Polisie glo traag om op betogings te reageer

(Foto: National Education Health and Allied Workers’ Union/Facebook)

Wetstoepassingsowerhede word gekap oor hul reaksie op Maandag se beplande staking van die vakbond Nehawu.

Die VF Plus in Noordwes sê dié provinsie se polisie was nié voorbereid op die protesaksie nie en het in sekere gevalle eers ná sowat twee uur op die toneel aangekom om in te gryp. Betogers het in daardie stadium reeds vir grootskaalse ontwrigting by staatshospitale in Noordwes gesorg.

Ambulanse is by sommige hospitale weggewys en aangeraai om pasiënte na nabygeleë klinieke te neem wat nie toegerus is om ernstige noodgevalle te hanteer nie. Sommige pasiënte het ook te geïntimideerd gevoel om hospitaalterrein te betree, aldus Erns Kleynhans, ʼn VF Plus-wetgewerlid in Noordwes.

Dit ten spyte daarvan dat die departement van gesondheid op 24 Februarie ʼn kennisgewing oor die beplande staking ontvang het.

Noordwes se LUR vir gesondheid, Madoda Sambatha, het intussen op ʼn navraag van die VF Plus bevestig dat hy bewus was van die beplande protesaksie.

Die VF Plus in Noordwes beplan nou om die LUR en die provinsiale kommissaris van polisie, lt.genl. Sello Kwena, te skakel om te verseker dat gesondheidswerkers binne die reg optree.

Die party gaan ook vra dat daar opgetree word teen stakers wat toegang tot noodsaaklike dienste belemmer.

“Dit is onaanvaarbaar dat die reg op protes verhewe is bo die reg van pasiënte op gesondheidsorg en selfs op lewe,” sê Kleynhans.

Maroela Media het vroeër berig betogings is vandag (Maandag) buite verskeie hospitale en distrikskantore in onder meer Gauteng, Noordwes en die Vrystaat aangemeld.

Die stakings het geskied ten spyte van ʼn dringende interdik wat die departement Saterdag teen Nehawu bekom het om die protes te stuit. Nehawu het aangedui dat hy teen die interdik gaan appelleer.

Nehawu is een van die vakbonde betrokke in ʼn loongeskil met die regering. Die departement van staatsdiens en administrasie bied ʼn salarisverhoging van 4,7% aan, terwyl vakbonde salarisverhogings van tussen 10% en 12% eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wit Leeu ·

Niks beters verwag van die kastige polisie nie ! Useless soos gewoonlik !

Althes ·

Moontlik is die polisielede self keelvol dat hul slegs met 3%verhoging oor die weg moet kom en daarom traag om op te tree teen betogings.

Frank ·

Nonsens, die polisie is traag om op te tree teen amper enige betoging tensy dit hulle politieke meesters pas

Kurt ·

Sou graag wou weet of hulle die hospital sou stop as hulle geskiet is. Sou dan seker gou die staking stop sodat hulle behandel kon word

Nico ·

Alweer die unies wat in beheer van SA is, die president sit met gevoude arms op sy stoep.

Jr ·

Nee volgens die media het hy hulle “geraadpleeg” oor sy kabinet aanstellings. HOEKOM? Wel ons ken die antwoord
Unies = stemme

Danie ·

Die polisie watter polisie maak nie sin nie is maar net daar vir salaris en voordele.

Suzette ·

Dit is hoe dit werk in die land – hulle is nie daar om op te tree nie, hulle monitor net….

Papsak ·

Nee pateties hulle kry meer as genoeg pay om hulle werke te doen maat hulle wil nie beste gee nie

Emily ·

Diens in die land bestaan ni meer ni
Dis nou net n korrupte spul idiote wat probeer voorgee hulle ken di wet
Kyk bietjie na SAPS Wat sien julle
Gee net n omkoop ding en hulle kyk anderpad
Hulle is in die werk vi geld NIE om diens te lewer ni

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.