Polisie maak deurbraak in ‘Facebook-verkragting’-saak

Argieffoto

Die polisie in Port Elizabeth in die Oos-Kaap het Vrydag ʼn 33-jarige man in hegtenis geneem in verband met die sogenaamde Facebook-verkragtings wat in dié stad plaasgevind het.

Kapt. André Beetge, woordvoerder van die polisie, sê die man word verbind met altesaam tien voorvalle van verkragting waarin hy na bewering dieselfde werkswyse volg.

Die man kontak glo vroue op Facebook waarna hy met hulle geselsies aanknoop en hulle later nooi vir ʼn drankie. Op die dag waarop hulle ontmoet, voer hy glo aan dat sy oom die meisie sal oplaai terwyl hy in werklikheid dan die meisies oplaai en verkrag.

Volgens Beetge het die jongste voorval op Valentynsdag plaasgevind. “Die voorval het Woensdag omstreeks 21:00 in Motherwell plaasgevind. Hy het aan dié meisie ook gesê dat sy oom haar sal oplaai, maar inderwaarheid was dit hyself,” sê hy.

Die verdagte het die vrou glo in bosse ingedwing, haar met ʼn skroewedraaier gedreig en haar toe verkrag.

“Die polisie ag die man se inhegtenisneming as ʼn deurbraak. Ons wil die gemeenskap waarsku om meer waaksaam te wees wanneer hulle mense op sosiale media ontmoet,” sê hy.

Die verdagte sal Maandag op aanklag van verkragting in die Motherwell-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.