Polisie moet opdok ná vrou se ‘nagmerrie-ervaring’

Mariska Batt en Nantes Kelder, hoof van AfriForum Trauma. Foto: AfriForum

Mariska Batt en Nantes Kelder, hoof van AfriForum Trauma. Foto: AfriForum

ʼn Hof het Vrydag die polisie beveel om skadevergoeding aan ʼn vrou van Pretoria te betaal nadat sy in Maart verlede jaar onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur.

Mariska Batt (26), ’n werknemer van die burgerregte-organisasie AfriForum, is op 31 Maart 2015 in hegtenis geneem nadat sy sowat 10 m in die verkeerde rigting in Lenchenlaan, Centurion, gery het. Sy is ná ure lange aanhouding op borgtog vrygelaat.

Die Pretoria-landdroshof het Vrydag gelas dat die inhegtenisneming en aanhouding onregmatig was en op grond daarvan is ’n bedrag van R30 000 aan Batt toegestaan. Die polisie moet ook haar regskoste betaal.

Batt het die voorval as ’n eerlike fout beskryf en sê dit was die aand stikdonker en sy was verbouereerd. “Dit was my eerste keer op daardie pad en ek was verward. Daar was geen straatligte aan nie en ek was half benoud omdat dit so stil en verlate was en ek as vrou alleen gery het.”

Batt het gesê ’n aankomende motor het haar gewaarsku toe sy in die straat opgery het. Sy het dadelik omgedraai, ’n polisievoertuig gesien en stilgehou. “ʼn Motoris het sy kopligte vir my geflits en ek het dadelik omgedraai. Die Lyttelton-polisie het my van die pad afgetrek en vir beweerde nalatige en roekelose bestuur in hegtenis geneem.”

Een van die twee polisiebeamptes het glo aan haar gesê sy is ’n misdadiger wat ander se dood kan veroorsaak. Hy het toe met haar motor na die Lyttelton-polisiekantoor gery met haar op die passasiersitplek. Volgens Batt het die polisiebeampte twee keer op sy selfoon gepraat terwyl hy bestuur het en ook nie dadelik sy sitplekgordel vasgemaak nie. “Ek het vir my ma gesê dat dit so ironies is, want hy oortree verskeie verkeersreëls, maar maak asof ek so sleg is,” het sy gesê.

Volgens Batt het die polisie haar ma, Madeleine, en werkgewer, Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, by die polisiekantoor gedreig met inhegtenisneming omdat hulle te veel vrae gevra het.

Sy is sowat twee en ʼn half uur lank in ’n sel by die Garsfontein-polisiekantoor aangehou. “Dit was donker en koud. Hulle het vir my ʼn vrot hondekombers gegee en gesê ek kan my daarmee toemaak,” het sy gesê. Daarna het die beamptes eers deur die Pretoriase middestad gery voordat hulle haar na Lyttelton teruggeneem het.

Batt het ná die nagmerrie-ondervinding ’n skadevergoedingseis teen Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, ingestel.

Volgens AfriForum is tussen 60% en 80% van die hofsake op die daaglikse rol van die Pretoriase landdroshof teen die minister van polisie ingedien.

“In 2015 is berig dat siviele eise teen die polisie reeds meer as R860 miljoen in die voorafgaande ses jaar beloop het. In die 2009/2010-boekjaar het die polisie regskoste van sowat R89 miljoen betaal. In Maart 2015 het dit meer as R278 miljoen beloop,” het AfriForum op sy webwerf gesê.

Batt het ná die uitspraak gesê sy is baie verlig die saak is uiteindelik verby. “Ek sal ander mense wat in dieselfde situasie as ek beland, aanmoedig om dit verder te voer. Dit gaan nie oor die geld nie, maar eerder om geregtigheid te laat geskied wanneer iets onregmatigs met jou gebeur. Hoewel ek weet dat nie alle polisielede oor dieselfde kam geskeer kan word nie, het ek ná die voorval my vertroue in die polisie verloor en is ek steeds bang as ek hulle sien.”

Nantes Kelder, hoof van AfriForum Trauma, het die uitspraak verwelkom. “Dit gebeur te veel dat lede van die publiek onnodig getraumatiseer word wanneer hulle onregmatig in hegtenis geneem word. Dit dui op magsmisbruik deur die polisie en moet aan die kaak gestel word. Die publiek moenie terugstaan nie. Polisielede wat hulle aan vergrype skuldig maak, moet tot verantwoording geroep word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Grap ·

Hier is nou ‘n voorbeeld van wat elke persoon moet doen wat onregmatig gearresteer en aangehou word deur onbevoegde polisie beamptes

vierkleur ·

Wat sou met die dame gebeur het as sy in n sel saam regte krimmenele gegooi is?
Dit grief my , hierdie polisie lede wat dink hulle is “above the law”. Ek vertrou lankal nie meer
die polisie nie, en ek glo nog hulle is betrokke in baie van die plaasaanvalle

Sarie Laing ·

Ek stem saam, hulle moet betaal vir hulle moedswilligheid. Hulle moet ook geskors word en uit die Polisiemag verwyder word !!!! Dit is AL wat sal keer dat hierdie onregmatige arrogansie hoogty vier.

