Polisie hof toe gesleep oor vuurwapenamnestie

Argieffoto: SAPD

Die nasionale jag-en-skietvereniging van Suid-Afrika (NHSA) het Maandag ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die vuurwapenamnestie wat op 1 Desember 2019 in werking getree het, ter syde te laat stel.

Die NHSA wil die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dwing om met vuurwapenbelangegroepe in gesprek te tree ten einde ʼn sinvolle amnestieproses in werking te stel wat in belang van wetsgehoorsame burgers is. Dr. Herman Els, uitvoerende voorsitter van NHSA, sê oor die afgelope 28 maande wou die SAPD glad nie met vuurwapenbelangegroepe in gesprek tree nie en is hul planne duidelik om vuurwapeneienaars nie billik te behandel nie.

“Die NHSA is daarvan oortuig dat die huidige amnestie niks goeds vir vuurwapeneienaars inhou nie. Dit is duidelik dat die amnestie as instrument gebruik word om alle vuurwapeneienaars wie se vuurwapenlisensies verval het, onder onredelike druk te plaas om daardie vuurwapens by die polisie in te gee.”

Hoewel vuurwapeneienaars binne 14 dae ná indiening vir ’n nuwe lisensie aansoek kan doen, sal daardie vuurwapen in die polisie se besit bly totdat die aansoek afgehandel is. “Dit sal waarskynlik maande duur en niemand weet hoe die polisie die aansoek sal hanteer nie, want hulle wil, wat hulle beskou as ‘oortollige’ en ‘ongewensde’ vuurwapens, minder maak.”

Els wys daarop dat talle vuurwapeneienaars weens omstandighede buite hul beheer nie betyds aansoek kon doen vir die hernuwing van hul lisensies nie.

“Hierdie mense wil graag hul vuurwapens wettig besit, maar omdat lisensies weens verskeie redes nie betyds hernu is nie en verval het, moet hulle nou daardie vuurwapens tydens die amnestie ingee onder die polisie se verskuilde agenda. Dit is algemene kennis dat die polisie volgende jaar ’n wetswysiging wil deurvoer waarvolgens die publiek nie toegelaat sal word om vuurwapens vir selfverdediging te besit nie.

Bheki Cele. (Foto: Henk Kruger/ANA)

“Die NHSA glo die Wet op die Beheer van Vuurwapens maak voldoende voorsiening om hierdie probleem reg te stel, want dit laat die nasionale polisiekommissaris toe om op goeie rede tydperke te verleng sodat persone hul lisensies ná die vervaldatum kan hernu, sonder om hul vuurwapens in te handig en as misdadigers behandel te word,” verduidelik Els.

Volgens Els het die NHSA verlede maand ’n skrywe aan Bheki Cele, minister van polisie, en die nasionale kommissaris gerig waarin versoek is om dringend met hulle in gesprek te tree oor die amnestie en ander vuurwapenverwante aangeleenthede. “Nie eens ontvangserkennings van die skrywes is ontvang nie.”

In die lig van die openlike dreigemente van die minister om mense in hegtenis te neem en te vervolg indien hulle nie hul vuurwapens met vervalde lisensies tydens die amnestie inhandig nie, sien die NHSA volgens Els geen ander uitweg as om ’n dringende hofaansoek te bring om die amnestie ter syde tel laat stel en die polisie in sinvolle gesprekke met vuurwapenbelangegroepe oor vuurwapenaangeleenthede in te dwing nie.

Die minister weet sy amptenare kan nie oral wees om die publiek teen geweldenaars te beskerm nie. Die NHSA versoek die minister om gewoon sy plig na te kom en nie weerlose wetsgehoorsame landsburgers aan gewelddadige kriminele uit te lewer omdat hy hulle vuurwapens van hulle af weggeneem het nie.

Els beveel aan dat persone wat beplan om aansoek te doen vir ’n lisensie onder die amnestie, nie in hierdie stadium vuurwapens as deel van die amnestie ingee totdat die uitslag van die hofsaak bekend is nie. “Dit bly natuurlik mense se eie besluit om nou reeds vuurwapens onder die amnestie by SAPD in te handig,” sê Els. Die uitspraak in die hofsaak word binnekort verwag.

“Persone wat wel van hul vuurwapens vir vernietiging wil inhandig, kan dit by hulle naaste polisiestasie gaan ingee teen geskrewe bewys sodat die vuurwapen teen hulle name verwyder kan word. Onthou om ook die ammunisie vir die betrokke vuurwapen in te handig anders is jy onwettig in besit daarvan as jy nie ’n ander vuurwapen in daardie kaliber besit nie. Dit is waarskynlik selfs beter om die ammunisie aan ’n vriend te skenk wat oor ’n geldige lisensie vir dieselfde kaliber vuurwapen beskik,” sê Els.

