Polisie moet misdaad met ál minder geld bestry

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Donderdag die polisie se begroting aan die parlement voorgelê – maar ʼn krimpende begroting gaan dit al hoe moeiliker maak om die misdaadgolf te stuit.

Die departement se begroting daal van R99,6 miljard in die 2020-’21-boekjaar tot R97,1 miljard in 2023-’24. Dié geld moet onder meer aangewend word om die agterstande in DNS-toetse te beredder, die chaotiese sentrale vuurwapenregister reg te ruk en meer polisielede aan te stel.

Cele het sy toespraak opgedra aan die 24 polisiebeamptes wat tussen Januarie en Maart vanjaar dood is. Byna 5 000 gewone Suid-Afrikaners is in dieselfde tyd vermoor.

DNS-agterstande

(Foto: Unsplash)

Die enorme agterstande met die verwerking van DNS-monsters is reeds ʼn geruime tyd ʼn ernstige probleem vir die departement en Cele sê hy is diep bekommerd oor die negatiewe uitwerking wat dit op hofprosesse in veral misdade teen vroue en kinders, en in voorvalle van geslagsgeweld, het.

“Swak kontrakbestuur, korrupsie en ʼn gebrek aan leierskap in die forensiese dienslaboratorium-omgewing het die hele land oor só ʼn belangrike diensleweringskwessie onder beleg geplaas.”

Cele sê hy het gevra vir onmiddellike nasionale ingryping, asook drastiese gevolgebestuur in dié verband. ʼn Nuwe kommissaris is reeds vir die afdeling aangestel.

Om die probleme te begin takel, is 127 wetenskaplikes in sleutelposte bevorder en nog 150 poste vir forensiese ontleders is geadverteer.

“Vir ons strek die krisis veel verder as die reuseagterstande wat aangemeld is. Ons plaas ons in die skoene van gewone Suid-Afrikaners wat staatmaak op die uitslag van DNS-toetse om afsluiting te vind oor verkragting, moord en ander verskriklike misdade waaronder hulle geliefdes gely het.

“Die polisie sal onophoudelik werk om die forensiese dienslaboratoriums binne twee jaar tot volle funksionaliteit te herstel,” sê Cele.

Die minister het verskeie stappe aangekondig om dié doelwit te bereik. Dit sluit in:

  • Mediese toetse en inentings vir forensiese ontleders
  • ʼn Hersiening van basiese diensvoorwaardes om ruimte te skep vir ʼn nuwe skofstelsel
  • ʼn Tender vir die aankoop van nog DNS-verwerkingstelsels vir die Oos-Kaap
  • Tenders vir die verskaffing van voorraad wat vir DNS-toetse gebruik word en die toekenning van 15 kontrakte in dié verband
  • Die optimale gebruik van die naspeurstelsel. Meer as 42 000 bewysstukke is reeds op die nuwe stelsel geregistreer.

Cele het benadruk dat die verbetering van dienste by die laboratoriums die hoogste prioriteit vir die polisie is.

Beoogde samewerking met laboratoriums in die private sektor, asook laboratoriums by hoër onderwysinstellings, gaan ook help om die agterstande uit te wis.

Chaos by vuurwapenregister

Dokumente staan opgestapel in die gange van die sentrale vuurwapenregister se kantore. (Foto: Verskaf)

Benewens die polisie se enorme probleme by forensiese laboratoriums, heers chaos boonop al jare lank by die sentrale vuurwapenregister.

Maroela Media het vroeër berig oor die rotte, ʼn gebou wat inmekaarval en derduisende dokumente wat in hoë kolomme in kantore en gange by die vuurwapenregister opgestapel lê, terwyl wetsgehoorsame Suid-Afrikaners te midde van die ontsaglike chaos aan die regte kant van die wet probeer bly.

Volgens Cele is die register al jare lank “verwikkel in uitdagings en ondoeltreffendheid”.

Die minister sê een van die ingrypings was ʼn bestuursverandering om “orde en funksionaliteit” te verbeter.

“Veel meer ingryping is egter nodig om die toenemende berigte oor ondoeltreffendheid en probleme in die stelsel uit te sorteer.”

Cele sê die sogenaamde e-Oplossingstelsel, oftewel die Nuwe Vuurwapenbeheerstelsel, is in die vorige boekjaar in werking gestel. Dit is veronderstel om die elektroniese toepassing en verwerking van aansoeke moontlik te maak.

