Polisie monitor situasie by Roodepoort-laerskool

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Die polisie en amptenare van die Gautengse departement van onderwys monitor die situasie by Roodepoort Primary School in Johannesburg terwyl ouers betoog oor die skool se nuwe hoof.

“Ons beamptes, sowel as die polisie, hou die situasie daar fyn dop,” het Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, Vrydag gesê. “Hulle sal daar bly totdat hulle tevrede is dat alles na normaal teruggekeer het.”

Maroela Media het Donderdag berig die departement het die Johannesburgse hooggeregshof genader om ʼn interdik te bekom om ouers te verhoed om by die skool te betoog, die skoolhoof en onderwysers te dreig of hulle en skoolkinders toegang tot die skool te weier.

Die departement het verneem dat sommige ouers ongelukkig is oor die aanstelling van ʼn swart hoof, Nomathemba Molefe, en “verkies ʼn bruin skoolhoof en onderwysers”. Die groep ouers beweer Molefe se aanstellingsproses was gebrekkig. Sekhonyane het gesê die groep ouers het verlede jaar klagtes oor die aanstelling ingedien. “Die departement het die bewerings ondersoek en daar is bevind dat dit nie waar is nie,” het sy gesê.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het Donderdag ʼn noodvergadering met die gemeenskap by die skool gehou. “Daar is by die vergadering besluit dat ons in die beste belang van die kinders moet optree.”

Molefe is tydens die vergadering tydelik van die skoolgronde verwyder.

The Star het Vrydag berig die polisie het Molefe van die skoolgronde af vergesel, terwyl ouers op haar voertuig geklap en water daaroor uitgegooi het. Hulle het plakkate rondgeswaai met die woorde: “Die hoof moet uit”.

Sekhonyane het gesê die situasie by die skool was Vrydagoggend kalm. “Ons ontvang berigte dat dinge besig is om na normaal terug te keer,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.