Die NHSA se besware teen die huidige amnestie en die manier hoe dit in werking gestel is, sluit in:

  • Die NHSA glo mense is geregtig om hulself met vuurwapens teen gewapende kriminele te verdedig omdat die polisie nie oral kan wees nie;
  • Die NHSA beskou die amnestie en die voorgestelde wetswysigings as ’n ernstige poging van die SAPD om onbeskermde wetsgehoorsame burgers te ontwapen;
  • Dit is onaanvaarbaar dat vuurwapens met vervalde lisensies onder die amnestie by die polisie ingehandig moet word as eienaars vir “nuwe lisensie” mag aansoek doen. Dit is duidelik dat die polisie nie hulle eie vuurwapens en ammunisie kan oppas nie en dat die publiek se vuurwapens uit die polisie se besit kan “wegraak”;
  • Dit is bekend dat die polisie tydens die motivering van die amnestie verskeie onwaarhede aan die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie voorgehou het. Die komitee is ingelig dat die amnestie tot ’n afname in geweldsmisdaad sal lei terwyl daar tydens die vorige twee amnesties geen van die 122 783 vuurwapens wat ingehandig is, met enige misdaad verbind kon word nadat al die ballisties toetse afgehandel was nie;
  • Dit is hoogs onwaarskynlik dat enige misdadiger ʼn vuurwapen sal inhandig ingevolge die voorwaardes van die amnestie, aangesien hulle maklik opgespoor kan word indien die vuurwapen wel vir misdaad aangewend is;
  • Daar is ook aan die parlementêre portefeuljekomitee vertel dat die polisie nie die amnestie aankondig om vuurwapeneienaars met vervalde lisensies te teiken nie, terwyl dit blyk dat die polisie met hierdie amnestie juis hul oog het op die ongeveer 450 000 vuurwapens met vervalde lisensies wat in daardie groep val;
  • Die polisie het die parlement oor belangrike aspekte mislei en nie die korrekte prosedure vir die aankondiging van ’n amnestie nagekom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JZ ·

Geen ander rede as om mense te ontwapen sodat hulle hul nie kan verdedig nie

Lorraine ·

Die ergste is dat as jy wel hernu daar nie altyd personeel beskikbaar is om jou by polisie stasie te help nie. En moet nooit eers op Vrydag probeer nie dan weier hul om jou te help.

ES ·

Ek is bly die SAPS word in die hof aangevat. Die sogenaamde amnestie is in elke geval nie enigsins ‘n faktor wat gaan bydra tot inhandiging van onwettige vuurwapens nie. Hulle probeer net die wettige eienaars wie se lisensies skrik op die lyf jaag sodat hulle die vuurwapens moet inhandig…

Ek dink die NHSA het ‘n goeie kans om die hof in hul guns te laat besluit.

Dirk ·

So SAPS wil die wettigge vuurwapens verminder in samelewing sonder om iets aan onwettigge vuurwapens te doen. Ja dit maak beslis sin! Misdaad gaan defnetief tot nuwe rekord laagte val.

lion ·

Ek het nou al amper 2 jaar terug my wapen ingehandig by ons Sap ,ek het all die dokumentasie gekry en voltooi,die sersant het gese ek kan terug kom en aansoek doen om my vuurwapen lisensie te kom hernu,elkke keer as ek terug gaan se hulle net ek moet wag-ek hoop my wapen is nog in hulle kluis en nie al vernietig nie-ek het ook my groen lisensie ingehandig saam my wapen,ek het darem nog die bewys van my inhandiging

Grysburger ·

Onthou: GROEN IS GOUD. Al het iemand se sg “wit” lisensiekaart verval en daardie persoon het nog ENIGE lisensie wat onder die vorige Vuurwapenwet uitgereik is, is die persoon nog in wettige besit.

Dit is agv die 2009 Prinsloo uitspraak en verskeie vuurwapenverenigings handhaaf daardie standpunt. Die SAPD lieg gewoonlik deur te beweer dat die Prinsloo uitspraak slegs van toepassing is op wapeneienaars wat nooit na die wit lisensie oorgeskakel het nie.

GROEN IS GOUD

Grysburger ·

Onthou: GROEN IS GOUD.

Diegene wie se sg “wit” lisensiekaart verval het, is steeds wettiglik in besit van hul vuurwapen indien hulle nog in besit is van enige lisensie vir dieselfde wapen wat ingevolge vorige wetgewing uitgereik is.

Die toedrag van sake is agv die 2009 Prinsloo uitspraak en talle wapenverenigings se regspanne stem hiermee saam. Die SAPD verkondig egter die leuen dat die Prinsloo uitspraak slegs van toepassing is op diegene wat nooit oorgeskakel het na die “wit lisensie” toe nie.

Hierdie leuen word verkondig om hul baas met die mafia uitrusting se agenda te bevorder.

GROEN IS GOUD

Joe ·

Baie dankie vir die belangrike kommentaar oor die geldigheid van die groen lisensie!

ChrisE ·

Is daar dan nog mense in die land wie se vuurwapens “wettig” is.?

Hanna Hoekom ·

Asof wettige vuurwapens nou ewe skielik die probleem is… Meeste misdaad word met onwettige vuurwapens gepleeg. Feite. Al hoe meer “ongenooide gaste” word op privaat eiendom betrap en geskiet. Dit is moontlik die rede waarom wetsgehoorsame burgers ontwapen moet word: “our people” se vryheid van beweging word so effens ingeperk solank die huis of besigheids eienaars hulself kan verdedig.

Hanlie ·

En wat gaan hulle met al die wapens maak, seker vir hulle “brothers is crime” gee. Ek dink as jy nou jou vuurwapen gaan inhandig jy dit nooit weer gaan sien nie.

PJC ·

Grysburger ek stem 100% saam. Al wat ek doen is om doodstil te sit en die kat uit die boom te kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.