Polisie glo deel van kapingsindikaat

Argieffoto

Drie mense, twee van hulle wetstoepassingsbeamptes, is Dinsdag in hegtenis geneem kort nadat hulle ’n vragmotor na bewering gekaap het.

Die verdagtes is glo deel van ’n sindikaat bestaande uit verskeie verkeers- en polisiebeamptes wat vragmotors op Gauteng se snelweë kaap.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sê ’n lid van die Ekurhuleni-metropolisie se BBP-beskermingseenheid, ’n lid van die polisie se blitspatrollie, en nog ’n lid van die publiek is gister in ’n voertuig met vals nommerplate in die Johannesburgse middestad opgemerk.

’n Lid van die nasionale verkeersdepartement se teenkorrupsie-eenheid het as gevolg van die nommerplate onraad vermoed en besluit om die voertuig se bewegings te monitor terwyl hy lede van die polisie se eenheid vir misdaadintelligensie en die provinsiale hoofwegpatrollie se hulp ingeroep het.

Die gesamentlike span het die verdagtes voorgekeer en in besit betrap van vuurwapens wat deur die staat uitgereik is.

Verdere ondersoek het later onthul dat die verdagtes vroeër glo ʼn volgelaaide vragmotor in Strydompark in Randburg afgelewer het.

Volgens Zwane is die verdagtes na bewering deel van ʼn sindikaat wat verskeie vragmotors op die R59, N3, Klipriviersweg en ander roetes in Gauteng gekaap het.

Die ondersoek duur voort. Die moontlikheid van nog inhegtenisnemings kan nie in dié stadium uitgeskakel word nie, sê Zwane.

Adv. Makhosini Msibi, uitvoerende hoof van die RTMC, het intussen die inhegtenisnemings as ’n belangrike deurbraak in die stryd teen vragmotorkapings in Gauteng bestempel.

“Daar was baie klagtes en bewerings oor die betrokkenheid van wetstoepassingsowerhede by hierdie gruwelike misdaad en hierdie inhegtenisnemings sal ʼn vernietigende impak op die sindikaat hê.”

Lede van die publiek word versoek om inligting wat van waarde in die ondersoek kan wees na 083 293 7989 te WhatsApp of per e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Megan Swart ·

Dagsê Manie
Hoewel ‘valse’ nie verkeerd is nie, het ons die artikel gewysig.
Dankie! Groetnis.
Megan
nms Maroela Media

Pierre ·

Kriminele met “Badges” en SAPS verwag respek, die land se wetgewing is van binne gerot.

Kokerboom ·

Die kriminele het reeds ‘n vragmotor afgelewer maar hul word as beweerde kapers gelys!!!Wolf is as skaapwagter aangestel. Poligraaftoetse moet jaarliks op polisie gedoen word

Misky ·

Ag nee heng, dis skandelik!!!! En dan wonder hulle hoekom ons nie die polisie vertrou en respek toon nie. 95% van hulle is skelm en korrup. Sies Cele

ES ·

Word die vrot kol nou onthul – ek dink ons sal sidder as ons weet hoe baie beamptes werk saam met sindikate omdat hul in ‘n posisie is waar hul maklik toegang tot wapens het.

Dries ·

Ek het n paar jaar gelede n inbraak by my besigheid gehad. Toe die sekuruteit wat ek aan behoort, daar opdaag, was die polisie reeds daar. 340 kledingstukke het voete gekry, insluitende duur leerbaadjies. Die inbrekers is nooit opgespoor nie.

Stefan ·

Ek het dieselfde gehad met ‘n inbraak by ons huis.
My foon aan die laaier gesit terwyl die polisie ‘ondersoek’ ingestel het, ewe later is dit weg en na my vraag daarna sè hulle ewe blattant/aggressief, beskuldig ek hulle nou? Ek kan dit mos maar gewoon by die versekeringeis bysit, wat is my probleem.

Maggies ·

Ek het nog altyd gesê dat daar sulke ongerymdhede plaasvind omdat die polisie en staatsdiens amptenare (sommige korrupte persone) deel is van die komplot. Sindikate kan nie bestaan sonder hulp van die (korrupte) owerhede nie.

Stefan ·

Gaan ons nie beter af wees sonder polisie maar met die volste reg om jouself, familie en eiedom te beskerm?

Elize ·

Eers wanneer minister persoonlik verantwoording moet doen oor die toestand van hulle portefeuljes sal dinge verander. Iemand moes hierdie skelms in diens geneem het??

Louise ·

Nee wat ek is mos nou glad nie verbaas nie
Doen ons nog n sogenoemde “Background Check” wanneer daar aanstellings gemaak word by die Polisie Diens. Is daar die nodige opleiding… Het die persone ooit kwaliikasies om in die pos te wees. En so kan ons aangaan, hulle gaan geskors word met n salaris ELKE Maand. Lekker liewe land van ons

Mariana ·

SA is deesdae soos fliek. Regte rampokker flieks. Dis eintlik aan een kant ‘n komedie ook. Lagwekkend en skandalig……..en regering voel minder as niks, solank hulle net hul “cut” kry. Cele beslis nie regte ou vir die joppie nie. Hy doen nie sy werk nie. Oor die algemeen val polisie uit mekaar en nou boonop is die kriminele sommer byderhand want hulle is in die polisie. Daar moet vinnige veranderinge intree vir ons land anders gaan dit nie gered kan word.

Nie Verbaas ·

En so Cele word die polisie by die dag meer korrup en minder gerespekteer.

Dup ·

Gebore aartsskelms….hulle is goed verteenwoordig op alle vlakke van ons samelewing.
Dit is waarom ons elke dag hoor en lees van nuwe korrupsie en bedrog gevalle.

Genis ·

Ou Cyril “our people man?” jy is seker trots op julle opvolgers, goed geskool op alle vlakke? Nes die ANC se top kaders…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.