Polisie ondersoek bewerings van kinderontvoering

Argieffoto

Argieffoto

Die Wes-Kaapse polisie het bevestig gerugte van kinderontvoeringpogings word ondersoek nadat ʼn tienjarige meisie glo byna buite ʼn laerskool in dié provinsie ontvoer is.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van poging tot ontvoering word ondersoek na aanleiding van die voorval Woensdag voor ʼn laerskool in die Wes-Kaap. Die meisie het glo by die hek van die skool gestaan toe ʼn vrou in ʼn wit Toyota Quantum-bussie by haar stilhou en haar gevra het om na die voertuig toe te kom.

“Die verdagte het haar probeer gryp, maar die kind kon daarin slaag om te ontsnap. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het Traut gesê. Hy wou nie die naam van die skool bekendmaak nie. Maroela Media het verneem van beweerde ontvoeringspogings by laerskole in die Strand en Caledon.

Enkele dae ná die beweerde voorval by die laerskool het ʼn sosialemediagebruiker, Antoinette Swanepoel-Dyers, in ʼn Facebook-inskrywing beweer dat ʼn onbekende vrou met blonde hare Saterdag in die Somerset-winkelsentrum foto’s van haar kinders probeer neem het. Swanepoel-Dyers het gesê sy het gesien hoe die vrou met haar selfoon foto’s van haar kinders neem en toe vinnig wegstap toe sy sien dat hulle dit opgemerk het.

Swanepoel-Dyers beweer sy het die vrou genader en gevra waarom sy foto’s van haar kinders neem, waarna die vrou beweer het dat sy ʼn “straatfotograaf” is. Swanepoel-Dyers het die sentrum se veiligheidswagte geroep en die vrou is gedwing om die foto’s van haar foon te verwyder. Die vrou is daarna weer laat gaan.

Traut het aan Maroela Media bevestig dat die polisie bewus is van die voorval, maar dat geen aanklag in dié verband aanhangig gemaak is nie. Hy het ook gesê die polisie is bewus van bewerings en waarskuwings oor kinderontvoerings wat op sosiale media die ronde doen, maar het gesê hy kan nie bevestig of daar enige waarheid in steek nie weens ʼn gebrek aan bewyse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sulandri ·

My ma en tannie het so 2 of 3 weke terug in Potchefstroom met my 5jarige dogtertjie by Mikes kitchen gaan eet. My dogtertjie het buite gaan speel en toe sy terug kom se sy vir my ma hul,die oom wat daar buite werk het fotos van haar geneem. My tannie en ma het toe dadelik na die tuin jong gegaan sy foon gevat en fotos vir bestuurder gaan wys,daar was tot een waar hy my dogtertjie vashou . Dit draai toe uit dat hy daai dag eers daar begin werk het en hy is na hul die fotos van my dogtertjie afgehaal het op die spot gefire. Toe kom dit ook uit dat daar n sindikaat is.My dogtertjie verstaan nou hoekom ons altyd se om nie met vreemde mense te praat nie

Lance ·

Die polisie ondersoek ….!!! Hulle kan nie eers hulle self ondersoek nie ….die wat hulle nou uit desperaadheid die ou polisie lede vra om terug te kom ….dit spreek boekdele !!

Liesl ·

Ek is bly dat die polisie die sindikaat / fotonemery ondersoek – my dogter is in Hermanus afgeneem deur ‘n blonde vrou, met ‘n ligblou “tablet tipe” foon – sy en haar maatjies. Die vrou was nie net 1x by Hermanus Laerskool nie …. !! Daar is ook glo “verdagtes” gesien in Stanford en Hawston … so die Overbergarea is ook in gevaar – ek hoop die polisie stel hier ook ondersoek in!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.