Polisie maak plan met tekort aan bewysstelle

Argieffoto: SAPD

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ’n kontrak met ʼn maatskappy gesluit om toetsstelle te verskaf vir die insamel van bewysstukke aan die land se polisiestasies.

Dié nuwe verskaffer sal voortaan 13 verskillende stelle verskaf wat onder meer gebruik word om bewysstukke in te samel, onder meer wanneer volwassenes of kinders die slagoffers van seksuele aanranding of verkragting was.

Dit volg nadat lt.genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, vroeër vandeesmaand bekend gemaak het dat altesaam 76% van polisiestasies in Suid-Afrika nie dié stelle vir volwassenes gehad het nie, terwyl ʼn verdere 69% van polisiestasies nie dié stelle vir kinders gehad het nie.

Luidens ’n verklaring wat Sondag uitgereik is, was daar bewerings van korrupsie by die vorige verskaffer en het dit die polisie genoop om nie meer die stelle van dié verskaffer aan te koop nie.

Lirandzu Themba, woordvoerder van polisieminister Bheki Cele, het in die verklaring verduidelik dat die polisie se hoofkantoor vantevore verantwoordelik was vir die verkryging van die stelle by die spesifieke verskaffer en die verspreiding daarvan onder die land se polisiestasies.

“Met die verloop van tyd is die stelle opgebruik, maar nooit vervang nie weens die beëindiging van die kontrak,” het Themba verduidelik.

Die bestuur van die polisie het toe die verskeie polisiestasies aangesê om die stelle op ’n kwotasie-basis aan te skaf. Dit is gedoen soos die behoefte na toetsstelle by ’n betrokke polisiestasie ontstaan ​​ het, in afwagting op die aanstel van ’n nuwe verskaffer.

“Daar is ná ’n streng keuringsproses Vrydag ʼn nuwe kontrak met ’n maatskappy aangegaan om die stelle te verskaf,” lui die verklaring.

Volgens Themba is die eerste besending van die stelle reeds oor die naweek ontvang en na die onderskeie provinsies gestuur om hul bestaande voorraad aan te vul.

Die polisie sal oor die volgende drie jaar op ’n gereelde basis die stelle ontvang waarna dit na polisiestasies in die verskillende provinsies gestuur sal word.

“Ons het die dringendheid van hierdie saak verstaan ​​en dit is spoedig reggestel,” het Cele gesê.

Cele het benadruk dat die polisie misdade teen vroue en kinders prioritiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris du preez ·

Hoe verstaan mense in sekere posisies nie dat jy sekere items moet bestel voor die vooraad op is .Duh !!! .

Dafer ·

Dit gebeur omdat die mense wat in daardie posisies sit nie daar moes wees nie!

Gert van Wierdapark ·

Sal graag wil weet wat die sogenaamde “Streng Keuringsproses” was!?

marous ·

Waarom moet die wittes altyd die gemors openbaar ? Want die spul is almal kop in een mus. Hulle leuens word elke dag oopgekrap maar daar word gelag daaroor.

Stripes ·

Die regering kan mos maar net die ouderdom vir seksuele misdade by kinders verder verlaag. Hulle het dit reeds in die verlede gedoen en kan mos nou maar weer, hulle glo in elkgeval nie daarin nie.

Julie Jansen van Rensburg ·

Laat my nu aan’n geval van baie jare terugdink waartydens ‘n seuntjie in die veld opgetel is – erg vermink, maar nog lewend. Die dokters kon hom nie as seuntjie herstel nie en het hulle hom toe in ‘n dogtertjie omskep – dit was al manier wat sy lewetjie gered kon word – “SY” moet seker nou in haar 30’s wees,indien nie ouer nie…. nee kyk, ek wens iemand wil dit in sekere mense se koppe kry en laat besef dat “WARE MANS VERKRAG NIE!!” NIE hierdie gemors wat DINK hulle is “mans” nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.