuas-omgewing buite Bergville in dié provinsie opgespoor is, roer die hartsnare van honderde sosialemediagebruikers.

Dít kom nadat groot kommer geheers het oor die veiligheid van Mfundo Mkhwanazi wat op 27 Junie spoorloos buite haar ouerhuis verdwyn het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, vertel aan Maroela Media Mkhwanazi se ouers was op die dag van haar verdwyning in en om die huis besig en het glo eers Woensdagaand (27 Junie) teen skemer besef dat hul dogtertjie vermis is.

Zwane sê die tweejarige se ouers het na bewering die hele nag na haar gesoek voordat hulle die volgende dag die hulp van soek-en-reddingspanne ingeroep het.

Adjudant-offisiere Jacques Meyer en Karl Gouws van die polisie se honde-eenheid op Ladysmith, en Fred Halgreen van die Okhahlamba-soek-en-reddingspan, het dié soektog gelei.

Halgreen het Dinsdag aan Maroela Media gesê die Okhahlamba soek-en-reddingspan is eers die dag ná die tweejarige se verdwyning deur ʼn munisipale raadslid in die distrik ontbied.

“Ons reddingspanne, waarvan daar 12 beamptes deel was, het saam met lede van die polisie se honde-eenheid tot laat Donderdagaand na haar gesoek, maar die soektog afgelas weens die sigbaarheid.

“Ons het onderneem om die soektog die volgende oggend vroeg te hervat, en nog mense het by ons aangesluit. Teen Vrydagoggend was ons sowat 70 mense wat na die kind gesoek het,” vertel hy.

Halgreen sê ʼn gemeenskapslid, wat gehelp het met die soektog, het Mkhwanazi op die piek van ʼn berg in die Emmuas-omgewing opgespoor en onmiddellik die ondersoekspanne na die toneel ontbied.

Hy sê die polisie het onmiddellik bevraagteken hoe ʼn tweejarige bo-op die berg sou kon kom én boonop twee nagte in die snerpende koue, waar temperature dikwels onder vriespunt daal, kan oorleef.

Mfundo met haar ma herenig (Foto: Claudine Senekal/Ladysmith Herald via Tabloid Newspapers)

“Ons vermoed beslis gemene spel. Daar is geen manier dat sy alleen op die berg sou kon kom nie. In die 13 jaar wat ek deel is van die Okhahlamba-soek-en-reddingspan was daar nog nooit ʼn kind van hierdie ouderdom wat in sulke omstandighede oorleef het nie,” sê Halgreen.

Zwane sê op navraag die polisie ondersoek wel die voorval en sal ná die ondersoek kan vasstel of die tweejarige verdwyn het weens nalatigheid of gemene spel. Hy sê die polisie sal dan dienooreenkomstig optree.

Intussen is sosialemediagebruikers vol lof vir die polisie en soek-en-reddingspanne se flink pogings om Mkhwanazi op te spoor.

“Julle is ons helde,” het Chrezane Petersen op ʼn foto van Meyer met Mkhwanazi in sy arms gereageer. “Sjoe! Jacques en Freddie – julle is altyd toegewyd in julle werk. Julle ouens maak ons ongelooflik trots. Ek salueer jou,” het Michelle Nieuwoudt op Facebook geskryf.

“Dis voorwaar ʼn besondere foto,” het Delene Wilson laat hoor. “Welgedaan! Hierdie storie maak werklik my hart warm,” het Tessa Geere geskryf.

Die foto’s word geplaas met vergunning van die Ladysmith Herald en Tabloid Newspapers.

Ao. Jacques Meyer met Mfundo in sy arms (Foto: Claudine Senekal/Ladysmith Herald via Tabloid Newspapers)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

TLC ·

Wat n vreeslike hartseer wonderlike einde van n verlore kind My trane loop want ek is gelukkig en kwaad Watter ouers besef na hoeveel ure jou kind is weg in snerpende koue Ek vermoed vuilspel en baie nalatige ouers hier ASB MM hou ons op hoogte

TLC ·

Wat n vreeslike hartseer wonderlike einde van n verlore kind My trane loop want ek is gelukkig en kwaad ?Watter ouers besef na hoeveel ure jou kind is weg in snerpende koue ?Ek vermoed vuilspel en baie nalatige ouers hier ASB MM hou ons op hoogte

Sooo dankbaar ·

Soooo dankbaar dat hierdie kleintjie gered is, dankie aan die helde, dat jul ongeag alles – alles gegee het om hierdie klein seuntjie te red. Mense soos jy AO Jaques Meyer en Tulonga (Nam seuntjie) is so mooi voorbeeld van omgee en naasteliefde.

Rikku ·

Kan ons nie maar oor begin en saamstaan en altyd n hand uitreik vir ons naaste nie ?
Hoekom moet daar soveel geweld gepleeg word ?
Daar is iets goed in ons almal.
Dankie Jesus, en dankie Jacues Meyer dat jy Mfundo gevind het.
Dankie Vader vir Mfundo se lewe.

Neem kennis ·

Julle wat alewig haat saai in hierdie land, neem kennis. Ja, julle weet wie julle is. Ook ons weet wie julle is. Daar is ‘n plekkie vir ons elkeen onder hierdie Afrikason.

GM ·

Ek sien nie in hoe hul eers teen skemer besef het die kindjie is weg nie. My amper-tweejarige kom soek my elke paar minute op as ek doenig raak in die huis. Sy hou toesig ;-) En hoe gaan so ‘n kleintjie alleen berg-klim en ongeskonde bo uit kom?

Ella ·

Dankie vir julle toegewydheid om die kind te kry. Ek salueeer julle deursettingsvermoë.
Nou vir ouers, enige nasie, volk, ras of taal: hou julle kindertjies dop. Om te skrik as húl weg is help nie.
Daar is bose mense wat heeltyd soek vir kinders.
Ek ry patrollie in my voorstad en dis vreeslik om sulke stil huise en tuine te sien maar dis die samelewing waarin ons woon se skuld. Kinders speel baie min buite.
As my kinders buite is, is ek ook. Hulle en ek kan tog in elk geval nie heeldag binne bly..

Denise ·

Neem kennis ek weet nie van haat saai nie ek NEEM net KENNIS van al die onskuldige mense, boere wat elke dag wreed vermoor word en dit is vir my n baie ernstige saak !!!!

Cindy ·

Dankie aan die gemeenskapslid wat die kind eerste opgespoor het en toe die ondersoekspanne ontbied het. En dankie aan almal vir hulle pogings om die kind te kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.