Polisie maan motoriste: Wees gewaarsku

Foto: Gautengse departement van verkeersveiligheid, Facebook

Suid-Afrika se adjunkminister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, het Woensdag motoriste landwyd gemaan om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle oor die langnaweek reis.

Chikunga het gesê die verkeer op paaie sal na verwagting drasties toeneem tussen Vryheidsdag op 27 April en Werkersdag op 1 Mei.

“Niemand is veronderstel om te sterf bloot omdat die paaie besiger is oor langnaweke nie. Tog gebeur dit telkemale in Suid-Afrika. Meer as 200 mense is tydens Paasfees op SA paaie oorlede – 75 meer as verlede jaar. Ons moet saamwerk en nie toelaat dat mense so roekeloos is nie.”

Chikunga het ook gesê diegene wat die wet verontagsaam, moenie onder die indruk verkeer dat hulle die verkeerspolisie kan omkoop nie.

Dit volg nadat ʼn 51-jarige senior verkeersbeampte van die Nelson Mandelabaai-verkeersdepartement Woensdag in hegtenis geneem is op aanklag van omkopery.

Daar word beweer dat die beampte R200 van ʼn motoris gevra het om nié ʼn boete uit te skryf nie.

Die verkeersbeampte het vinnig in die hof verskyn en sal op 24 Mei hoor wat die beslissing is.

Brig. Laurence Soekoe, woordvoerder van die polisie, het gesê motoriste moet twee keer dink wanneer hulle padreëls oortree. “Die inhegtenisneming bewys daar is gevolge vir onetiese en onprofessionele optrede deur wetstoepassers. Die Suid-Afrikaanse polisiediens is daartoe verbind om te verseker dat korrupsie en omkopery die nekslag toegedien word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hariette ·

Verkeerspolisie het my man afgetrek en R300 geeis in Ellisras laas week. Ek dink omdat ons toeriste was met n vreemde nommerplaat is hy getarget.

Hennie ·

Baie mense weet bv. nie dat hulle sperstrepe moet gehoorsaam en ook nie verby ander motors moet steek by blinde draaie en blinde hoogtes nie. In plaas van waarskuwings wat op dowe ore val, waarom begin verkeerspolisie nie om die publiek op te voed nie?? Daar is baie maniere om dit te doen, waarom neem hulle nie sulke aksies nie??

Leendert ·

Polisie is nou net net in Coligny in beheer nie, maar hulle het nou ook beheer van die paaie oorgeneem.

Johann Marx ·

‘n Jong bestuurder neem +/- 10 lesse om K53 te bemeester vir die “groot toets”. Daarna word hy losgelaat tussen 30 miljoen mense wat nie ‘n “clue” het van padreëls, padgedrag of die gevaar van motorbestuur nie. Binne ‘n week is hy of sy omring van mense wat nie stop by rooi verkeersligte nie, links verbysteek, u-draaie maak, sperstrepe ignorer, bane verwissel sonder enige aanduiding, ry asof alle paai die Autobahn is, nie verstaan wat “volg-afstand” beteken nie…..en ons verwag daardie jong mense moet aanhou K53 toepas?

Kallie ·

Daar’s ‘n verskil tussen nie die reels ken nie en nie die reels toepas nie. Jy insinueer nou dat mense wat vroeer jare bestuurslisensies bekom het nie behoorlik getoets is nie en jy is verkeerd. Inteendeel ek dink die teoretiese toetse sowat 30 jare gelede was moeiliker. Baie mense moes tot driekeer gaan net om die teoretiese toets deur te kom.

anton ·

Goed gestel Johann M.
Kallie ek dink jy verstaan hom dalk verkeerd.

Jennifer ·

Hier by ons kom duisende vir kode 10, dis maklik om te slaag.

