Polisie gereed vir enige onrus – Cele

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Ministers in die polisie se veiligheidsgroepering (JCPS) sê hulle is gereed vir enige gebeurlikheid oor die feestyd.

Bheki Cele, minister van polisie, het op ʼn mediakonferensie van die groepering gesê die polisie het lesse geleer uit die Julie-opstande.

Grootskaalse oproer en plundering het veral in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek nadat oudpres. Jacob Zuma hom by ʼn tronk op Estcourt in KwaZulu-Natal moes gaan oorgee. Die Konstitusionele Hof het Zuma vroeër 15 maande tronkstraf opgelê vir minagting van ʼn hofbevel om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te verskyn.

Zuma is in September vanjaar op mediese parool vrygelaat. Regter Elias Matonjane het Woensdag egter beslis dié besluit deur die voormalige nasionale kommissaris van korrektiewe dienste (DKD), Arthur Fraser, was onreëlmatig en het dus beveel dat Zuma moet teruggaan tronk toe om die res van sy straf uit te dien.

Die hof het boonop beslis die tydperk wat die oudpresident op mediese parool was, mag nie deel vorm van die tronkstraf wat aan hom opgelê is nie.

Zuma en die DKD het reeds aangedui dat hulle aansoek gaan doen om verlof tot appèl teen die beslissing.

Talle van Zuma se ondersteuners het sedertdien hul misnoeë met die besluit dat hy sy tronkstraf verder moet gaan uitdien, te kenne gegee.

Cele het Donderdag gesê die polisie het uit dure ondervinding geleer en gaan dié lesse inspan om te verseker die verwoesting van eiendom en verlies aan lewe gebeur nie weer nie.

“Ons het met die bestuur en leierskap van die polisie en die weermag vergader om die voorbereiding en reaksie hierdie keer veel beter te maak.”

Volgens die minister is wetstoepassers reeds ontplooi om dit te verseker.

Die JCPS het in ʼn verklaring ook gesê die groepering neem kennis van die DKD se besluit om teen die uitspraak te appelleer.

“As groepering wil ons ons vertroue in die konstitusionele demokrasie, wat bepaal dat almal gelyk voor die reg is, benadruk. Die skeiding van magte en die onafhanklikheid van die regbank is die grondslag van ons Grondwet en ons howe funksioneer sonder vrees of vooroordeel terwyl hulle die oppergesag van die reg beveilig.”

Die ministers sê enige optrede moet binne die gepaste kanale – en binne die raamwerk van die wet – plaasvind.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het ‘n oproep om kalmte gedoen. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het ʼn beroep om kalmte gedoen.

“Dit is belangrik dat ons die regsproses toelaat om sy loop te neem.

“Opruiende verklarings en ongevraagde aanvalle op die regbank gaan nie die proses bevorder nie. Kom ons gee die proses ruimte en tyd, weerhou ons van aanhitsende uitsprake en bly kalm as land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Jr ·

Ja en wanneer jy Kojac en ( ha ha ha) intelligent intelligensie wakker word is julle koffie koud en jou kussing ingesluk.

VaalDonkie ·

Ek het in my lewe geleer dat mens nooit die waarheid sal weet nie, maar jy kan 100% oortuig wees dat wat ‘n minister kwytraak NIE die waarheid is nie. So m.a.w. die SAPS is nie gereed vir enige oproer nie.

JohanR ·

Is dit Mr Bean daai, of Mr Bean wat grap. Waar was jy toe die klippe gewaai het? Agter n bank weggekruip saam met Sithole?

fransdutoit3 ·

Die polisie en weermag kan nie eers ‘n rioolplaas beveilig nie..

anniekiewiet ·

Weet julle wat kos daai hoede van hom? Seker nie sommer om die hoek gekoop nie. En wie betaal daarvoor?

Jaco ·

Die ANC-regering beheer die howe en beheer die dept van korrektiewe dienste en beheer die polisie. Zuma is ook in die ANC. Die mense wat laas in opstand was omdat Zuma tronk toe is, is ANC ondersteuners. So hierdie hele Zuma-ding is 100% ‘n ANC-ding. Sekerlik kan dit tog alles binne die ANC-huis hanteer en opgelos word. Hoe dan nou?

Shakespeare ·

Hoe naar is ek nou. Gaan nou dadelik somaar twee valoids drink.

Hasie ·

Ou Hoed die SAPD kan nie eens nou in ” gewone” omstandighede hul werk verrig nie wat nog te sê in ‘ n krisis ? ….Go and play in the sand on the beach …..

bobmartin ·

Liewe genugtig ou hoed. Sommige SAPD lede het deel geneem in die Julie-opstande. Wat gaan julle die keer probeer doen om opstande te keer? Die opstande beter monitor?

casper ·

Cele sal onmiddelik almal na die strande toe stuur om die golwe te stop !!!

Di ·

Ag asb! Waar is die spul wat aangeka is met die vorige plundering????? Almal loop nog vrylik rond – spul terroriste beheer die land

Nozi ·

Hulle is los gelaat en wag vir die volgende plundering. Glo dit sal erens in 2022 wees, zuma moet nou eers weer amper 12 maande wag vir ‘n plekkie in die hoogste hof soos altyd. Dit pla hom nou regtig nie, ons almal wat dink hy gaan kersfees in die tronk deurbring maak ‘n fout. Hy gaan in sy erenstige sieketes toestand lekker party saam al sy tjommies daar in nkandla.

Hennie J ·

Ou grapjas DIDI. Is julle nie veronderstel om altyd gereed te wees nie?

jzjz05 ·

Om gereed te wees as daar iets gebeur beteken niks dit is dan te laat.jou mense moet nou al weet en reg maak vir wat gaan gebeur .

Annamarie ·

Wat n grap!!! Dep of Justice nog n groter grap!!! Kan nie eers n Award , aan personeel implimenteer nie !!!!

Plaaskind ·

Grap van die jaar, die Cele darem, hy is nie eens gereed vir homself nie.

anniekiewiet ·

Ha ha hõ hõ hõ
Kry julle ministerie nie skaam as julle lees hoe onkapabel julle in elk geval is nie?

PieterJ ·

Gereed om wat te doen? Weer net rondstaan en niks doen terwyl plunderaars openlik vir julle lag?

james ·

My dierbare Maroela vriende daar is een ding wat julle nie weet van hierdie cowboy nie, dit is dat hy môre se koerant vandag al kan lees, so as hy sê hy/hulle is reg vir enige gebeure kan julle hom maar glo, hy weet!!!!! ????????

Eidel ·

Hoe kan ons dit glo? Vat net die onlangse onluste en dit onderstreep alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.