Polisie moet rekords oor vernietigde vuurwapens verskaf

ammunisie-vuurwapenwet-vuurwapens

(Argieffoto: David Levêque/Unsplash)

Die Pretoriase hooggeregshof het die polisie gelas om aangevraagde rekords oor die vernietiging van duisende vuurwapens aan die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) te verskaf.

Saai het die aangeleentheid voor die hof gebring nadat die polisie versuim het om bewyse te lewer dat die vernietigde vuurwapens aan die Geïntegreerde Ballistiese Identifikasiestelsel (Ibis) onderwerp is voordat dit vernietig is.

Die organisasie druk die polisie al twee jaar lank vir dié rekords, maar het tot dusver nog geen inligting ontvang nie.

Die organisasie wil hê die polisie moet kan bewys dat die meer as 50 000 vuurwapens wat in Julie 2021 en Maart 2022 vernietig is, en wat moontlik met misdade verbind word, wel behoorlik op die datastelsel aangeteken en van rekenskap gegee is.

Saai het die polisie aanvanklik met twee formele aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) probeer dwing om die rekords bekend te maak, maar dit het onbeantwoord gebly. Interne appèlle wat daarna gevolg het, het ook geen rekords opgelewer nie.

Saai se eerste Paia-aansoek (7 Februarie 2022) was in reaksie op die 24 901 vuurwapens wat op 8 Julie 2021 vernietig is. Die tweede Paia-aansoek (3 Julie 2022) was bemoei met die verdere 26 002 vuurwapens wat op 10 Maart 2022 vernietig is.

Die organisasie is van mening dat indien behoorlike prosedures nie gevolg is nie, die polisie aandadig is aan die misdade wat moontlik met van hierdie vuurwapens verbind kan word.

Die saak is verlede maand voor die hof gebring om die polisie te verplig om die verlangde rekords te verskaf, en die hof het Maandag in Saai se guns beslis.

Die polisie het nou 30 dae om die rekords te verskaf.

Saai het vroeër gesê die organisasie wil weet of die vuurwapens deur die nodige toetse was voordat dit vernietig is, omdat baie van dié vuurwapens bewysstukke van misdade is.

“Daarom kan ons, met die dreigende kwessie van plaasveiligheid, nie toekyk dat dit sonder die nodige toetsuitslae vernietig word nie,” het Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, gesê.

“Indien die polisie vuurwapens vernietig sonder om seker te maak dat daardie vuurwapens nie in misdrywe gebruik is nie, is die polisie aandadig aan die misdade.

“Dit is voorts kommerwekkend dat die polisie jaarliks tienduisende vuurwapens verloor wat in die hande van misdadigers beland. Die kwessie rakende vuurwapens is dus iets wat volgens Saai geensins ligtelik opgeneem kan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Heinrich ·

Iemand by die polisiekantoor gaan nou baie vinnig moet begin tik…

Anton ·

Hulle gaan COVID-19 die skuld gee vir die rekords wst nie bestaan nie!

Papsak ·

Mooi laat hulle daai rekords wys laat daai vuurwapens regtig tot gemaak is en nie dalk in ander se hande beland het nie gee gas waarmee dinge gedoen is nie nou sal hulle moet vinnig pa staan vir dit

Tinus ·

Indien niemand vervolg word nadat die wapens van private eienaars ingehandig is nie, is daar mos geen misdade met die wapens gepleeg nie. Dan weet ons mos die staat se wapens word vir misdaad gebruik.

Di ·

Ek persoonlik glo nie dat daar enige REKRDS bestaan nie. Glo vas dat meeste van die vuurwapens verkoop word aan bendes en misdadigers, DAAROM dat geweld met vuurwapens aan die toeneem is. Elke 2 de krimineel het ‘n vuurwapen SONDER ‘n lisensie.
Polisie kan nie eers hulle EIE wapens veilig hou nie, wat nog duisende ingehandigde wapens in veilige bewaring hou.

Andre ·

…gee kans, hulle wag vir die bendes om terugvoering te gee op die reeksnommers !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.