Polisie lê beslag op R1,7 miljoen van bendeleier se bates

Die polisie het op 23 Desember 2016 beslag gelê op 'n selferkende bendeleier se bates ter waarde van meer as R1,7 miljoen in Kaapstad (Foto: SAPD, Wes-Kaap)

Die polisie het op 23 Desember 2016 beslag gelê op ‘n selferkende bendeleier se bates ter waarde van meer as R1,7 miljoen in Kaapstad (Foto: SAPD, Wes-Kaap)

Die polisie in Mitchells Plain het op verskeie persele van ʼn “bekende en selferkende bendeleier” in Kaapstad toegeslaan.

“Die polisie, tesame met die batebeslagleggingseenheid en die direkteur van openbare vervolging het Vrydag beslag gelê op bates ter waarde van R1,7 miljoen,” het sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, gesê.

Die polisie het beslag gelê op die bates, waaronder luukse motorvoertuie, ʼn supermotorfiets, en voertuie van ʼn onderneming wat met die verdagte verbind word, by persele in Lentegeur, Mitchells Plain, Athlone-nywerheidsgebied, Reindeerstraat, Grassy Park en Worcester.

Dit volg ná ʼn uitgerekte ondersoek sedert Desember 2014 toe die polisie beslag gelê het op ʼn groot aantal dwelmmiddels en ʼn groot bedrag kontant in Lentegeur.

Die polisie het, tesame met die batebeslagleggingseenheid, in September 2015 beslag gelê op ʼn groot aantal dwelmmiddels en kontant, altesaam ter waarde van meer as R4 miljoen, by ʼn huis in Grassy Park.

“Die ondersoek duur voort en die verdagtes is in hegtenis geneem, insluitend die selferkende bendeleier,” het Rwexana bygevoeg. Die mans sal na verwagting op 24 Januarie 2017 in die Khayelitsha-prioriteitsmisdaadhof verskyn op meer as 239 aanklagte waaronder dwelmhandel, geldwassery, en ander aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Georganiseerde Misdaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bruno Stef ·

Die Batebeslageenheid tree reg op om beslag te le op die goedere wat deur misdaad bekom is maar wat van die bates wat op n onregmatige wyse bekom is deur persone wat onaantasbaar bokant die wet beweeg en steeds dit ontken.

GES ·

Goeie besluit solank net almal onder dieselfde kam geskeer word.

Margi Johnson ·

Ja asseblief gaan haal die grootste bendeleier in SA en sy ‘gang’ en sleep hulle tot in die diepste see. Hy skuld mos baie meer geld as dit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.