Tilla ·

Ja dit is hoe dit is , my seun het Febriarie gegaan vir sy lisensie na ons n bestuurskool gebruik het ten duurste, op die dag van sy lisensie het my seun die roete saam met die verkeersbeamte voltooi en is my seun gevra of het hy geld waarop hy geantwoord het nee net genoeg om my lisensie te betaal as ek hom kry, die verkeersbeampte sê toe in die geval druip jy. My seun wou weet maar wat het hy verkeerd gedoen, maar die verkeersbeamte sê toe jy het nie genoed opserveer nie. Ek bet toe die bestuurskool en vra hulle hoe werk dit en die swart man sê toe net aai daai een maak so. Ons moet nou weer betaal, maar die keer het ons hom na n ander plek geneem, hoe anders moet n eerlike mens maak in SA?

MS ·

Vanoggend in Pta tussen Eufees en Jean laan wat ‘n 100 zone is, is daar ‘n rooi BMW verby my wat seker +- 180 kmp gejaar het. Daar was by elke brug ‘n kamara gewees, maar dit het hom/haar glad nie gepla nie.

Cherokee ·

Chikunga het ook gesê ‘diegene wat die wet verontagsaam, moet nie dink dat hulle die verkeerspolisie kan omkoop nie’. Dit word opgevolg deur die volgende paragraaf wat sê dat verkeerspolisie omgekoop kan word. Tussen die lyne gelees, moes die waarskuwing eerder aan verkeerspolisie gerig gewees het.

Johannes van Staden ·

Asof die mense agslaan op die waarskuwings ….polisie word eerder hardop uitgelag en gekoggel …sien mos nou jaar na jaar wat gebeur en die statistiek beaam net mooi alles …weteloosheid !

anton ·

Ms, die rooi BMW het seker vals nr. plate op, daarom pla dit hom min.

Willem ·

Ja, dan kry die niksvermoedende wie se registrasie dit eintlik is, die boete oor die pos, en hy moet sy alie af sukkel om te bewys dit was nie hy, of sy voertuig nie….

Pieter ·

Wat beteken die woord onpadwaardig?Dit hoort nie op die pad nie!!!!!! Maar wat doen die verkeersbeamptes vir sulke voertuie en mense gee hom ñ boete wat in elkgeval weggegooi gaan word en laat hom verder ry en paar km verder maak die onpadwaardige voertuig of persoon ñ ongeluk en onodige mense sterf.As hy onpadwaardig is haal hom van die pad af(inpound die voertuig) en as hy op sy selfoon is terwyl hy ry sluit hom toe vir ñ maand

Wiehan ·

Hoe kan iemand die padreëls ken as jy nie vir jou leerling lisensie toets gelees het nie en dit gekoop het. So ook voetgangers (en baie keer nog dronk ook) en foetsryers op snelwee, word ‘n fietsryer op ‘n snelwee dood gery is dit die voertuig bestuurder skuldeisers en nie die fietsryer wat volgens wet nie daar mag wees nie. Om wettertjies te oortree is soon om sonde te doen, die een is nie groter as die ander een nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

Vals nommerplate is ‘n groot probleem. My voorste nommerplaat is 3x nie lank uit mekaar gesteel. Nommerplate is duur. Nou het ek weer ‘n plaat laat maak maar in my motorhuis gebere. Hoekom weet ek nie, seker om te bewys ek HET ‘n nommerplaat.

Bantam ·

Verkeersmanne moet sigbaar wees en padblokkades hou en nie net kameras neersit om geld te in nie

Francie ·

Baie van die verkeersmanne op die N3 beskou hulle maandelikse salaris as sakgeld.
Dit is ook algemene kennis waar jy jou lisensie kan koop, laaste wat ek gehoor het was dit R 300. Die K53 – kennis word nie vereis nie.

Francie ·

My man het ‘n verkeerskaartjie gekry vir een van sy John Deere trekkers wat teen 140 km /uur
naby Oos Londen gevang is. Ons woon in die Vrystaat.

Eben ·

My motor is nou 17 jaar oud en meganies 100%. Dit is beter om ‘n motor te behou en goed instand hou as wat jy ‘n nuwe motor koop en nie die instandhouding kan bekostig nie. Dit is ook hoekom ek nie omgee vir die R13000 wat ek die afgelope jaar gespandeer het nie. Die meeste mense wat motors het gebruik die goedkoopste manier om dit in stand te hou in plaas van die vervaardiger se voorskrifte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.