‘Polisie nalatig’ tydens Umbhaba-staking, bevind appèlhof

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n piesangplaas. (Foto: Unsplash)

Die polisie het “verkeerd en nalatig opgetree” toe stakers in Julie 2007 op die piesangreus Umbhaba Estates se plaas Kiepersol in Mpumalanga toegesak en dié plaas op horings geneem het.

Die appèlhof het verlede week – byna 16 jaar ná die gewelddadige staking – beslis dat die polisie tussen 5 Julie 2007 en 24 Julie 2007 versuim het om te verhoed dat stakende werkers skade aan dié piesangplaas in die Hazyview-omgewing aanrig.

Die staking is destyds gekenmerk deur voorvalle van intimidasie, aanranding, opsetlike saakbeskadiging, vandalisme, diefstal en plundering terwyl polisiebeamptes toegekyk het hoe piesangboorde aan die brand gesteek en vars produkte weggedra word.

Die polisie is daarvan beskuldig dat hy versuim het om in te gryp en selfs die kant van die stakers gekies het.

Umbhaba Estates, een van die land se voorste piesangprodusente, het daarna ’n eis van R318 miljoen teen die polisie en die Food and Allied Workers Union (Fawu) ingedien.

Nadat die Pretoriase hooggeregshof beslis het dat die polisie destyds sy plig versuim het om die plaas te beskerm, het die minister van polisie en die nasionale en provinsiale polisiekommissarisse hulle tot die appèlhof gewend.

Dié hof het egter verlede week tot dieselfde gevolgtrekking gekom en die staat se aansoek om appèl met koste van die hand gewys. Die hof het daarop gewys dat die polisie ʼn grondwetlike plig gehad het om by die staking in te gryp.

“Die polisie het egter aanhou voete sleep ondanks die toestaan van drie hofbevele wat met dieselfde voorval verband hou. Dit is uiters betreurenswaardig.

“Gegrond op die volle getuienis is die hof se gevolgtrekking dat die polisie se houding in die bestuur van die staking bloot reaksionêr was en dat ʼn ongeërgde houding ingeneem is,” lui die jongste bevinding.

Die VF Plus het in reaksie gesê hy beskou die uitspraak as ʼn oorwinning vir alle Suid-Afrikaners wat uitgelewer is aan misdaad en geweld terwyl die polisie sy plig versaak.

“Die polisie sal met erns moet kennis neem van die hofuitspraak,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Daar is baie goeie polisielede wat hul werk getrou doen. Daar is ongelukkig ook baie vrot appels wat hul leiding neem op die hoogste polisievlak en nie erns het met hul werk nie. Hierdie uitspraak sal hopelik daartoe bydra om ʼn groter dringendheid by dat die polisie te skep om hul werk te doen en op hofbevele te reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Mo ·

Die polisie in SA is onaantasbaar. Afrika reëls geld. Selfs al word hul geforseer om vir die skade te betaal is dit maar net weer die belasting betalers wat geld uitruil.

Shoshan ·

Dit is regtig ‘n oorwinning. Hartseer is dat die geld uit polisie befondsing moet kom wat afwentel na die belastingbetaler…
Wanneer gaan die polisie weer ‘n volwaardige mag word?
Dankie aan elke trotse polisie lid wat sy/haar werk reg doen. Julle verdien elkeen ‘n medalje!

JohnnyS ·

Hoe is dit ‘n oorwinning vir gewone landsburgers ? R318miljoen van ons belasting geld en die regskostes daarmee heen.

Frank ·

Kan Maroela Media dalk meer uitvind oor die kostebevel teen die vakbond? Is hulle wel mede aanspreeklik vir die eis of wat is die regs situasie?

Delia ·

Voor 1994 het ander vreeslike goed gebeur waarvan ons liefs nie wil weet

Marius ·

Hoop mense maak nou hulle oë oop. SAPS gaan niks vir jou doen nie, wel moontlik teen jou optree. Daar kan nie meer op die regering en SAPS staat gemaak word nie. Die een is swakker en slegter as die ander.

Amelia ·

Ons weet dit gaan weer van belasting geld betaal word maar darm nie in die sulkes se sakke nie Die beamptes moes dit uit hul sakke betaal en van hul pensioen geld sal dalk dan n volgende keer hul werk doen

Catharina Maria ·

totdat die betrokke persone persoonlik vir die skade verantwoordelik gehou word sal dit hulle nie pla nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.