Polisie net betyds toe kapers by Numbi toeslaan

Numbi-hek (Foto: TripAdviser.com)

“Ons het ʼn bonatuurlike kalmte ervaar.”

Só vertel ʼn vrou van Johannesburg nadat vier mans haar en haar gesin verlede Maandag naby die Numbi-hek van die Krugerwildtuin oorval het.

Vier mans het hul motor omstreeks 15:00 etlike kilometer buite die Numbi-hek omsingel. Die gesin het die wildtuin deur die Numbi-hek verlaat nadat hulle die dag daar deurgebring het.

Die een verdagte was met een voet in die gesin se motor toe ʼn wit ongemerkte voertuig – wat soos ʼn polisievoertuig lyk – daar aangekom het. Volgens die vrou het die Here dié motor op hul pad gestuur en is hulle betyds uit die verdagtes se kloue gered.

“Die Here het ons kalm gehou en beskerm,” vertel die vrou op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media.

Die gesin het Sondag van Johannesburg na die Laeveld gereis om vir die week vakansie te hou. Dit het Maandag gereën en die gesin het besluit om die dag wildtuin toe te gaan.

“Weens die berugte aanvalle by die Numbi-hek wou ons juis dié hek vermy. Dinge het egter toe so uitgewerk dat ons deur die hek moes ry.”

Volgens die vrou het sy en haar man ʼn entjie voor die hek ʼn man in die pad gesien. Hy het in hul motor se rigting beweeg.

Die egpaar se drie dogtertjies, onderskeidelik sewe en vyf jaar oud (ʼn tweeling), het agterin die motor gesit en was op hul tablette doenig.

“Omdat daar baie mense in die pad loop, het ons nie iets verdag aan hierdie man opgemerk nie. Ek het eers die vuurwapen in sy hand gesien toe hy by ons motor gestaan het.”

Die man het die gesin se motor voorgekeer en ’n vuurwapen op die vrou se man – wat die motor bestuur het – gerig. “Daar het nog twee mans aan my kant van die motor gestaan, maar hulle het nie wapens by hulle gehad nie. Daar het ook ʼn man by die motor se agterdeur gestaan.”

Volgens die vrou was die mans jonk, vol selfvertroue en smaakvol geklee. “Jy sou nie sê hulle is kriminele nie.”

Die vrou se man het die motor se deur oopgemaak en die motor se sleutels na die verdagte gehou. “Die verdagte het my man aangesê om op te skuif en bo-op my skoot te klim.”

Die verdagte was in die proses om in die motor te klim toe die ongemerkte voertuig daar aankom. “Toe die mans die voertuig sien, het hulle met my selfoon laat spaander.”

Volgens die vrou was sy en haar man nie seker of dit wel polisiebeamptes was nie. “Ek het net vir my man gesê ons moet daar wegkom. Ons het begin ry, maar die voertuig het ons agternagesit. Dit het in ʼn hoëspoed-jaagtog ontaard – soos ’n mens altyd in die flieks sien.”

Die gesin het tot by die polisiestasie in Hazyview gery. Dit was egter so stil soos die graf by dié polisiestasie. “Geen mens of polisievoertuig was in sig nie.”

Die wit ongemerkte motor het langs die gesin s’n stilgehou en twee mans het uitgeklim. Hulle het nie polisie-uniforms aangehad nie. Die een het ’n masjiengeweer in sy hand gehad en die ander een ’n pistool.

“Dit was die eerste keer wat ons werklik paniekerig begin raak het omdat ons nie geweet het wat om op daardie stadium te verwag nie.”

Die mans het hulself egter as polisiebeamptes voorgestel en die gesin aangemoedig om ’n saak oop te maak.

Sers. Nanikie Nonyane, polisiewoordvoerder, het bevestig dat dit wel polisiebeamptes was wat die gebied gepatrolleer het.

Hoewel die gesin hul vakansie moes kortknip, is hulle dankbaar dat hulle ongedeerd van die voorval afgekom het.

“Genadiglik was ons dogtertjies só besig op hul tablette dat hulle nie onraad opgemerk het nie. Ons sewejarige dogtertjie het wel iets begin agterkom toe die verdagte in die motor wou klim. Sy het dadelik besef dit is ʼn skelm.

“Ek en my man het heeltyd kalm gebly en probeer kophou. Ek was nie bang of paniekerig toe die verdagtes ons oorval het nie. En die ongemerkte voertuig was op die regte plek op die regte tyd. Dinge kon soveel erger uitgedraai het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

In plaas daarvan dat insittendes van ongemerkte motor hul kriminele broers vang, jaag hul die onskuldige mense??!!!Patetiese SAP.

Nicholaas

Wonder of die polisies in ongemerkte voertuig nie dalk deel was van die plan.

Misky

Daar sal daadwerklik iets moet gebeur daar en dit is ‘n tydbom. Stel lokvalle en vang die gemors!!!! Dankbaar die gesin is veilig na die nagmerrie ondervinding.

Mariana

Die vuilgoed is oral en mens moet maar altyd bedag wees. Die gesin was gelukkig, bly hulle is ongedeerd.

Dries

Skuim, altyd hier tussen ons.