Salarisse

(Argieffoto: SA Polisie)

Die vergoeding van beamptes beloop 78% van die departement se begroting – dit is sowat R225,9 miljard – en om binne die regering se bestedingsplafon te bly, is die salarisrekening met R35,8 miljard op medium termyn afgebring, sê Cele.

R15,89 miljoen hiervan is ʼn vermindering weens die besluit om nie die salarisverhoging in die derde jaar van die 2018-staatsdiensloonooreenkoms in werking te stel nie en die bevriesing van salarisverhogings oor die volgende drie jaar.

In 2019-’20 is die werwing van 7 000 nuwe polisierekrute goedgekeur en hoewel die proses toe reeds in ʼn gevorderde stadium was, het die Covid-19-pandemie die opname gestuit.

Volgens Cele gaan 4 000 eksterne aansoekers in 2020-’21 in die polisie opgeneem word, terwyl 3 000 huidige reserviste as permanente lede aangestel word.

In die 2020-’21-boekjaar is 2 511 reserviste reeds in die opleidingsprogram opgeneem en hulle is dadelik vir operasionele diens by polisiestasies ontplooi.

Die polisie beoog ook om in die huidige boekjaar sowat 3 000 vakante poste te vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

marius ·

As die misdadigers uit die polisie gehaal word , sal daar genoeg geld wees om die paar eerlikes tien keer meer te betaal , en hulle toe te rus met die beste .

Chris dupreez ·

Raak ontslae van die patetiese minister asook die kommisaris en kry iemand wat n passie het vir die werk anders gaan dit nooit verbeter nie.

Anoniem ·

Die einste minister Hoed Spiekeries, sê in ‘n ander berig dat misdadigers die oorhand het in SA. Daarmee gee hy dus toe dat die Polisie nie sy werk kan doen nie en dat misdadigers beter opgelei is as SAPD lede.

Moeggeploeg ·

Is daar ń staatsbeheerde departement wat korrek funksioneer?

Snowball ·

Korrupsie en onbevoegdheid is duur ja. Daar bly min oor vir goed soos misdaadbekamping in die misdaadhool.

Mariana ·

Geld, geld, geld maar geen werk. Agterstande gebeur as mense nie hul werk doen nie. Daar was begroot maar weereens is die fondse nie reg aangewend nie. Nee mnr hoed bedink weer jou begroting. Die polisie kort ordentlike opleiding en beter sifting van kandidate sal ook help, verwyder die kriminele elemente uit die diens. Ons polisiediens is in ‘n haglike toestand van die stasies tot by die mense wat veronderstel is om ons te help. Maak huis skoon dan sal daar verbetering intree.

twaalfboor ·

To little to late “cowboy”. Gee my vuurwapens terug totdat julle jul GEMORS & ONBEVOEGDHEID uitsorteer het.

Misky ·

Bheki Cele is die grootste ramp wat polisiediens ooit kon tref!!!!

Johan ·

Koreksie, die ANC is die grootste ramp, dit en dié verandwoordelik vir hul bewind sonder einde.

SjN ·

Erken julle is onbevoeg om die werk te kan doen en stel die regte mense aan.

Persheks Adri ·

Dis oor jy in beheer is hoedeman laat jou hakke raas pffft!

Janee ·

Hoe meer befondsing….hoe minder beskikbaar. En almal weet waarom.

JohanR ·

Wel dit word al jare geveg met al minder en minder brein krag……

Di ·

Kom altyd met slim planne voorendag en kondig nuwe doelwitte aan maar NIKS realiseer nie. Die polisiediens was nog nooit in die geskiedenis van hierdie land SO ‘n patiese gemors spul soos nou. Was trots op die polisiemag tot 1994, nou is dit ‘n grap om te sien hoe van hierdie lede lyk. Wat eens statige manne en vroue was vol trots, is meeste nou oorgewig, lui met kriminele rekords en nie bevoeg om hierdie belangrike taak te verrig nie.

Oujongvrou ·

Hoe meer geld julle gaan kry hoe meer usseless gaan julle raak. Klomp skelms wat salaris trek.

M-woord ·

As die polisie reg opgelei word en hul werk reg doen het jy nie geld nodig om jou werk te doen nie. Raak ontslae van die “cowboy wannabee”

My siening ·

Groot hoed gee jou salaris op dan is daar geld om die probleem op te los. Daar is te veel generaals, brigadiere en kolonele in die mag maak minder en daars baie geld vir ware polisie manne nie kaders nie!

Strandloper ·

Ai…dit moet uiters moeilik wees om soooooo onossel te wees? Tog gebeur dit met oorgawe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.