Polisie loof reusebeloning, identikit uit ná konstabel se skietdood

Die Identikit wat die polisie vrygestel het.

Die polisie in Port Elizabeth in die Oos-Kaap het ʼn reusesoektog van stapel gestuur na die verdagtes wat glo ʼn speurder vroeër vandeesweek doodgeskiet het.

Konst. Nonga Ngcingwana is Dinsdag in New Brighton doodgeskiet.

Volgens kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, werk hulle die afgelope 48 uur deurnag saam met taakspanne om die skuldiges vas te trek.

Die polisie loof ook ʼn beloning tot R100 000 uit, na gelang van die waarde en aard van die inligting, vir enige inligting wat tot die suksesvolle inhegtenisneming van die verdagtes kan lei.

Beetge het laat hoor die polisie is op soek na ʼn silwer Toyota Etios waarmee die vier verdagtes gereis het. Die polisie meen hulle is moontlik in die Nelson Mandelabaai-omgewing.

“ʼn Identikit is saamgestel van ʼn persoon van belang vir die ondersoek. Dit is ʼn man tussen 25 en 30 jaar oud.”

Die polisie het enigiemand wat ʼn verdagte silwer Toyota Etios met verdagte insittendes gewaar of wat kan help met die identifisering van die persoon van belang gevra om na vore te kom.

Maroela Media het vroeër berig Ngcingwana is dood toe hy ʼn verdagte voertuig voorgekeer en die insittendes onverwags op hom losgebrand het.

Beetge het gesê die voorval het omstreeks 15:00 in Mendiweg in New Brighton gebeur. Volgens Beetge het die 35-jarige konstabel en sy kollega, ʼn sersant, ʼn verdagte Toyota Etios voorgekeer.

“Terwyl die twee polisiebeamptes uit hul gemerkte polisievoertuig geklim het, het vier verdagtes ook uit die Etios geklim. Die verdagtes het onverwags vuurwapens te voorskyn gebring en op die beamptes losgebrand,” het Beetge gesê. Die konstabel is verskeie kere geskiet terwyl die sersant daarin kon slaag om skuiling teen die koeëlreën te vind.

Oomblikke later het nog ʼn polisievoertuig op die toneel aangekom, onwetend van wat pas gebeur het. Die verdagtes het ook onmiddellik op dié voertuig losgebrand en die polisiebeamptes het teruggeskiet. Ondanks die skietgeveg kon die verdagtes daarin slaag om te vlug, het Beetge gesê.

Die beamptes op die toneel het versterking ontbied en die gewonde konstabel is onmiddellik na ʼn hospitaal gehaas. Hy het op pad na die hospitaal gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marous ·

Jammer daaroor , maar belonings gaan net dit laat vermeerder.

Mich ·

Plaas identikits van kriminele,op reuse ” billboards ” langs ieder en elke hoofweg.

Cherokee ·

Ek is bly om te sien dat belonings nie net uitgeloof word vir plaas-moordenaars nie maar dat selfs die polisieslagoffers score by die polisie se ononderbroke jag na plaasaanvallers.
Die belonings vir inligting oor plaasaanvallers word dus nou uitgebrei om ook die polisie, wat die boere pligsgetrou beskerm, by te staan.

Karolis ·

Die SAPD het ‘n onderliggende probleem, die skurke skiet beter as die lede.

LHS ·

Nee wat, in die geval was die kriminele beslis nie opgeleide enige iets nie ander was al daardie polisielede dood. Maar verseker kon die magslede ook nie doeltreffend optree of weerstand bied nie, op so kort afstand en die adders ontvlug steeds skynbaar sonder enige beserings. Aai, jaai, jaai. Baie veiliger om dekking te slaan agter n voertuig en net daar te bly.

Ralph ·

Cherokee van wanneer af reik die polisie belonings uit vir plaasaanvallers hulle soek nie eers na hulle nie

Peet van Breda ·

Die terreur veldtogte van die sogenaamde vryheidsvegters het n generasie van kriminele in sy ergste vorm as nalatenskap van annargie en magsbeheptheid .

Marius ·

R100000-00 beloning vir die soek van n moordenaar van n Polisie beampte MAAR GEEN beloning vir die soek na PLAAS MOORDENAARS NIE
Wat is die die Polisie beampte se lewe anders as die Boer sin Altwee moet ewe veel aandag kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.