Polisie gereed vir optog oor buitelanders

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die polisie het gesê veiligheidsmaatreëls is getref om te verseker dat ʼn optog wat vandag in Pretoria gehou word uit protes teen die groot getal buitelanders in Suid-Afrika, vreedsaam verloop.

Geweld het egter alreeds vroegoggend in Atteridgeville opgevlam nadat betogers paaie met brandende bande en ander voorwerpe versper het. Sommige inwoners is sonder vervoer gelaat. Die polisie sê hy monitor die situasie.

Voorvalle van xenofobiese geweld het die afgelope paar weke in Rosettenville in Johannesburg en in Mamelodi en Atteridgeville in Pretoria voorgekom. Verskeie huise is aan die brand gesteek en talle winkels is geplunder. Altesaam 42 verdagtes is intussen in verband met hierdie voorvalle in hegtenis geneem.

ʼn Groep wat hulself die Mamelodi Concerned Residents noem sal vandag ʼn optog in Pretoria hou omdat inwoners ongelukkig is oor buitelanders in die land wat volgens hulle misdaad soos prostitusie en dwelmhandel die land inbring en Suid-Afrikaners van werksgeleenthede ontneem.

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes is ontplooi al langs die roete van die optog tot by die plek waar die groep ʼn memorandum sal oorhandig. Die optog sal na verwagting om 10:00 op die hoek van Bloed- en 7de Straat begin en die groep sal na die departement van binnelandse sake in Johannes Ramokhoase-straat beweeg. Die optog sal na verwagting tot 15:00 duur.

“Ons wil ʼn beroep doen op almal wat aan die protesoptog deelneem om dit op ʼn vreedsame wyse te doen. Alle deelnemers moet ook kennis neem dat die dra van gevaarlike wapens verbied word en dat persone wat hierdie reël oortree strafregtelik vervolg kan word,” het Naidoo gesê. Hy het gesê enige persoon wat voel hul regte word op enige manier geskend, moet dit by die naaste polisiestasie aanmeld en nié reg in eie hande neem nie.

Lt.genl. Deliwe de Lange, die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het gesê van die 42 verdagtes wat in verband met die xenofobiese geweld in hegtenis geneem is, was 27 buitelanders sonder die nodige dokumente. Een persoon is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen terwyl 14 ander vasgetrek is vir dwelmbesit en dwelmhandel.

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Volgens De Lange was inwoners van Rosettenville tot ʼn groot mate behulpsaam by die inhegtenisnemings deur die polisie van inligting te voorsien. Die polisie het Dinsdag ʼn blitslynnommer beskikbaargestel waar polisiekorrupsie en ander onwettige bedrywighede aangemeld kan word.

Intussen het pres. Jacob Zuma ook vandag ʼn beroep op optoggangers gedoen om nie gewelddadig te raak nie. “Die situasie het baie ernstiger geraak in die lig van die huidige dreigemente van geweld en voorvalle van intimidasie en vernietiging van eiendom wat op buitelanders in Suid-Afrika gemik is,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Zuma het die voorvalle van geweld veroordeel en ʼn beroep op die owerhede gedoen om te verseker dat die oortreders aan die pen ry. “Die president het twee weke gelede Nyanga in Kaapstad besoek, een van die plekke in die land waar die meeste misdaad voorkom. Hy sal ook ander gemeenskappe besoek om eerstehandse inligting te kry van die probleme op grondvlak met betrekking tot misdaad,” lui die verklaring.

Volgens Zuma neem hy kennis van die klagtes dat Suid-Afrikaanse maatskappye onwettige immigrante in diens neem. Hy het gesê die departement van binnelandse sake sal toeslaan op werkgewers wat onwettige immigrante in hul diens het, aangesien dit plaaslike inwoners in wedywering met buitelanders sit.

Hy het egter ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nie buitelanders vir alle misdaad te blameer nie. “Baie buitelanders wat in Suid-Afrika woon is wetsgehoorsaam en dra positief tot die land se ekonomie by. Dit is verkeerd om alle buitelanders as dwelmhandelaars of mense-smokkelaars uit te maak,” het hy gesê.

“Kom ons bepaal wie hierdie misdade pleeg en werk saam met die regering om hulle in hegtenis te laat neem, sonder om te stereotipeer en onskuldige mense skade te berokken. Die dreigemente en teen-dreigemente op sosiale media moet end kry. Almal moet selfbeheersing uitoefen en die wette van die land respekteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Max ·

Wat is die sosio-ekonomiese impak op die RSA van tussen 8 en 11 miljoen ” gedokumeteerde” immigrante?

Regtig? ·

Wat z nou eintlik sê is: Los my maatjies…hulle brin stemme vir die cANCer!

Hendrik ·

Wel dit het nou begin en sal aanhou tot en verby die 2019 verkiesing

jennefer ·

Weet Maroela Media wat geword het van die saak waar 16 kinders ontvoer is? slawe of sex slawe?

Ilse ·

Ek stem saam jou Hendrik. Maar kan ook verstaan hoekom hulle so voel en ek voel ook so. Meeste van ons plaas moorde en misdaad is agv. buitelandse mense wat onwettig in ons land is. As hulle gevang word moet hulle dood terug gestuur word na hulle eie land toe.

