Polisie moet vuurwapenregister regruk, gelas hof

(Argieffoto: SAPD, Facebook)

Die hooggeregshof in Pretoria het die polisie beveel om sy sentrale vuurwapenregister (SVR) binne 48 maande reg te ruk sodat dit met die bedryf geïntegreer kan word.

Die South African Arms and Ammunition Dealers Association (SAAADA) het die minister van polisie, die nasionale polisiekommissaris, die voorsitter van die vuurwapenappèlraad, die appèlraad én die president verlede jaar hof toe gesleep om hulle te dwing om die probleme met die SVR uit te stryk.

Vuurwapeneienaars, wapenhandelaars en belangegroepe kla al jare lank oor die chaotiese toestand van die register. SAAADA beywer hom vir die regte van die wapenhandelbedryf.

Die hof het die minister en polisiehoof nou beveel om ʼn databasis te skep wat alle geregistreerde wapenhandelaars, vervaardigers, wapensmede en in- en uitvoerders elektronies met die stelsel verbind.

Die hof het ook gelas dat ʼn proses begin moet word om die dienste vir só ʼn stelsel te bekom. Dit moet teen 31 Augustus 2020 gedoen wees. Die proses, ontwerp en inwerkingstelling van die stelsel wat die bedryf elektronies met die polisie se register moet verbind, mag ook nie later as 31 Julie 2022 afgehandel wees nie.

Die hof het beveel dat die polisie met SAAADA moet vergader om te bepaal wat hulle behoeftes vir die stelsel is en het ook gelas dat daar elke ses maande terugvoer oor die proses aan die hof gegee word.

Jonathan Fouché, voorsitter van SAAADA, het gesê hulle verwelkom die bevel en hoop dat die polisie voortaan sáám met die bedryf sal werk om die SVR by te hou en te verbeter.

“Weens die gebrek aan elektroniese verbinding het die polisie beheer oor vuurwapens verloor en is hulle nie in staat om die oordrag van wapens akkuraat en deurlopend te verwerk nie,” het Fouché gesê.

Hy het gesê dit bemoeilik lisensie-aansoeke geweldig en het ʼn enorme uitwerking op die bedryf.

“Dit het ʼn punt bereik waar die las en irrasionele besluite ʼn uitwerking op wapenwinkels se vermoë het om hulle deure oop te hou. Dit is moeilike ekonomiese tye en die regering sê kleinsakeondernemings is die toekoms van werkskepping, maar hulle doen alles in hulle vermoë om die bedryf met irrasionele besluite te striem.”

Die hof het nie uitspraak gelewer op SAAADA se aansoek dat ʼn kommissie van ondersoek op die been gebring word om die probleme met die register te ondersoek nie. Fouché het gesê die hof het wél gesê dat appèlaansoeke, wanneer ʼn lisensieaansoek afgekeur is, nié voortaan agter geslote deure aangehoor mag word nie en dat die vuurwapenappèlraad ten minste mondelinge voorleggings moet oorweeg. Geen insette is vantevore toegelaat nie en niemand mag só ʼn appèlsitting bygewoon het nie.

“Ons is baie tevrede met die vordering. Nie net is die inwerkingstelling van die stelsel noemenswaardig nie, maar ook die bevel dat die respondente ons moet raadpleeg,” het Fouché gesê.

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Albert Fritz, het ook die uitspraak verwelkom en sê dit gaan help om die besit en verspreiding van onwettige vuurwapens te bekamp.

“Ek doen ʼn beroep op min. Cele en komm. [Khehla] Sitole om toegang tot die databasis aan al die LUR’e vir gemeenskapsveiligheid beskikbaar te stel ten einde hulle grondwetlike oorsigrol oor die polisie beter te kan nakom.”

Fritz het ook gesê die polisie se rekordhouding wat vuurwapens betref, is swak. “Omdat die SVR nie elektronies is nie, is die proses om boek te hou van die smokkelary, verlies, diefstal of wanbestuur van vuurwapens ʼn omslagtige, indien nie onbegonne taak nie.”

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het gesê die minister bestudeer in dié stadium nog die uitspraak en sal later kommentaar lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Grysburger ·

Die SAPD kry telkens ‘n bloedneus in die hof wanneer vuurwapeneienaars hulle hof toe sleep. Die ironie van die saak is dat die SAPD dan die uitspraak van die hof minag. So is in 2009 al bevind dat ALLE lisensies wat uitgereik is onder ou wetgewing steeds geldig is, ongeag of ‘n lisensie volgens die nuwe wet uitgereik is of nie. Desnieteenstaande probeer die polisie steeds wapeneienaars intimideer deur te beweer dat ‘n persoon onwettig in besit is aangesien die wit kaartjie verval het, al was die wapen volgens ou wet gelisensieer.

Die saak oor die vuurwapenregister sal seker na die Grondwetlike Hof gaan. Die SAPD weet dat daardie regbank vol ANC politici sit wie se uitsprake polities gemotiveerd en nie regswetenskaplik gefundeerd is nie.

SADPA ·

‘n REUSE dankie aan Jonathan Fouche en die span by SAAADA wat die Polisie en die vuurwapenregister se bestuur aanvat sodat ons gewone ouens ons lisensies sonder onnodige rondslomp kan kry. Ek het ook al 4 vuurwapens en ‘n Dillon herlaaimasjien by Jonathan gekoop, dis ‘n plesier om met hom besigheid te doen.

George in Bloem ·

Dis nie meer lank nie dan is ook die regsbank in hierdie piesangrepubliek ten volle “getransformeer” en dan sal niemand meer ‘n kans staan om ‘n regverdige uitspraak te kry van die ANC pionne in die stelsel nie. Time is running out……

Pieter ·

Daar is net een woord hulle is te sleg om hulle werk te doen hulle wil maar net die lewe vir ons blankes moeilik maak maar dit is ons belasting geld wat hulle selarisse betaal

Jiembo ·

Hel, 48 maande om die register reg te ruk. Is soveel tyd regtig nodig?

Ballisties ·

Raak eers van al die onwettige wapens ontslae voordat wettige eienaars weer gejag word. Onwettige wapens word gebruik om te roof, te moor en af te dreig. Polisie- en weermagwapens word ook in misdade gebruik. Hoeveel van hierdie wapens is nou in kriminele se hande?

Frank ·

Ek probeer 2 voorlaaiers van my naam AF kry. In elk geval volgens wetgewing nie meer nodig om ‘n lisensie daarvoor te hê nie. Verlede week vertel deur SAP dat dit tot twee jaar kan neem (OM DIT AF TE KRY!!) Mens sou dink hulle sou lisensies ten alle koste probeer verminder…….

Gert ·

48 Maande?
Ek glo nie hierdie land sal oor 48 maande nog bestaan nie.

Pieter ·

Haha ou gert stem saam jou negentig pers van hulle weet nie hoe om hulle werk te doen nie hulle is maar net daar gaan hulle nog vyf jaar vat

koos ·

Dis weereens die geval, soos etol. Dit was bestem om te faal maar niemand in die regering is bereid om dit te erken nie.

Massey 290 ·

Dit sal nie gebeur nie, nog ñ bietjie sluimer nog ñ bietjie sit en slaap, so gaan dit dag na dag in die nuwe Suid Afrika.

Eddy ·

Maar wat van die vuurwapen lisensiehouers wie nie vir die nuwe lisensies aansoek gedoen het nie.m.a.w.steeds in besit van die ou lisensiekaarte is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.