Polisie moet sê oor vermiste vuurwapens

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie dring daarop aan dat die polisie dringend aandag gee aan die SAPD 13-stoorkamers, waar wapens geberg word. Dít nadat altesaam 158 vuurwapens uit die Norwood-polisiestasie in Johannesburg se stoorkamer verdwyn het.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die komitee, eis ook onmiddellike dissiplinêre optrede teen enige polisielid wat by hierdie voorval betrokke is.

Dit volg nadat berigte oor die verdwyning van die vuurwapens en die beweerde betrokkenheid van een of meer polisielede reeds sedert verlede jaar die ronde doen.

Die Valke het glo reeds ʼn ondersoek na die beweerde verdwyning van die vuurwapens van stapel gestuur.

Die DA sê nou dat die minister van polisie en die nasionale polisiekommissaris verantwoording moet doen vir die vuurwapens wat skynbaar onder die neus van die polisie verdwyn het.

Dít omdat een van hierdie gesteelde wapens glo gebruik is om ʼn polisiebeampte dood te skiet.

Brig. Thandi Mbambo, woordvoerder van die Valke, het aan Maroela Media bevestig die beampte is deur ʼn bendelid doodgeskiet, wat glo een van die vermiste wapens in sy besit gehad het. Dit is egter nie bekend wanneer die polisieman doodgeskiet is nie.

Joemat-Pettersson sê hoewel die vermiste vuurwapens kommerwekkend is – veral omdat boosdoeners die vuurwapens gebruik om misdade te pleeg – is sy besorg oor die groter implikasies hiervan.

“Die voorval wys presies watse groter uitdagings verskeie SAPD 13-stoorkamers in die gesig staar,” sê sy.

“Ons benodig kort-, medium- en langtermynstrategieë om hierdie stoorkamers te beveilig en die verdere verlies van enige vuurwapens of ander bewysstukke te voorkom.

“Enige polisielid, dwarsdeur die bevelsketting, moet verantwoordbaar gehou word indien hulle daarin misluk om hierdie vuurwapens te beveilig.”

Die DA meen egter dat Bheki Cele en genl. Khehla Sitole reeds ʼn geruime tyd aangesê is om ʼn dringende omkeerstrategie vir verskeie SAPD 13-stoorkamers te ontwikkel en dat dié reeds in die inwerkingstellingsfase moet wees.

“Dit is belangrik dat die presiese besonderhede en tydlyn rakende die inwerkingstelling van die omkeerstrategie bekend gemaak word,” sê Okkie Terblanche, die DA se skaduminister van polisie.

“Ons moet ook weet wat die status is van die ondersoek na die gesteelde vuurwapens en of enige polisielede hierby betrokke was.”

Chaos met vuurwapenregister

Ná ʼn oorsigbesoek aan die sentrale vuurwapenregisterkantore verlede jaar sê Joemat-Pettersson dat die komitee bekommerd is oor die polisiediens se algehele administrasie van vuurwapens.

Maroela Media het in Mei reeds berig oor chaos by dié kantore, met derduisende dokumente wat op elke moontlike oppervlak opgestapel was.

Net ʼn klein aantal vuurwapens wat tydens die amnestietydperk ingegee is, is boonop reeds verwerk.

“Slegs 4% (2 059 uit 50 962) van aansoeke wat gedurende die 2019‑’20-amnestietydperk ontvang is, en slegs 0,92% (280 uit 30 356) van aansoeke wat gedurende die 2020-’21-amnestietyd ontvang is, is al afgehandel en verwerk,” sê Joemat-Pettersson.

“Dit is nie net ʼn administratiewe kopseer nie, maar plaas ook die veiligheid van lede van die publiek in gedrang.”

Die portefeuljekomitee sê nou dat die vuurwapenregister dringend bygewerk moet word om die groot agterstand aan te pak.

“Eerstens moet ʼn breër verandering in die polisiediens se bestuurstrategie met betrekking tot die administrasie van vuurwapens plaasvind,” sê sy.

“Die monitering en toesighouding oor die register en die stoorkamers waarin dit geberg word, is van sleutelbelang en moet verbeter word.”

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Anton ·

Hulle kan nie eers hulle eie wapens oppas nie nou worry hulle oor myne :-)

Di ·

Korrupte polisielede verkoop dit aan bende lede! Regering moet ‘n sentrale gebou oprig waar ALLE vuurwapens geberg word om sodoende beter beheer daaroor uit te oefen. Wapens moet nie meer by verskillende polisiestasies geberg word nie, dis waar die korrupsie inkom. Dit sal ook verhoed dat wapens deur kriminele gesteel word by die verskillende polisie stasies. Die wat daar werk is min gepla oor die veilige berging van hierdie vuurwapens, hulself is hopeloos verby.

