Polisie, klante slaags toe daar op drankwinkel toegeslaan word

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die polisie in Mpumalanga het die afgelope naweek met rubberkoeëls op klante losgebrand nadat hulle oproerig geraak het toe daar op ʼn drankwinkel toegeslaan is wat alkohol op ʼn Sondag verkoop het.

Twee mense onder wie ʼn driejarige kind is gedurende die voorval beseer.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het Woensdag in ʼn verklaring gesê polisiebeamptes het Sondag inligting ontvang oor ʼn drankwinkel in Weltevrede naby Siyabuswa wat alkohol aan klante verkoop. Die koop en verkoop van alkohol word gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk slegs vanaf Maandae tot Donderdae tussen 09:00 en 17:00 toegelaat.

Volgens Hlathi het die polisiebeamptes die betrokke drankwinkel besoek waar hulle ʼn werknemer by die betaalpunt ondervra het. Die werknemer het verduidelik dat die eienaar van die drankwinkel haar beveel het dat die winkel selfs op ʼn Sondag moet oopbly.

“Die polisiebeamptes het die vrou in hegtenis geneem waarna klante, wat op die perseel gedrink het, die polisiebeamptes begin omring het,” het Hlathi verduidelik.

Volgens Hlathi het die klante aan die polisiebeamptes gestamp. Hulle het ook die sleutels van ʼn polisievoertuig uit die voertuig verwyder om te probeer keer dat die alkohol waarop beslag gelê is, in die voertuig gelaai word.

“Die polisielede het die klante gewaarsku om terug te beweeg toe hulle besef dat hulle lewe in gevaar is. Daar is egter nie ag geslaan op die waarskuwing nie en die [klante] het net nader aan die polisiebeamptes beweeg. Die polisielede is toe weens die omstandighede gedwing om van rubberkoeëls gebruik te maak,” het Hlathi verduidelik.

Twee mense van wie een ʼn driejarige kind is in die proses beseer. ʼn Saak in dié verband is intussen by die polisie aanhangig gemaak.

Volgens Hlathi het die klante egter bedaar en die werknemer van die drankwinkel is op die toneel in hegtenis geneem. Dié het intussen skuld beken en ʼn boete van R3 000 betaal.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiehoof, het ʼn beroep op die publiek gedoen om wetstoepassers te respekteer en hulle die nodige ruimte te gun om hulle pligte uit te voer.

“Die polisie is daar om die wet toe te pas. Mense moet weet dat daar wette in hierdie land is wat nagekom moet word,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Beatrix ·

R3000 boete….polisie se lewens ook maar min werd. Volgende Sondag verkoop ons maar net weer…..

Mariska ·

Wet of te nie. Ek wonder altyd oor die klikbek wat die polisie bel. Is die persoon nou tevrede? Daar is die arme kassier arresteer en daar was chaos. In ‘n nie-COVID-wêreld het die vrou wat gearresteer is eintlik net haar werk gedoen. Was dit nou vir die klikbek lekker?

Renee ·

Vir R3000.00 glo ek enige drankwinkel sal oopmaak en die wet oortree want ons word gedwing daarna toe ek mag my ouers nie besoek maar ek mag hulle restuarant toe neem en kuier belaglik die regering van ons. Mens kan maar net wonder.

Agge nee ·

Nog een van die regering se belaglike reëls en wette. Drankwinkels mag net Maandag tot Donderdag oop wees. Waarom? Net om te wys ons kan mense dwing om enige twak te gehoorsaam. Dink hulle dat mense minder gaan drink of koop? Kinderagtig om die minste te sê. Klink vir my soos iets wat NDZ uitgedink het.

Pieter ·

Die verkope se wins was sekerlik meer as die R3000 boete, dus steeds n wen vir die eienaar.

Andre ·

“Die polisie is daar om die wet toe te pas.”
Bwhahahaha!
Amper sluk ek my een tand in!

Leon ·

Wat van die rokers. Jammer kopdoek Zuma was nie by ‘n rookplek nie. Dan kon hulle haar uitgesorteer het.

Stofdonkie ·

““Die polisie is daar om die wet toe te pas. Mense moet weet dat daar wette in hierdie land is wat nagekom moet word,” het Zuma gesê”, Kan hy dit nie dalk sommer vir Jacob Zuma ook sê nie? Ag nee wat die publiek maak nou maar soos hulle regering en doen soos hulle luskry. Dlamini kan dan regulasies instel en tekere gaan soos sy wil ongeag die kamstige wette, so die mense het ook nou maar besluit om nes sy die wette te ignoreer. Mooi gedoen. Hoop om sommer meer sulke gevalle te sien waar die polisie bietjie op hulle neus kry.

Persheks Adri ·

Die regering dryf mense na dit toe Stofdonkie! Hul reels en regulasies is net op toepassing van sekere mense. Ons moet maar die tabak fabrieke gaan besoek en gou ook, want 5 en 6 Augustus is nog vrek ver hoor

Persheks Adri ·

Hulle dryf mense om wette te breek met al hul dubbel standaarde en niks wat sin maak nie! Wonder of hul besef hoe nutteloos die SAPD is en almal ook korrup soos die narre in die kabinet. Ons moet wetstoepassers respekteer? Hul het geen respek vir ons nie – respek werk 2 kante toe…

Hoekom is die drank in elk geval oop en jy mag dagga rook, maar nie sigarette nie?

O ja, NDZ maak onwettig geld!!!

Johann ·

Mooi naam wat die “klante” het? Nou wonder ek of hulle “dronk klante” genoem mag word? Of het ek nou net ‘n K woord gebruik?

christo ·

Suid-Afrika se ondergang lê in die totale wetteloosheid wat heers. Die misbruik van alkohol is iets wat al lank algemeen is. Dis nie aangenaam om ‘n dronk pa van sy seun af te trek terwyl hy probeer om sy seun te verwurg nie. Dit terwyl sy skoondogter skree, en dit alles met ‘n een jarige in huis nie. Ongelukkig was hulle almal goed besope terwyl bitter min kos in die huis is.
Ongelukkig weet dronk mense nie hoe om sosiale afstand te handhaaf nie en versprei die Covid-19 virus as gevolg van onverantwoordelikheid. Gesinsgeweld hét toegeneem na die drankverbod opgehef is.

Jr ·

Hy het hulle gevra om wettoepassers te respekteer. Grap van die jaar. HA HA HA HA

Leonard ·

2 goed wat my pla. Die mense wat in die drankwinkel besig was om te drink en die kind wat daar was. Klink meer soos ‘n ‘shebeen’ as ‘n drankwinkel. Selfs voor die hele inperking, mag jy nie alkohol drink op die perseel van ‘n drankwinkel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.