Polisie kry lyk van man wat verdrink het

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

ʼn Man se liggaam is byna twee weke ná sy beweerde verdrinking in ʼn rivier in Kriel, Mpumalanga, gekry. Die oorledene is glo vroeër vandeesmaand saam met ʼn pastoor na die betrokke rivier om daar te gaan bid.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê polisieduikers het Saterdag op die man se liggaam afgekom. Hy is intussen as Eric Tshifhiwa Phaswane (43) van Thubelihle geïdentifiseer.

Volgens Mohlala het Phaswane op 13 Junie in die rivier geval en onder die water verdwyn terwyl hy saam met ʼn plaaslike pastoor van Kriel gebid het.

Die voorval is by die polisie gerapporteer, maar die polisie se duikeenheid kon nie daarin slaag om Phaswane op te spoor nie.

“Die soektog na die man het dae lank geduur sonder enige sukses totdat die duikers Saterdagoggend sy lyk gekry het,” sê Mohlala.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het lede van die publiek versoek om voorsorg te tref wanneer groot massas water besoek word – veral met die onlangse reënbuie wat die dam- en riviervlakke in sommige dele van die provinsie laat styg het.

“Die voorval is uiters betreurenswaardig, daarom vra ons lede van die gemeenskap om ag te slaan op waterveiligheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.