Polisie kom onverwags op kapingsituasie af

Foto: SAPD

Noord-Kaapse polisiebeamptes het Woensdagaand tydens hul roetinepatrollie toevallig op ʼn toneel afgekom waar twee mans deur vermeende kapers met ʼn vuurwapen aangehou is.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het gesê die beamptes het omstreeks 23:00 ʼn wit voertuig en ʼn vragmotor langs die Griekwastad-pad buite Kimberley sien staan. Toe die beamptes nader stap, het die vragmotor in die rigting van Kimberley weggejaag.

Volgens Kock was daar vyf insittendes in die motor. “Die polisiebeamptes het ondersoek ingestel en agtergekom dat twee mans in die motor deur drie ander mans met ʼn vuurwapen aangehou word,” het hy gesê. Die drie mans is op die toneel in hegtenis geneem en daar is toe vasgestel dat die “vuurwapen” ʼn speelgoedvuurwapen was.

Foto: SAPD

Kock het gesê dit het toe aan die lig gekom dat die twee slagoffers se vragmotor waarmee hulle vleis vervoer het vroeër deur sewe mans gekaap is. Vier van die kapers was in die vragmotor wat weggery het toe die polisie opgedaag het. Die vragmotor is later verlate in ʼn veld naby Riviera in Kimberley gevind met die vleis steeds binne die voertuig.

Volgens Kock is die polisie nog steeds op soek na die vier verdagtes wat met die vragmotor weggery het. “Daar is ook vasgestel dat een van die verdagtes wat vroeër in hegtenis geneem is, ʼn polisiebeampte by ʼn polisiestasie in die Noord-Kaap is,” het Kock gesê.

Hy het gesê die drie verdagtes, almal tussen 26 en 31 jaar oud, sal binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Magda ·

dis hoekom daar in die aand ook patrollies moet wees – en die polisie beamptes nie noodwendig net in die Polisie stasie moet sit en wag vir iets om te gebeur nie – Goeie werk dankie SAPD. Hoop julle voorbeeld sal gevolg word.

Hasie ·

Welgedaan SAPD. Jammer oor die VROT appels wat hier en daar insluip. “Wel done” Ek haal my hoed af vir julle wat die skuldiges aangekeer het.

al ·

Knap gedaan SAP! Dis polisiemanne soos julle wat ons trots maak!

zoom zoom ·

Iets Klink nie lekker aan die storie. Wat ek nie verstaan is die trok jaag weg en die polisie doen niks om die trok gestop te kry nie. Sluk swaar aan die verhaal

Hoe nou? ·

Hoe nou zoom zoom? Hulle is daar met een voertuig en het ‘n keuse. Gelukkig het hul die regte besluit geneem. Wys mens hierdie polisielede slaap by die huis, veels geluk.

Afrikaanse Knaap ·

Bevestig net weer wat meeste Suid-Afrikaners weet, en dit is dat daar baie kriminele in die SAPD is.
Kwota beteken mos meer as karakter daar.

Bielie ·

Dis ‘n skande dat daar week in en week uit berigte is van made van die SAPD wat gemoeid is met misdade.

Ek hoop die skelm lede van die SAPD word sommer vir altyd toe gesluit.

Piet Pompies ·

Die optrede maak nie sin, die polisie het op die toneel opgedaag en die swaar voertuig het weg gery en is later verlate gevind. Hoe lank het dit die SAPS geneem om te besef die swaar voertuig moet gevolg word om die kapers te vang? Hoekom op die die toneel bly?

Adele ·

As daar ‘n onafhanklike background check op alle poisiemanne en regeringsamptenare gedoen word vir kriminele rekord, betyfel ek of daar veel sal oorbly wat skoon rekords het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.