Polisie ondersoek hoe plaasmoordverdagte kon ontsnap

Drs. Werner en Mariette Emslie. Foto: Via Facebook

Die Limpopo-polisie het bevestig ʼn volskaalse soektog is van stapel gestuur na ʼn Zimbabwiër wat vroeër uit aanhouding by die Lephalale-polisiestasie ontsnap het.

Die ontsnapte, Petros Moyo (27), is verhoorafwagtend in verband met die onlangse moord op dr. Werner Emslie (55) op sy plaas buite Lephalale (Ellisras).

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Moyo het Maandagaand uit die aanhoudingselle by die Lephalale-polisie ontsnap.

“Hy het Maandag weer in die Lephalale-landdroshof verskyn waar hy teregstaan op aanklagte van moord, huisbraak en diefstal. Daar is intussen ook vasgestel hy is onwettig in die land,” het Ngoepe gesê. Moyo se saak is daarna tot 14 Desember uitgestel vir verdere ondersoek. Hy is nie borgtog toegestaan nie.

Ngoepe het gesê die presiese omstandighede rondom die ontsnapping word behoorlik ondersoek in opdrag van die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Nneke Ledwaba. “Die voorlopige ondersoek dui daarop dat hy deur die versperrings van die polisiesel gesaag het.”

Die ondersoek sal bepaal waar Moyo die toerusting gekry het en of hy enige hulp gehad het.

Enigiemand wat die verdagte opmerk, word versoek om brig. Masia by 082 319 9285 of hul naaste polisiestasie te skakel. Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van die misdaadbestrydingsorganisasie Heritage Protection Group (HPG), kan ook by 071 798 7954 gekontak word.

Maroela Media het vroeër berig Moyo is op 18 Oktober in Frankfort in die Vrystaat in hegtenis geneem ná volgehoue pogings deur die Lephalale-polisie se taakspan, speurders, misdaadintelligensie-eenheid en HPG.

Buiten die aanval op Emslie, en sy vrou, dr. Mariette Emslie (55), word Moyo glo ook verbind met huisroof- en inbraaksake in Lephalale en Frankfort. Moyo het op 20 Oktober vir die eerste keer in die hof verskyn en was sedert sy inhegtenisneming in aanhouding.

Louwrens het vroeër ʼn beroep op die publiek gedoen om na Moyo te help soek, uit vrees dat Moyo dalk terug kan vlug na sy tuisland.

Lees die vorige berigte oor die Emslie-egpaar se aanval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Die polisie ondersoek die polisie, hoe belaglik!

Ruby

Onbevoegdheid of sameswering is opsies.

Speedguard

Wat ‘n skande !!! Wie doen die inspeksies in die selle ?? Dit is om van mal te word om te weet daar is mense wat hul lewens nutteloos verloor, mense wat die oortreders vas trek en alles dan net in die niet verdwyn, Skande , Skande !!! Ek is seker hul pas dronk bestuurders beter op !

CAROL

INSIDE JOB!!!

Vermeende

Ek kan nie anders nie, was dit n ontsnapping of n vrylating aangesien die SAPD plaasmoorde nie as n pojoriteit sien nie??