Polisie ondersoek brandstigting ná jeugsentrum brand

Foto: Pixabay

Die Bloemfonteinse polisie ondersoek ʼn moontlike geval van brandstigting nadat ʼn kinder- en jeugsentrum in Willows vroeg Maandagoggend afgebrand en meer as R1 miljoen se skade gely het.

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, sê niemand is in die voorval beseer nie.

Volgens Marope het die huisvader in die vroeë oggendure wakkergeskrik as gevolg van die rook wat deur die huis begin beweeg het en daarna die Mangaung-brandweerdiens onmiddellik in kennis gestel.

“Dit is in dié stadium nie seker presies wat die brand veroorsaak het nie, maar die Mangaung-brandweermanne is steeds besig met ʼn voorlopige ondersoek. Kundiges van die polisie het ook die toneel besoek om vas te stel presies wat die oorsaak van die brand is. Indien iemand vir die brand verantwoordelik is, sal die skuldiges gewis aan die pen ry,” het Marope gesê.

Hy sê dié sentrum het bykans alles in die brand verloor. Al die meubels, klere, beddegoed en skoolboeke asook die skoolbus, ʼn woonwa en ʼn sleepwa is in die brand verwoes.

Die verliese word geskat op bykans R1,6 miljoen.

“Dit is net die dak wat nie ingetuimel het nie. Verder het die sentrum alles verloor,” het Marope gesê.

Die uitslag van die ondersoek sal weldra bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie ·

Al die universiteite wat miljoene aan brandstigting verloor het. Wys my, met video materiaal waarop mense uitgeken kan word, net een persoon wat al boete gedoen het. Asb. Maroela, julle kan dit seker opvolg

H ·

Dit is so hartseer. Daai kinders het so min gehad en nou het hulle niks.

Eish ·

Uiters tragies. Hul bestuur normaalweg die instansies met die minimum geld. Staatsbydraes is minimaal. Die mense gaan hulp nodig hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.