Polisie met klippe bestook; talle winkels geplunder

korona covid padblokkade polisie afsondering

Polisielede in Kaapstad besig met wetstoepasssingsoperasies. (Foto: SA Polisie)

Lede van die polisiëringseenheid vir openbare orde in Kaapstad het die afgelope paar dae hul hande vol gehad om voorvalle van openbare geweld en plundery te stuit. Terwyl die landwye afsondering voortsleep, word al hoe meer voorvalle van geweld en plundery aangemeld.

Verskeie winkels in die provinsie is die afgelope paar dae besteel en afleweringsvragmotors geplunder, het brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê.

In Vredenburg aan die Weskus het ʼn groep van tussen 300 en 400 inwoners van Witteklip die polisie Woensdag met klippe bestook nadat hulle vroeër ʼn spazawinkel probeer bestorm het. Hulle was glo omgekrap omdat hulle nie voedselhulp ontvang het nie, het Potelwa gesê.

“Die groep het ook die huis van ʼn plaaslike wyksraadslid probeer aanval, maar die polisie kon hulle betyds stuit.”

Vier mense is reeds vir openbare geweld in hegtenis geneem en die polisie hou die situasie steeds fyn dop, het Potelwa gesê.

In Elsiesrivier het ʼn supermark deurgeloop toe sowat 15 verdagtes die winkel gister ingevaar en met produkte laat spat het. Kruideniersware van sowat R3 000 is gesteel. Polisielede was blitsig op die toneel en het vier verdagtes in hegtenis geneem.

Die polisie het ook ʼn inbraakpoging van boewe by ʼn slaghuis wat gesluit was, gefnuik toe hulle die skare betyds uitmekaar kon jaag, het Potelwa gesê.

In Delft het nagenoeg 50 mense ʼn supermark bestorm en met kruideniersware van etlike duisende rande gevlug. Die polisie moes ook ʼn groot skare wat digby saamgedrom het, uitmekaar jaag. Die verdagtes is nog soek.

Potelwa het gesê die voorval in Delft is voorafgegaan deur drie ander voorvalle Dinsdag waartydens verskeie ander winkels gestroop is. Vyf verdagtes is reeds in hegtenis geneem.

(Skermgreep: Twitter)

In Philippi-Oos het ʼn groep inwoners Woensdagoggend ʼn vragmotor probeer besteel deur versperrings in die pad te pak. Die polisie het die groep verjaag en hulle het tot in die nabygeleë Heinzpark gevlug. ʼn Poging om tot by die nabygeleë Watergate Mall te storm is ook gefnuik. Vier mense is vir openbare geweld in hegtenis geneem.

Veral drankwinkels het sedert die aanvang van die afsonderingstydperk deurgeloop. Die verkoop en vervoer van drank is in dié tyd verbode.

Vragmotors wat aflewerings doen, word ook ʼn toenemende teiken en net Dinsdag is minstens vier vragmotors in die Wes-Kaap só geplunder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

ek verstaan hulle frustasies, maar die aflewerings voertuig kon net sowel kos pakkies na ‘n ander deel van hulle gemeenskap vervoer het, nou sny julle net verder jul eie kele af

didiburg

Die mense trek regtig swaar. N squatterkamp het reg langs ons plot opgekom en bedags kom hulle eenvoudig net in en raid die groente tuin met groepe wat staan en toekyk so ons waag nie inmeng nie! Ek dink dinge gaan net erger raak. Ons bid maar elke dag vir ons veiligheid en maak snags beurte om wakker te le en die kameras dop te hou. Ek kan nie verstaan hoe die minister Beki Cele kan se misdaad neem af as ons daagliks sien en hoor hoe daar geroof en geplunder word en mense wreed aangerand word deur publiek, sowel… Lees meer »

Michael 1

Wat ons sien as ordentlikheid en ontferming sien hulle as swakheid .

Willem

Cele dink hy het alles onder beheer groot grap hierdie mense is honger dir sal jy nie in die regering se koppe kry nie. Nou is daar sprake van n verlenging

Stephanus

Cele klop homself op die skouer oor die sogenaamde afname in misdaad in plaas van om hom voor te berei vir die tsunami in misdaad wat voor die deur is. Geen mens kan verwag dat ouers hul kinders van die honger moet laat omkom nie. Daar moet ook besef word dat die hulppakket wat die regering aangebied het, nie volhoubaar is nie. Nogals n goeie resep vir totale anargie.