Polisie-onderhandelaar kry man uit hyskraan

Foto: IPSS/Twitter

Foto: IPSS/Twitter

ʼn Polisie-onderhandelaar moes vir langer as ʼn uur spook om ʼn man, wat ʼn hyskraan in Richardsbaai beset het, te oortuig om af te klim. Daar is aanvanklik vermoed dit was ʼn gyselaarsdrama.

ʼn Konstruksiewerker het net na 08:00 Maandagoggend besef ʼn man is in die hyskraan op ʼn konstruksieperseel in Lira Link. Die konstruksiewerker het die polisie ontbied.

Volgens Richard Schouten, van IPSS-nooddienste, was die man glo al van Sondagmiddag af in die hyskraan se beheerkajuit.

Schouten het gesê aanvanklik is vermoed die man hou iemand gyselaar in die kajuit. Nadat die polisie-onderhandelaar uiteindelik daarin kon slaag om die man te oortuig om homself oor te gee, het dit geblyk hy is alleen.

Brandbestryders het intussen ʼn mobiele hyskraan na die toneel laat kom, indien dit sou nodig wees vir nooddienste om die ander hyskraan se kajuit te bereik.

Kapt. Debbie Ferreira, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van onwettige betreding en kwaadwillige saakbeskadiging is aanhangig gemaak. Die verdagte het nie op die konstruksieperseel gewerk nie en dit is nog nie duidelik wat tot die voorval aanleiding gegee het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wilma ·

Dit is nou tyd en geld mors. Dis nie sy eiendom of plek nou waarvoor onderhandel!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.