Polisie ondersoek bendeskietery in Port Elizabeth

Polisiebeamptes aan diens in Port Elizabeth Foto: Raahil Sain

Die polisie in Port Elizabeth ondersoek ʼn saak van poging tot moord ná nóg ʼn skietery in die stad se noordelike dele.

Kol. Priscilla Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 29-jarige man het Maandagaand omstreeks 19:30 saam met sy vriende naby ʼn winkel in Buysstraat in Bloemendal geloop toe hulle skote gehoor het. “Die mans het begin hardloop en die slagoffer het later ontdek hy is in die been getref. Die skieter is onbekend.”

Die provinsiale eenheid wat georganiseerde misdaad ondersoek, ondersoek ʼn saak van poging tot moord.

Bendegeweld het Maandag in die noordelike dele van Port Elizabeth uitgebreek en drie laerskole is gesluit nadat besorgde ouers hul getraumatiseerde kinders by die skool gaan haal het ná ʼn paar skietvoorvalle.

Die polisie se taktiese reaksie-eenheid is in die gebied ontplooi. Lede van die gemeenskap en skoliere bly op hoë gereedheid te midde van geweerskote.

Clifton Jantjies, skoolhoof van Strelitzia Primary School in uitbreiding 31 het gesê bendelede skiet op mekaar voor die skool se hek en het Maandagoggend die skool te perseel betree. Leerlinge het in die skoolsaal in gevlug. Jantjies het gesê daar was ook ʼn skietery tussen die bendelede en die polisie toe beamptes by die toneel opgedaag het.

Naidu het bevestig die polisie gebruik rubberkoeëls.

Yul Billet, skoolhoof by Kroneberg Primary School in uitbreiding 21, het gesê ʼn moord Maandagoggend in Kolatastraat het paniek gesaai, omdat leerders deur die straat moes loop op pad skool toe. Polisiebeamptes het leerders gevra om terug te keer huis toe, omdat dit nie in daardie stadium veilig was om by die skool uit te kom nie.

Naidu het bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van moord ná Sergio Moss (28) doodgeskiet is terwyl hy in sy motor geslaap het. “Twee verdagtes het vermoedelik ʼn erf in Kolatastraat betree. Hulle het twee skote deur die passasiersvenster afgevuur en Moss is in die gesig getref.”

Naidu het gesê die polisie is steeds besig om huise, strate en wegkruipplekke van bendelede te deursoek. Die polisie het teen Maandag reeds beslag gelê op agt vuurwapens en ammunisie. Twaalf verdagtes is in verskillende voorvalle in hegtenis geneem.

Vier mense is oor die naweek in verskillende skietvoorvalle dood in Bethelsdorp en Bloemendal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jc ·

Sal almal uitkom met borg en saak sal eers weer in Desember voort gaan. Intussen doen hulle maar weer die selfde ding. Ai tog, ons wette is maar net vir die kriminele.

Michelle ·

Dis die bende wat die polisie vertel wat om te doen. Die bende is in beheer orals Cele het al probeer almal het al probeer die ouers staan agter die bendes. Niks sal hiervan kom nie as hul nie die hele plek toemaak en ‘n hardhandige klopjag uitvoer elke week nie vergeet dit die jonger “rule” .

jakes ·

Om moord te pleeg in SA is so algemeen soos om te eet. Cowboys en crooks word uurliks in woonbuurte met regte wapens en amunisie gespeel en weinig word die kriminele aangekeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.