Grap2 ·

Moet net nie die k woord gebruik nie al beteken dit ongelowige in Arabies of vw beetle in duits…lol

Liza ·

Dit is nie die polisie wat betaal nie, dit is ons, die belastingbetalers! Ek is bly vir jou maar as ek na my betaalstrokie kyk elke maand en sien hoeveel gaan na die staat wil ek huil……

Corneels ·

Stem saam, ons belastingbetalers dok op. Dis tyd dat die howe elke betrokke polisie beampte verantwoordelik hou. Dan sal hulle twee keer dink…

Gerd Lourens ·

Wat gebeur met die polisie wat haar onregmatig in hegtenis geneem het?

Jan ·

Fantastiese resultaat. Maar dink aan die onaangename ondervinding van die indiwidu. En daarmee saam die magsbeheptheid, onbevoegde en onbekwame optrede van die polisie beampte(s). En dan die miljoene van die belastingbetalers se geld.
Is daar enige rede waarom die skade nie van die betrokkenes verhaal kan word nie????

willie ·

Dis n oorwinning… baie bly vir haar.. Jammer oor haar ondervinding met die klomp onbebvoegte klomp… Nou wonder ek wat kom hulle oor??? Word hulle nou aangekla, en moet hulle betaal vir hul regshulp? Die voel al amper of n eenheid gestig moet word om hulle dop te hou, en te polisieer….

Carl Volschenk ·

Ek is bly vir jou. Ek is na 23-jaar diens uit die Polisie uit as n Lt Kol nadat ek onregmatig toegesluit was op grond van vals gefabriseerde klagtes, daarna ontslaan, en na n regverdige verhoor in die Arbeidshof onskuldig bevind en weer aangestel. Ek het self besluit om te bedank, my goed te vat en te loop. Die kort en die lank is, ek het met twee siviele eise geslaag, maar wie wen? Die belasting betalers betaal hiervoor. Ongeskoolde, polities gedrewe, magsbehepte amptenare misbruik die mag wat aan hulle toegeken word, maar word nooit self verantwoordelik gehou nie. Jy kan nie die beampte persoonlik dagvaar nie. Die dag as dit gebeur, sal hierdie gedrag op n einde kom. Bitter selde, indien ooit word hierdie beamptes dissipliner aangespreek.

Andre ·

Mens wens net die polisieman moes die geld uit sy eie sak betaal. Dit kos hom nou niks.

jeanette visser ·

O genade nee, ek word so kwaad as ek van sulke goed hoor my bloed kook eintlik. Weereens ons publiek ry aan die korste end en die belasting betalers moet net vir alles opdok waar gaan alles eindig. Ek is bly Mariska het die saak gewen. Maar dis tyd dat elke polisiebeampte persoonlik daarvoor aanspreeklik gehou word dan sal sulke goed minder gebeur. Maar jong dit gaan maar alles weer oor die velkleur. Hoop nie ek beland ooit in so situasie nie.

T ·

Weereens arrogansie nes kinders hulle arresteer OMDAT hulle KAN !!! Hulle kan nie vir hullself dink en die situasie ontleed nie … want hulle KAN NIE. Dis belaglik !!!!

Johann ·

Belastingbetalers se geld…onbekwame arrogansie…staatmaak op die regbank om die polisie in toom te hou…dis nou díe wat “in toom gehou word”. Kommerwekkend om te wéét dat menige sulkes nog nie en dalk nooit aangespreek sal word nie. Maar dan hoe anders met die voorbeelde van die hoër op in die sous trein.

Hs ·

Duidelik het die betrokke SAPD lede nie die volledige opleiding program onder die knie gehad nie. Ook nie mooi verstaan dat hulle ‘n voorbeeld moet stel en AL die wette self ook moet nakom (selfoon gebruik terwyl bestuur/ ?veiligheidsgordel)
En nou word hulle opleidingsperiode nog verder verkort!! Ons land se veiligheid is in hande van SAPD lede wat ‘n crash course bygewoon het…….

Loeis ·

Dis nou goed en wel dat sy gewen, en skadevergoeding ontvang het.

Maar daardie geld kom van die belastingbetaler, nie van die oortreders nie. As mens regsaksie teen die polisie neem, moet jy die beamptes wie verkeerd opgetree het ook as respondente voeg. Dan sal jy sien hoe hulle twee keer dink voordat hulle hul magte gebruik.

MCS ·

Ja, die polisie van voor 1995 en die polisie van vandag is nie van dieselfde mag. Dit is skrikwekkend wat mens in die pers lees! Hoop en bid net dat ek nie hul hulp ooit sal nodig he of enige kontak met hul moet he buiten wapen hernuwing! Dit vir my was alreeds teveel onnodige kontak.

Johann Marx ·

Ek betaal belasting sodat die staat sy werk moet doen. Die staat maak ‘n gemors, kom skotvry daarvan af, en my belasting gaan na Mariska Batt. Nou hoe de hel gaan ek hierdie geld-vloei omgekeer kry??

