Die minister van staatsveiligheid het Dinsdag wal gegooi oor bewerings dat Suid-Afrikaanse intelligensiedienste hopeloos onkant betrap is deur die afgelope dae se geweld, asook dat die polisie as gevolg daarvan gesukkel het om behoorlik op die grootskaalse onrus te reageer.
Lede van die regering se veiligheidsgroepering, bekend as JCPS, het vanoggend terugvoer gegee oor die jongste situasie na aanleiding van die afgelope paar dae se geweld.
Tot dusver is 757 mense in verband met die oproer in Gauteng en KwaZulu-Natal aangekeer. Die dodetal staan volgens die polisie steeds op 10. Die KwaZulu-Natalse premier, Sihle Zikalala, het vroeër egter gesê die dodetal in die provinsie weens die onluste staan op 26.
Daar was die afgelope tyd toenemende kritiek op die polisie en intelligensiemagte wat oënskynlik onkant betrap is deur die wydverspreide voorvalle.
Min. Ayanda Dlodlo sê die departement van staatsveiligheid het uit die staanspoor intelligensie met die polisie gedeel en dat verskeie voorvalle van geweld daardeur voorkom is. Sy het onder meer verwys na aanvalle wat glo op substasies, die ANC se provinsiale kantoor in KwaZulu-Natal en die Westville-tronk beplan is, maar afgeweer is danksy intelligensie wat vooraf daaroor ingewin is.
“Die masjinerie het oortyd gewerk. Daar was inligting wat ons hier en daar misgekyk het, maar daar was geen skouspelagtige ineenstorting van intelligensie wat beteken het dat die polisie nie kon optree nie,” het Dlodlo volgehou.
Sy sê die situasie het deurlopend verander en dat hulle hul “bes” gedoen het in “baie moeilike omstandighede”.
Op bewerings dat voormalige agente van die staatsveiligheidsagentskap by die beplanning van die oproer betrokke was, het Dlodlo gesê die departement is bewus van die bewering en dat dit ondersoek word.
#Newzroom405
Good job #SANDF pic.twitter.com/RZntNrN1ra— khumbudzo (@o_khumbu) July 13, 2021
Bheki Cele, minister van polisie, sê die polisie is intussen op die spoor van die aanhitsers en organiseerders van die geweld en is besig om diegene wat agter die geweld sit, te sif van ander betrokkenes wat deur die skares opgesweep is om aan die plundery deel te neem.
Cele is vandag ook uitgevra oor Dudu Zuma-Sambudla, ʼn dogter van oudpres. Jacob Zuma, en twiets wat sy die afgelope ruk gemaak het.
Volgens Cele word 12 vermeende opstokers in hierdie stadium ondersoek. Hy sê ook die polisie het inligting en name en dat hulle ondersoek word.
“Ons kan nie toelaat dat enigiemand ʼn bespotting van ons demokratiese staat maak nie. Ons het wetstoepassingsagentskappe opdrag gegee om hul pogings te verdubbel om die geweld te stuit en ontplooiing op voetsoolvlak te verhoog,” sê Cele.
Cele het ook ʼn beroep op mense gedoen om nie eiemagtig op te tree nie, maar saam met die polisie te werk om oproerigheid te help stuit. Hy het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nie te mobiliseer op grond van diegene wat “het en nie het nie”.
“Staan saam en veg teen misdadigheid in watter vorm ook al – solank jy net saam met die polisie en ander erkende en wettige strukture werk.
“Weier om dit uit ʼn rasperspektief te sien.”
Cele sê die polisie is nie vir “oorlogsituasies” geskep nie en dat polisielede altyd, ongeag die omstandighede, met die maksimum selfbeheersing moet optree. Hy sê indien die gevaar van lewensverlies bestaan, moet die polisie ʼn tree teruggee en die afdwing van die wet teen lewens opweeg.
Moontlike noodtoestand
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, sê in hierdie stadium is die situasie egter van só ʼn aard dat dit nie nodig is om ʼn nasionale noodtoestand af te kondig nie.
Sy sê dit lyk dalk tans of die situasie buite beheer is en dat mense paniekerig is, maar dat die regering nie in hierdie stadium dink ʼn noodtoestand kan geregverdig word nie. “Ek dink nie ons het daardie punt bereik nie,” sê Mapisa-Nqakula.
Daar word tans 2 500 weermaglede ontplooi om die polisiemag te versterk. Dit is veel minder as die getal soldate wat verlede jaar ontplooi is om die aanvanklike streng afsonderingsregulasies af te dwing.
Mapisa-Nqakula sê die ontplooiing word gerig deur intelligensie wat ingewin is, waarna besluit word watter getalle nodig is.
Oor kritiek dat winkelsentrums geplunder is sonder ʼn soldaat in sig, het Mapisa-Nqakula gesê hulle het nie die omvang van plundery by sentrums verwag nie.
Looters have pounced on Tugela Truck Stop and looted from about 5 trucks. Whichever truck stop you are in around the hotspot areas, please sleep with one eye open. pic.twitter.com/a9HT7rKOgO
— SA Trucker (@rsa_trucker) July 12, 2021
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
54 Kommentare
Cele jy is net een GROOT grap!
Ag oom cele, as dit is hoe dit lyk as jy ” nie onkant betrap” is nie, wil ek graag sien hoe die teendeel sal lyk.
Ha ha wat ‘n grap…..en net hy glo wat hy sê.
Min Ayanda Dlodo, die inteligensie diens kan nie bekostig om hier en daar iets te mis nie, soos jy dit stel, dit bewys net dat julle nie julle werk doen nie en indirek verantwoordelik is vir hierdie gemors
So, die aanval op die ANC se kantore kon afgeweer word, maar nie die op winkelsentrums wat baie mense se werk, brood en botter vernietig het. Hel, maar julle HET julle prioriteite reg.