Polisie-ombudsman sal ondersoek instel oor WK-dwelmhuise

Argieffoto ter illustrasie (Foto: RenoBeranger/Pixabay)

Oswald Reddy, die Wes-Kaapse polisie-ombudsman, het aangekondig dat hy ondersoek sal instel oor die polisie se versuim om op te tree teen dwelmhuise in die provinsie.

Reagen Allen, die DA se provinsiale woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, sê hy het verlede maand ʼn versoek by die ombudsman ingedien om die kwessie te ondersoek.

“Die DA in die Wes-Kaap verwelkom dié ondersoek en ons vertrou dat dit die redes sal onthul waarom die polisie nie in staat is om die onwettige aktiwiteit te voorkom wat ons gemeenskappe vernietig nie,” het Allen bygevoeg.

Allen sê omdat die ondersoek só belangrik is, sal hy, in sy hoedanigheid as voorsitter van die staande komitee oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, gereeld terugvoer versoek oor vordering wat die ombudsman maak.

Teen die einde van Junie 2021 het die polisie bevestig dat daar 1 577 dwelmhuise aktief in die Wes-Kaap bedryf word, waarvan 53% in die metro geleë is. “Die voorkoms van onwettige dwelmhandel in die provinsie, en die res van Suid-Afrika, bedreig die kohesie van gemeenskappe – veral diegene wat deur sosio-ekonomiese probleme in die gesig gestaar word.”

Allen sê dit is hoekom die ombudsman se ondersoek daarop sal fokus om te bepaal waarom die polisie nie in staat is nie om:

  • die vervaardiging en verskaffing van onwettige middels aan te spreek, asook die verbruik, besit en handeldryf daarmee; en
  • die bedrywighede van dié persele op te skort.

“Ons Grondwet plaas ʼn verantwoordelikheid op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om inwoners te beskerm en te beveilig deur kriminele aktiwiteit te verhoed, te voorkom en te ondersoek. In die Wes-Kaap, danksy die verslae oor polisiebehoeftes en prioriteite, weet ons dat die voortgesette wanbestuur en hulpbronbehoewendheid van die provinsiale polisie dit uiters moeilik maak om dié mandaat te vervul.”

Allen meen die sukses van die ondersoek sal ʼn groot bydrae lewer tot misdaadbekampingspogings in die provinsie om inwoners veilig te hou. “Ons ondersteun die ombudsman se versoek en doen ʼn beroep op persone en organisasies om inligting te verskaf wat die ondersoek kan bystaan.”

Stuur inligting per e-pos aan [email protected] voor 20 Mei 2022.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Wil hul nou eers iets daaraan doen. Te min, te laat…

Phillip

wat ek wil se . sal ek vir my self hou . Ons weet wie die baas is

Alfred E Neuman

Die polisie deel in die winste, verskaf die wapens aan die bendes. Wat anders kan n mens verwag.

Sarel

Wat van die Gemeenskappe wat die Misdadigers beskerm en die Polisie verhinder on hulke taak

Daar is suksesvolle metodes wst gebruik kan word maar dit druis in teen die ” Misdadiger” se ” Menseregte”
Kinders se lewens is van minder belang .