
Brigadier Kushi Nair en Yusuf Abramjee. Foto: Verskaf.
Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder vir die polisie, het gesê inwoners van buurte wat onder die Brooklyn-polisiëringsarea val kan met die Namola-app misdade wat besig is om te gebeur of noodgevalle direk aan die patrollievoertuie rapporteer.
Die beamptes ontvang die inligting via Namola-toestelle wat in patrollievoertuie gemonteer is. Die toestelle is ook gekoppel aan beheerkamers. “Dit sal vinniger reaksietye en ʼn meer effektiewe vloei van inligting bewerkstellig,” het Weilbach gesê.
Wanneer iemand ʼn noodboodskap met die app uitstuur sal die naaste Brooklyn-polisievoertuig of die naaste Tshwane-metropolisievoertuig die presiese ligging van die voorval kan sien. Die eerste beampte wat beskikbaar is sal aan die voorval toegeken word en die beheerkamer sal ook deurentyd die situasie monitor. Die beheerkamer sal kan ingryp wanneer die situasie dit vereis. Die beampte is ook in staat om die persoon wat die noodboodskap gestuur het te skakel vir meer inligting indien nodig.
Weilbach het egter beklemtoon dat die app nie die skakel van die 10111-nommer vervang nie. “Die doel van die app is om die bestaande teenmisdaadhulpbronne te versterk en om vir gemeenskapslede nóg ʼn manier te gee om vinnig met die polisie in kontak te kom,” het Weilbach gesê.
Yusuf Abramjee, gemeenskapsleier en ambassadeur vir Namola, het aan Maroela Media gesê die app is al wel in verskeie toetslopies regoor Pretoria gebruik, maar dat dit nou vir die eerste keer volledig in Brooklyn geïmplementeer word. “Ons poog om dit binne die volgende paar weke uit te brei na omliggende gebiede aangesien die terugvoer tot dusver ongelooflik goed was,” het Abramjee gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
18 Kommentare
En wie gaan dit beheer, net soos 10111?
Wonderlik dat daar vooruitgang is….mag julle van krag tot krag gaan en dit dié eerste stap na beter polisiëring wees!
Ag kom nou Anton. Dit is n wonderlike stap in die regte rigting. Kom ons loof die SAPD vir die inisiatief. Dit lyk asof dit elektronies gaan wees dus hoef jy nie bang te wees dat die menlike elemente gebruik gaan word nie.
Agnee wat julle raak opgewonde oor niks. Presies dieselfde storie soos die spesiale nommer na prezie zumpie se kantoor toe. Niks daarvan gekom nie en soos antoon se wie gaan die ding beheer. Weer een of ander verkiedings foefie.
Uitstekende idee! Miskien moet iemand n app ontwikkel wat gemeenskapspolisieeringsforums ook kan gebruik, ook n app vir plaas gebiede.