Kellies ·

Die laaste sin se Zuma dat almal moet selfbeheersing uitoefen en die wette van die land respekteer!! Hoekom doen hy dit dan nie self nie??

Theresa ·

Iemand moet dit vir hom vra in ‘n onderhoud – sal seker net ‘n gegiggel afgee.

Zuma ·

@Kellies…becaaaz I am da prezident and I can do and say what I want!! Hie hie hie!

Skim ·

Ek lag nou so lekker, as dit nie so tragies was nie, het ek hardop gelag. Een dag dan stem julle saam dat die buitelanders die misdade pleeg om julleself te verontskuldig en die volgende dag is hulle hierdie ‘prestine’ burgers van ons land. Onderskei asb tog tussen die onwettige immigrante en kriminele waarteen die optog is en diegene wat wettiglik in die land woon. Lyk my ons ministers verstaan ook nie daardie verskil nie. Seker hoekom dit lyk soos dit lyk by binnelandse en buitelandse sake.

Nico K ·

Dit is totaal onwaar om te sê die meeste moorde word deur buitelanders gepleeg. Dit is ons eie burgers wat dit doen. Glo julle werklik misdaad gaan ophou as ons geen buitelanders in die land het nie???

o ·

Hier bly miljoene der miljoene onwettige buitelanders in SA en hulle stroom daagliks onverpoosd in. Ek glo nie enigiemand het ‘n idee hoeveel hier is nie en ook nie watter skade dit die land ekonomies en maatskaplik berokken nie. Ons swaarverdiende belastinggeld word gebruik om vir almal gratis mediese sorg, roof-elektrisiteit, ens te verskaf. Die werkloosheidsyfer wat deur die regering verskaf word, is ‘n druppel in die emmer in vergelyking met die harde werklikheid. En ons moet ALMAL welkom laat voel nie ongelukkig wees nie. Droom voort mnr ZUMA!!!

simon ·

Van my kinders het na die buiteland ge-emigreer.
Hulle is dus immigrante in daardie lande.
Is hulle nou noodwendig kriminele daar?
Ek vra maar net.

Theresa ·

Nee Simon, natuurlik nie. Maar sou hul in die buiteland probeer om op straat te sit, langs die stroompies te plak; sonder dokumente so ‘n land te betree, ens. ens. – ja dan val hul in die klas van die hordes tussen die miljoene wat instroom sonder wettige dokumente.

Theresa ·

En by the way: hul sou nie een van bogenoemde kon doen sonder om baie vining gearresteer te word nie. So nee, ek glo verseker nie hul sal as misdadigers geklas word nie, want hul sal hulself wettig en ordelik gedra.

o ·

Simon, nee. Jou kinders het deur ‘n baie lang en duur wetlike proses gegaan om te kon emigreer.

Jaco ·

Dis een van die goed waarvan ek hou van ons swart Suid Afrikaners, hulle kan saamstaan en weet hoe om te baklei vir n ding al moet hulle bietjie soms ekstreem gaan waarmee ek nie heeltemal saamstem nie, maar hul voel dis dalk al hoe hul die regering se aandag kan trek. Die swart Suid Afrikaners loop net so deur onder moord en roof deur hierdie lot wat oor ons grense stroom, ons almal is moeg daarvoor! Wit, swart en bruin! My swart studente het my ook al vertel hoe gedaan is hul vir die misdaad in die townships, en meer as die helfde van die kriminele kom van bo uit Afrika! Waar is die wit landsburgers wat so kla en kreun, hoekom betoog hul nie op n vreedsame wyse saam nie? Ek glo nie almal is vasgevang by die werk nie!!

Oom Walker ·

Volgens talle berigte elders in die media verloop die betogings in Pretoria gladnie vreedsaam nie. Dit lyk eerder na net nog ‘n verskoning om weer te breek en te plunder!

Rynhardt ·

Oopgrense word n groot probleem vir SA.Mosambiek en Zimbabwe staan op die rand van ekonomiese ineenstorting.Betogings raak al groter probleem in land en met bogenoemde probleme van oopgrense steek jy die kruitvat met mening aan die brand in SA!

Piet Pompies ·

By ons klein winkelsentrum was daar drie winkels wat deur Mosambiekers besit was, die een het klere verkoop, die ander klein elektriese ware en die ander ‘n haar salon.
Die winkels het 10 jaar plus bestaan tot so ‘n maand terug toe almal gevang is met dwelm handel.
Gedurende 1985 het baie vakleerlinge nie werk (aanstellings) kon kry omdat Yskor ambagsmanne vanuit Britanje ingevoer het, ek was een van hulle.
Dit is nie aangenaam dat ‘n buitelander bo jou gekies word vir werk in ‘n land wat jy in gebore is.

gatiep ·

Ek sou ook teen die imigrante gewees het as ek nie self ook soos n imigrant gevoel het nie.
So ek kies nie kant hier nie die ouens moet dit maar uit self uit baklei.

vermeende ·

Maroela dra jylle kennis van die moorde wat gister op uitlanders gepleeg is en die dreigement van uit Nigirie op SA burgers en hulle besighede.
Twitter en FB is nou wel nie Afrikaans nie maar nuus wat my raak is daar selfs die videos van die moorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.