Polisie ‘gereed’ vir Kimberley-protes

Argieffoto

Die provinsiale polisiekommissaris van die Noord-Kaap het Woensdag gesê die polisie is gereed vir ʼn beplande poging om bedrywighede in Kimberley Donderdag tot stilstand te bring.

Lt.genl. Risimati Shivuri het gesê die polisie is gereed om enige situasie te hanteer wat tydens die beplande betoging mag opduik.

“Die polisie sal ʼn sterk teenwoordigheid reg oor die stad handhaaf wat uit verskeie eenhede sal bestaan. Die optog sal noukeuring deur die polisie en ander veiligheidsgroepe gemonitor word,” het Shivuri gesê.

Shivuri het gewaarsku dat geen wettelose gedrag geduld sal word nie. Dit sluit in skade aan private of staatseiendom, en skade aan paaie of die versperrings daarvan.

Hy het ʼn beroep op betogers gedoen om nie van die beplande optogroetes af te wyk nie.

Donderdag se protesaksie volg op kort op die hakke van ʼn gewelddadige betoging oor diensleweringskwessies in die stad. Winkels en motors is twee weke gelede beskadig toe betogers dit met klippe bestook het. Buitebande is ook in die strate aan die brand gesteek.

Die polisie moes van skokgranate en rubberkoeëls gebruik maak om die skare uiteen te dryf. Vyf polisiebeamptes is tydens die onluste beseer.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-raadslid in die Sol Plaatje-munisipaliteit, het gewaarsku dat die stad hom Donderdag weer in die greep van ʼn “verlammende betoging” kan bevind.

“Dit is skokkend hoe maklik dit so ver kom. Dit het begin by die kragtarief. Die vinger is altyd na die munisipaliteit gewys as die stad met die duurste krag. Eenheidstariewe van verskillende plekke is dan vergelyk. Daardie plekke het egter ʼn vaste tarief én ʼn eenheidstarief. Sol Plaatje het net ʼn hoër eenheidstarief,” het Boshoff gesê.

Boshoff het gesê die tariefstruktuur is in opdrag van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) hersien.

“Die eenheidstarief is aansienlik verlaag, maar R260 vaste koste is op elke rekening bygevoeg. Dit was deel van die begroting wat deur al die openbare prosesse is. Ek het dit ondersteun, as ʼn meer regverdige manier om koste te verhaal.”

Volgens Boshoff is ʼn vergadering waar die begroting bespreek moes word glo deur ANC-binnegevegte ontsier.

“Die speaker, wat ʼn [Jacob] Zuma-ondersteuner is, was ontevrede omdat die galery met ondersteuners van die burgemeester, wat ʼn [Cyril] Ramaphosa-ondersteuner is, gelaai was en het terstond die vergadering verdaag. ʼn Nuwe vergadering is belê en die begroting kon darem goedgekeur word en stadsbestuur kon voortgaan.”

Boshoff verduidelik die veldtog teen die nuwe kragtarief het momentum opgebou en tot geweldpleging gelei.

“Die basiese R260-fooi is op ys geplaas om protesgangers te paai. Tot dit weer ingestel word, beteken dit Sol Plaatje verkoop krag teen ʼn aansienlike afslag wat totaal onvolhoubaar is,” het hy gesê.

Boshoff het gesê betogers het ook die munisipale bestuurder en finansiële hoof se skorsing geëis. Dié munisipale beamptes het op vrywillige verlof gegaan totdat die raad hulle op voorkomende skorsing geplaas het sodat die bewerings teen hulle ondersoek kan word.

“Nou word die burgemeester se afdanking geëis omdat hy nie opgetree het soos die skare van hom verwag het nie. Verder moet die kragtarief op die verlaagde vlak, sonder basiese heffing, gehou word. Hier is ʼn paar probleme. Die stad kan nie die kragtarief wat geëis word bekostig nie. Amptenare kan ook nie geskors word voordat hulle aan iets skuldig bevind is nie.”

Boshoff het gesê die groot vraag is of probleme opgelos kan word as onmoontlike eise gestel word.

Maroela Media het navraag by die munisipaliteit gedoen en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mrs H ·

Oom Piet Els se moordenaars sal ook daar wees en deel neem aan die protes! Gaan vang hulle SAPS?!

Anoniem ·

Is dit so? So gereed soos hulle was toe hulle eie met ‘n byl aangeval is?

Nettie ·

@Anoniem – daai was in Hermanus, waar die polisie maar “pretty much” hul dae omslaap …..

Ek stem Anoniem ·

Janee my gedagte presies. Hulle scatter soos klein kuikentjies as die 3000 betogers op hulle toesak met brandende bande, bakstene en pikke/grawe en byle .. now you see me, now you don’t .. die res le in die hospitaal en alles is afgebrand.

Groot moeilikheid ·

Intussen val die wiele af in oos Londen waar mense n spar binnegedring het wat van n blanke eienaar met dreigemente dat hulle moet saamwerk ander bring hulle busse volgelaai met EFF ondersteuners om verder moeilikheid te veroorsaak…..dis onduidelik op die stadium waaras hulle moet ‘saamwerk’.

Siekensat ·

En wat van krag in Kaapstad? Hier aaaa en betaal ek ook maar net.

‘n Nukkerige Stapper in die stof na die Kimberly Protes … ·

Ek hoop Kimberly gaan nie weer geplunder en verwoes word nie. Die person met die takkies aan wat stap dat die stof waai lyk erg gedetermineerd en nukkering genoeg om by die Protes en Moles uit te kom en deel te neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.