Polisie maak deurbraak ná Stilbaai-plaasmoord

Die laaste foto wat van Heila Kilian geneem is. Dié foto is die oggend van 16 April geneem, ure voordat sy vermoor is. Foto: Verskaf

Vier mense is in hegtenis geneem in verband met ʼn aanval op ʼn plaas buite Stilbaai in die Wes-Kaap waartydens Heila Kilian (63) koelbloedig doodgeskiet is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê dié deurbraak het gekom nadat die polisie Vrydagmiddag toegeslaan het op ʼn perseel in Tweedelaan in Tafelsig waar vier mense besig was om ʼn voertuig te stroop.

“Twee van die verdagtes kon daarin slaag om weg te hardloop. Die ander twee verdagtes is in ʼn wit Nissan-voertuig met die nommerplaat CEY 22919 in hegtenis geneem. Hulle word by die Mitchells Plein-polisiestasie aangehou op aanklag van besit van ʼn gesteelde voertuig,” het Van Wyk gesê.

Die polisie het ook beslag gelê op nóg ʼn Nissan-voertuig wat in die erf gestaan het. Daar word vermoed dat dié voertuig ook gesteel is.

Verdere ondersoek deur die polisie het daartoe gelei dat die ander twee verdagtes ook vasgetrek is. Hulle is aangekla van die besit van ʼn gekaapte voertuig. “Daar word vermoed dat die verdagtes verbind kan woord met die moord en rooftog wat vroeër buite Stilbaai gebeur het,” het Van Wyk gesê.

Maroela Media het vroeër berig Kilian, haar suster, Brenda, Brenda se man, David, en nog ʼn man wat op die plaas bly, Sean, het verlede Maandagaand buite die huis op die plaas om die braaivleisvuur gekuier toe die aanvallers toegeslaan het.

Kilian, wat onder haar familie en vriende beter bekend was as Lovey, het saam met haar man, Hein, in Springs aan die Oos-Rand gewoon, maar was dié aand op die plaas omdat sy vir die week by haar suster gekuier het.

Terwyl die groep nog rustig om die vuur gesit het, het ʼn skoot vanuit die donker geklap en Kilian getref. Sy is onmiddellik dood. Die res van die groep is deur vyf gewapende aanvallers oorval en erg aangerand, tot só ʼn mate dat David sy bewussyn verloor het.

Die aanvallers het later met twee vuurwapens, kontant en ʼn wit Toyota Hilux-bakkie op die vlug geslaan.

Die vier verdagtes, onderskeidelik 24, 25, 26 en 40 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn.

Kilian se oorskot is Vrydag van die Wes-Kaap na Springs gebring. Daar sal Woensdag om 10:00 ʼn roudiens uit die AGS Kerk Lofoord in Springsweg, Strubenvale, in Springs gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lollie ·

So bitter bly dat daar nog polisiemanne is wat werklik hulle werk met erns aanpak. Welgedaan! Die groot hartseer van dit alles is die uiteinde. INDIEN hulle skuldig bevind word watse straf gaan hulle kry?! Môre of oormôre doen hulle weer dieselfde ding. Daar is geen wet en orde meer in die land nie en die krimeneel het niks waarvoor hy skrik nie want hy slaan die gitaar! Ek bid dat hier van hierdie mense voorbeelde sal gemaak word en dat hulle sal boet vir hulle gruwelike dade!

Useless ·

GOEIE POLISIEWERK, nou die howe wat weer pateties gaan wees. .. Helfte gaan weer onskuldig bevind word omdat daar nie GENOEG BEWYSE teen hulle is nie . die ander helfte wat wel tronktoe gaan gaan soos Johan Botha se MOORDENAARS ontsnap . Tussen die regstelsel en korrupte korrektiewe beamptes is die MOORDENAARS einde vd week weer op straat om NOG moorde te pleeg …

Genieve ·

Dis net snaaks dat hulle identiteit net nooit aan die publiek bekend gemaak word nie en welgedaan SAPD vir julle opvolg omtrent hierdie moord.

Michael ·

Goed en wel hulle is vas getrek .Dit bring nie die vrou terug nie en haar famielie moet met die erge hartseer voort lewe terwyl hulle n fees in die tronk gaan he.

Johan ·

Geen verdagte se naam word bekend gemaak voor sy/haar verskyning of pleit in die hof nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.