“Polisie het lede aangerand” – EFF

Foto: @JackBloomDA / Twitter

Foto: @JackBloomDA / Twitter

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) beweer die polisie het twee van sy lede aangerand toe hulle Dinsdag gedwing is om die provinsiale wetgewer in Gauteng te verlaat oor hul kleredrag.

Ntombi Mekgwe, die speaker, het die EFF-LPW’s versoek om die raadsaal te verlaat weens hul “ontoepaslike kleredrag” wat hulle tydens die sitting gedra het.

“Die lede het gewag vir samesprekings om te begin toe die speaker opgemerk het dat daar persone in die raadsaal is wat nie toepaslik geklee is nie,” het Omphile Maotwe, die EFF se woordvoerder van Gauteng, gesê. “Terwyl ons gewag het dat die speaker moes verduidelik watter tipe kleredrag toepaslik sal wees vir die wetgewer, het polisiebeamptes ons lede gewelddadig verwyder.”

Maotwe beweer dat Benjamin Disolwane, die party se provinsiale leier, hardhandig hanteer is. “Die polisie het hom ook verkeerd geboei en hy is gevolglik beseer en moes behandeling ontvang.” Sy sê Mgcini  Faku is na ʼn dokter geneem vir “dringende” mediese behandeling.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie sal op die beweringe reageer sodra ʼn saak aanhangig gemaak is.

Times Live het vroeër berig die polisie is ontbied om sewe lede van die EFF uit die provinsiale wetgewer in Gauteng te verwyder.

Mekgwe het glo opdrag gegee dat die LPW’s die raadsaal moet verlaat omdat hul kleredrag nie toepaslik is nie. Sy het gesê die EFF se rooi oorpakke is onvanpas, aangesien die woord “Asijiki” (ons sal nie terugtrek nie) op die rugkant verskyn, en sy dit as ʼn party-kenteken beskou.

Volgens die berig kon die polisie nie daarin slaag om die lede te verwyder nie. Die lede het geweier om die raadsaal te verlaat en die vergadering moes uiteindelik verdaag word.

LPW’s van die ANC en DA het die raadsaal verlaat, terwyl die sewe EFF-lede bly sit het. Hulle was vasbeslote dat hulle nie die perseel gaan verlaat nie.

Televisie-monitors wat die sitting uitgesaai het, is afgeskakel en persone is versoek om die publieke en mediagalery te verlaat. – SAPA

Lees ook:
Foto’s: Polisie gevra om EFF uit wetgewer te verwyder

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Marietjie ·

Hulle het geweet hulle is verkeerd en is net arrogant verby. Die vergadering het verdaag en hulle het gewen. Sluit hulle toe en as dit hardhandig moet geskied – laat dit dan so wees, maar aanranding en “dringende” mediese behandeling grens aan lagwekkend.

Theresa ·

Wat ‘n spul narre is hulle net nie. Ek skaam my dood om te sê ek bly in Suid-Afrika. Oorsee se mense geniet seker hierdie sepie terdeë.
Niemand weet hoe om hierdie mense te hanteer nie en almal is “bang” vir hulle. Malema se mooi praatjies oor die wittes voor die verkiesing (het almal geweet) is net ‘n foefie. Kyk hoe gaan dit nou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.