Polisie gryp in by Bloem-stortingsterrein

’n 31-jarige vrou by een van die onwettige strukture is in hegtenis geneem vir die beweerde besit van dwelms (Foto: Verskaf)

Die Bloemfonteinse stortingsterrein is dalk waar jy van jou vullis ontslae raak, maar dit het nou ook ʼn broeiplek vir misdadigheid geword.

Dít volgens Valerie de Kock, VF Plus-raadslid in die Manguang-metro, nadat wetstoepassingsowerhede onlangs op ʼn onwettige taverne wat by die terrein bedryf word toegeslaan het. Daar is glo ook dwelms gesmous. Verskeie mense is in hegtenis geneem.

’n Taakspan bestaande uit verskeie polisie-eenhede, die departement van binnelandse sake, die departement van korrektiewe dienste en beamptes van die Mangaung-metro het Vrydag ’n klopjag op onwettige strukture wat by die stortingsterrein opgerig is, gedoen (Foto: Verskaf)

’n Taakspan bestaande uit verskeie polisie-eenhede, die departement van binnelandse sake, die departement van korrektiewe dienste en beamptes van die Mangaung-metro het Vrydag ’n klopjag op onwettige strukture wat by die stortingsterrein opgerig is, gedoen.

“Die strukture is deursoek en daar is 12 Mandrax-tablette en nege sakkies metamfetamien [bekend as tik] gevind,” het lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, gesê.

’n 31-jarige vrou by een van die onwettige strukture is in hegtenis geneem vir die beweerde besit van dwelms en ʼn 48-jarige man is in hegtenis geneem vir die onwettige verkoop van drank. Die polisie het ook op bier en ʼn 12,5 kg-mieliemeelsak vol gedroogde daggablare beslag gelê.

“Compaq-, Hewlett-Packard- en Sony-skootrekenaars, selfone en kopermateriaal is ook tydens die soektog in die strukture gevind,” sê Covane.

Altesaam 14 onwettige immigrante, onder wie 10 mans en vier vroue tussen die ouderdomme van 18 en 45, is in hegtenis geneem. Hulle het op die stortingsterrein gewoon.

Verskeie sake is by die Kagisanong-polisiestasie aanhangig gemaak en die verdagtes is tans in aanhouding. Hulle sal vandeesweek in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

De Kock sê die bedrywighede op die stortingsterrein hou ʼn groot gevaar vir die veiligheid en sekuriteit van omliggende gemeenskappe in. En dit duur al sowat 15 jaar lank voort, sê sy.

“Lede van die publiek is al oor die jare by die terrein aangeval en beroof, onder andere my man en pa in 2009,” vertel De Kock.

Sommige inwoners van Bloemfontein neem self hul vullis na die stortingsterrein omdat die munisipaliteit versuim om dit op ’n gereelde basis te doen.

“Dit is egter ’n groot gevaar omdat dit uiters gevaarlik en ontoeganklik daar is.”

Tydens Maroela Media se besoek was dit duidelik dat die vullis nie eens meer net op die aangewese terrein gestort word nie. Hope vullis besaai ook die pad na die stortingsterrein.

De Kock sê die VF Plus verwelkom die owerhede se ingryping, maar meen die probleem is steeds nie wortel en tak uitgeroei nie.

“Alle wetstoepassingsagentskappe moet onmiddellik optree om hierdie kwessies te pak en ʼn einde te maak aan hierdie onwettige bedrywighede.

“Die munisipaliteit moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir die bestuur en monitering van die stortingsterrein, om te verseker dat dit vir die beoogde doel gebruik word en om die nodige regulasies toe te pas om enige verdere onwettige aktiwiteite te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cindy ·

As beheer toegepas was soos dit moes sou die plakkers nooit die kans gehad het om tavernes / huise / winkeltjies op te slaan nie. Als word mos gelos en oorgesien en skielik een dag besluit die wetstoepassers dit pla hulle nou. Hoekom nie dadelik iets aan die saak doen nie? Hierdie situasie kom al vir jare aan, dis nie ‘n nuutjie nie. Bloem het in ‘n vullisgat ontaard as gevolg van swak munisipale bestuur. Dis bitterlik hartseer, dit was my hartsplek, my geboorteplek.. wat ons eventueel moes verruil het vir die skoon Tuinroete waar die munisipaliteit werkend is en paaie heel. Bloem is onveilig en vuil.

annie ·

Daar was glo al baie versoeke oor die gevare en ongewenstheid van die hole maar die munisipaliteit lief chaos.

domheks ·

Dit is nie net in Bloemfontein nie! Dit gaan orals so. Onveilig om vullis te gaan aflaai.

Jaco ·

Vreemd dat ‘n ANC beheerde munisipaliteit mag optree teen onwettige strukture, maar die DA in Kaapstad WEIER VOLSTREK om sulke goed af te breek, want dit skend glo “menseregte”.

De Bok ·

Dit is glad nie so vreemd nie, dit is heeltemal in lyn met die ANC se optrede tot dusver, en heeltemal in lyn mer die DA se beginsels.

Manie ·

Baie waar, daar in bykans geen brug in Kaapstad waar daar nie onwettige strukture opgerig is nie. Dis nou goeie advertensie vir DA beheerde Kaapstad.

Di ·

Tyd dat hierdie regering van AL die immigrante onstslae raak! DIT is een van ons land se grootste probleme! Vandat almal welkom is om hier te kom plak het alles verval in riool status en misdaad het met ‘n groot tempo toegeneem. DEPORTEER die hele spul terug waar hulle vandaan kom

Republikein in die Wes Kaap ·

Die hool is verby die kantelpunt. Dis nou te laat vir deportasie. Van die buitelanders is met plaaslikes getroud en/of het kinders wat hier gebore is. Hulle is nou my en jou verantwoordelikheid.

Bulkalf ·

Jy is doodreg, van hulle is al so lank hier, dat hulle selfs beter Afrikaans kan praat as ek.

KAIROS ·

Nie die enigste storting terrein wat so lyk nie . Die stortingsterreine is n broei grond vir werklose mense en onheilige aktiwiteite . Hulle leef op wat mens weggooi en vandaar begin hulle ander dinge doen. Dit is eintlik n wonderlike idee vir n Deon Meyer om n romantiese stuk daaroor te skryf. Slum dog millionaire se moses….. Kom van niks en maak vir homself n floreerende besigheid

Papsak ·

Ag wys jou weereens hulle kan nie dink nie seker gedink niemand gaan hulle uit vang nie daarom op ashope gaan smous het kry vir julke slaan hulle hard

Anel ·

Al weer buitelanders! Net soos die asblikgrawers en baie “karwagte”! Meeste onwettige immigrante. En die verskoning van getroud is met iemand hier, moet ook nou beginne stop. Maak soos ander lande. As jy trou met ‘n uitlander moet hy eers terugkeer na sy eie land en daar aansoek doen vir visum, “spousal visum”. Maar dit kos mos geld. Gaan kyk wat maak hulle met jou in Botswana. As jy inkom kyk hulle en as you tyd verstreke is gaan soek hulle vir jou. Jammer ons het te slap geword hier. Almal is mos welkom!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.