Lance ·

Onbevoeg is die woord hier ..wat n vermorsing van die belastingbetaler se geld wat hulle sou kon aangewend en die dom mense beter oplei….maar nee ons het selfs lede in die mag met rekords teen hulle ….en hulle moet nou die wet kamstig toepas ….dis n gemors !!!!!

Andre Beukes ·

Reeds twee keer die paadjie geloop. Moet erken as ek kon kies tussen die vergoeding en die traumatiese ervaring sou ek eeder nooit die ervaring wou beleef nie. Daar is altyd die moontlikheid dat jy dit dalk nie lewend daaruit maak nie. Hierdie mense het geen respek vir ander mense se lewens nie. Die pre95 polisie beamptes het verseker hier en daar oortree, maar die skaal en intensieteit van die huidig vergrype is vestommend. Waar gaan dit eindig?

JaNee ·

Dis omdat ons President nie ń goeie voorbeeld stel dat die polisie dink hul hoef geen wette te gehoorsaam nie en kan net doen wat hul wil dat magsmisbruik plaasvind.

basil smit ·

Ek is oortuig dat daar nog baie sulke gevalle is,mens hoor net nie v almal nie

johan vd Berg ·

As die regskostes en skadevergoedings wel deur die betrokke polisiebeamptes betaal moes word, sou hier minder sulke onregmatige arrestasies plaasvind.
Dus foeter hulle so voort want soos n paar vriende reeds genoem het, betaal ons, die belastingbetaler al hierdie nonsens.

Z ·

As sy nie vir Afriforum gewerk het nie sou ons seker nooit hiervan gehoor het nie.

Vissie ·

En die betrokke polisiemanne wat al hierdie dinge gedoen het, wéét waarskjynlik nie eens van die eis wat toegestaan is nie. Daar word nêrens vertel dat hulle in die bek geruk is nie. Net die volgende keer tree hulle presies net so op, want hulle dra mos die uniform en hulle het die polisiewapen op hul bors, nou is hulle grootmeneer. Soos die een wat my vrou met R500 beboet het omdat sy op ‘n skikhete dag (44°) aan die verkeerde kant van ‘n baie stil straat onder die enigste boom gaan stilhou het.

Jan maak n Plan ·

Ek’s baie verlig dat hierdie dametjie se probleem nou agter haar is , maar daar is ‘n paar klippies in my skoen wat my baie pla. So die hof het besluit dat die polisie haar moet betaal – gaan sy ooit haar geld kry? Hoeveel van die sake wat op die rol is word deur die eisers gewen en hoeveel van hulle kry hulle geld (kom ons los maar eers die kleur probleem) en wat van al hierdie taxis wat soos manijake ry in die stede en dorpe. N sperstreep, stop teken en eenrigtings is net vir ander mense en nie vir hulle nie.

Zachrys ·

Kan mens nie n siviele saak teen die sap lid self begin nie. Hy het regter gespeel ontvoering naamskending ens. Ek was self deur so voorval in 2009 maar het nie kans gesien vir lang afstande Pietersburg toe vanaf Pta en tyd in die hof nie. Het nie toe aan Afriforum behoort nie. As ons tog net kan ophou om ons lot aan so klomp self bewysde -onosele goed oor te laat en oor ons self kan beskik.

Sterkolk ·

Hi Zachrys. Ek stem saam met jou. Hier by ons in Hartbeespoort is ‘n persoon verbonde aan die gemeenskapspolisieeringsforum (indien ek reg onthou) wederregtelik in hegtenis geneem. Dit het drie jaar geneem, maar die betrokke beamptes se pensioene is uiteindelik gevries om skadevergoeding te betaal. Ek is oortuig dat ons van veel minder gevalle van wederregtelike inhegtenisname sal hoor indien meer mense hierdie pad volg.

Deonne van Aarde ·

Ek is ook onregmatig in hegtenis geneem en wil graag n saak aanhandig maak. Wie is die beste persoon om my te verteenwoordig in so n saak?

Carel ·

‘n Paar opmerkings: Natuurlik behoort die amptenaar te betaal maar in die praktyk gebeur dit omtrent nooit – daar is ‘n verhalingsmeganisme maar dit word skynbaar net gebruik in uiterste gevalle. Vir diegene wat so besorg is oor die belastinggeld – eerder dat dit op hierdie wyse terugkom na Mariska as ‘n belastingbetaler as wat dit gespandeer word by Nkandla…

Sterkolk ·

Hoekom word n eis nie teen die beamptes in hul persoonlike hoedanigheid ingestel nie. Dit is presies wat in ons tuisdorp gebeur het en die betrokke beamptes se pensioene is gevries om skadevergoeding te betaal. Hoe sal die beamptes n les leer indien mense altyd net n eis teen die minister instel? Kom n dreigrment om jou in hegtenis te neem omdat “jy te veel vrae het” nie neer op intimidasie nie? Is intimidasie nie vervolgbaar nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.