Herman L ·

Die polisie moet vebied word om wapens te besit of te hanteer! Die vuurwapenregister moet aan ‘n instansie gegee word wat dit kan hanteer. Dan sal hulle miskien leer hoe om met vuurwapens om te gaan sonder om onskuldige mense se lewens in gevaar te stel.

Shakespeare ·

Die SAP lede wat betrek word by die kriminaliteit staan nou kans om minister of adjunk te word.

Hennie J ·

Of om ten minste een van die oorvloed generaal-poste te vul. Generaal in beheer van vuurwapen diefstal!!!!!!

Marius ·

Die SAPD en die SANW het duidelike instruksies in plek tov die hantering en berging van wapens. Die probleem is dat die mense wat daarmee werk nie ag slaan op die instruksies of op die uitvoering daarvan nie. Dit is blatande agterlosigheid.

Genis ·

Joh dit sou nie in ons tyd gebeur het nie… Wapens van die staat was met alle mag beskerm… Sou een verlore gegeen het, was dit soos hoog verraad… SAPD is 90% kurrup en verlam… Dis eindelik soos n staats instansie wat vir elke jan raap en sy maat werk gee… amper soos n “glorified security gaurd”….

Andries ·

Wat is nuut aan die storie? Niks. Weereens korrusie, diefstal van die polisie.

Pampoen ·

Dis nie hierdie polisieman of daardie een nie – dis sommer almal wat geheel en al onbevoeg is en dan nog oor ons wil baasspeel! Begin deur Chele te fire!

Aai ·

So dra hulle elke dag ‘n wapen weg so niemand hoef te worry oor hoe hulle 158 wapens daar uitkry het een per dag.

Danny ·

Niks in hierdie land skok my meer nie. Wragtag. Swak swak swak!

SlinkseKoljander ·

Eis onmiddelike dissiplinere optrede, is dit nie van-self-flippen-sprekend nie? Weer net woorde wat uit gegooi word deur die ANC en niks sal gedoen word nie. Die skelms betaal hule baie geld vir lekker wapens om moorde mee te pleeg.

Frank ·

340 werks dae gevat om my aansoek goed te keur. Slegs agv intrede van Kol Mabula, Simelane en Makapane, anders was dit nou nog nie goedgekeur nie.
En tot op hede vat dit 90 dae wat ek nog nie die lisensie kaart ontvang het nie……
Dink die grootste probleem lê by die onbeholpenheid van die plaaslike polisiestasies se DFO’s wat nie die regte prosedures volg nie.

Megan Swart ·

Dagsê Piet
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Tienie ·

Anton.

Slaan jy nou n spyker op sy kop.

“HULLE” kan na niks omsien nie. Kom kyk hoe lyk Pretoria se strate en loopgrawe en water kwaliteit en hoe lank sit mens soms sonder krag.

En dan is daar Hendriks straat in Daspoort se sinkgat al meer as EEN jaar oud.

Ooooo. Julle wil weet wat se loopgrawe. Wel. Dit is die slote wat agterbly nadat n waterpyp herstel is…

Eclectus ·

Wat my verstand te bowe gaan is dat in hierdie tegnologiese tyd daar geen stelsel in werking is nie wat alles kan vaartbelyn en beheer. Maar as ek kyk na die “professionele” optrede van die vuurwapen register se lede tydens inspeksies, waar hulle met niks opdaag en ék moet die nodige dokumentasie en “scrap paper” voorsien om die inspekse te kan uitvoer, dan verstaan mens. Hulle soek sedert 2017 ‘n wapen by my wat sedert 2015 op my sterkte is. Ek het verlede jaar met behulp van ‘n hulpvaardige beampte by ‘n polisiestasie uitgevind die wapen was in 2013 ingehandig vir vernietiging. Wag nog om te hoor of die kwessie al reggestel is.

Swerwer ·

Lekker lag ek nou. Kan maar net raai wie agter die verdwyning sit. Om skielik stil stil te verdwyn ……….sê genoeg.

Pablo ·

Julle ontneem die wetsgehoorsame publiek van hulle wapens en gee dit dan vir die skurke. Vernietig die wapens.

nicolaas ·

Die persoon wat die kluis se sleutel het moet sê waar die wapens heen is

Roedolf Johannes ·

Daar sal niks van kom nie Die Mafia is te sterk in al die Staat instellings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.