Polisie, inwoners van Richardsbaai raak slaags

Betogings in Richardsbaai in KwaZulu-Natal het tot gewelddadige botsings met die polisie gelei. (Foto: Leon Lestrade/ANA)

Richardsbaai is Woensdag bykans tot stilstand gedwing toe inwoners die strate ingevaar en klaarblyklik self van vermeende dwelmhandelaars en -verslaafdes probeer ontslae raak het.

Dit het gelei tot gewelddadige botsings met die polisie in dié KwaZulu-Natalse dorp, terwyl verskeie voertuie, asook eiendom, in die oproer beskadig is.

Verskeie betogers is in hegtenis geneem.

Die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Nomusa Dube-Ncube, het gesê die regering het sedertdien ingegryp om die geweld, wat sakeondernemings én die gemeenskap raak, te stuit.

“Die Richardsbaai-nywerheidsontwikkelingsone (RBIDZ) het die afgelope jaar direkte buitelandse beleggings van meer as R11 miljard gelok wat verskillende sektore van die ekonomie verteenwoordig. Duisende werksgeleenthede is geskep en talle huishoudings is uit armoede bevry.

“ʼn Paar maande gelede het Rio Tinto meer as US$463 miljoen in Richards Bay Mineral (RBM) belê. Die belegging was ʼn bevestiging dat beleggers Richardsbaai kies as ʼn beleggingsbestemming. Ons moet maatskaplike bestendigheid in die gebied handhaaf om nóg beleggings te lok,” het sy gesê.

Dube-Ncube het gesê sommige inwoners is klaarblyklik ongelukkig met “misdaad wat aan die orde van die dag is en veral dwelmsmokkelary”.

“Ons het na klankgrepe geluister en video-opnames gesien van mense wat aangerand word, glo omdat hulle Whoonga gebruik of omdat hulle buitelanders is.”

Vragmotorbestuurders het by die betoging aangesluit en paaie versper.

“As departement is ons bewus van die dooiepunt tussen Suid-Afrikaners en vragmotorbestuurders uit buurlande. Ons wil die sakegemeenskap en ander lede van die publiek verseker dat pogings aangewend word om dít af te weer wat tot ʼn ineenstorting van ons ekonomie, veral die vervoer- en invoerbedryf, kan lei. Ons gaan deel wees van onderhandelings om langtermynoplossings te vind.”

Die LUR het gesê sy gaan Richardsbaai besoek om met die gemeenskap en sakeleiers te vergader.

Verskeie ondernemings het weens die betogings vandag hulle deure gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sakkie ·

Ek sal voorstel die opskrif moet lees Polisie en misdadegers in Richards bay raak slaags.

Almal moeg, maar genoeg is genoeg ·

Vandag was dag 3 wat dit al aangaan die week. Besighede word geraak, mense wat publieke transport gebruik word geraak, kinders wat na en van skole moet gaan word geraak, weens die chaos en die onbekende: wat gaan volgende gebeur, het ouers hul kinders by skole gaan haal en die arme kinders by skole verstaan nie wat aangaan nie, skielik is klasse wat 30 kinders het of 20, binne 2 ure vanaf skool begin het een vir een huis toe tot net n handjie vol oor bly. Geweld, drugs, drank ens, almal is moeg daarvoor, maar genoeg is nou genoeg. Ons kan nie eens na werk inkopies doen nie, want CBD word aangese om vermy te word. Hoop regtig die storie kom nou tot n einde.

Tanya ·

Mooi SA hoe so aan . 1 van fie dae is daar niks meer van jou oor nie.

Uilspieël ·

Slaprug polisie. Kan nie misdaad beheer nie – mense raak keelvol. Protes teen misdaad, maar eiendom word beskadig. Nee wat, dié is nou die land waar die krimineel dikteer. Politici speel HOF jou hier en HOF jou daar en intussen lyk die strate soos iets uit ‘n post -apokoliptiese fliek.

Maljan ·

Gaaaaaap….. Die ongelukkigheid gaan natuurlik daaroor dat hulle, die stakende inwoners voel die reg om dwelms te smokkel is uitsluitlik hulle s’n.

Will ·

Ai tog, die hele SA is gedompel in ‘n miernes van anargie, betogings oor patetiese dienslewering en korrupsie van amptenare. Desnieteenstaande word ‘n ophef van die ou landsvlag deur die Gelykheidshof gemaak. Kom ons noem dit maar “political window-dressing” , want terwyl die land brand, word banale sake onder die vergrootglas geplaas, asof dit die situasie op die grond sal verander. Is dit wat die “nuwe” landsvlag verteenwoordig?

SêNet ·

@ Will – Jy neem die woorde uit my mond. Baie mooi gestel en baie beslis waar woorde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.