Polisie ondersoek of vrou gekaap, vergiftig is

Jacques Buitendag en Dominique du Plooy. Foto: Facebook

Daar is steeds geen antwoorde omtrent die raaiselagtige dood van ʼn 29-jarige vrou van Pietermaritzburg nie.

Dominique du Plooy se familie het op sosiale media aangevoer dat sy gekaap en toe deur die kapers gedwing is om ʼn middel te drink waarna sy dood is.

Kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig Du Plooy is Vrydag omstreeks 08:00 bewusteloos na aan die pad by Kelburn Place in Hayfields gevind.

“Sy is na ʼn hospitaal geneem waar sy kort na haar aankoms dood verklaar is,” het Mbele gesê.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin en die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. “Ons wag nog op die uitslae van die nadoodse ondersoek om die oorsaak van haar dood vas te stel.”

Die polisie wou geen verdere inligting bekend maak nie. Du Plooy se familie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Jacques Buitendag, Du Plooy se kêrel, het ʼn huldeblyk op Facebook vir haar geplaas. Hy het onder meer geskryf dat sy net op die regte tyd deel van sy lewe geword het en vir hom gewys het wat ware liefde beteken.

Volgens Buitendag het hulle in net ʼn paar maande ʼn baie sterk emosionele band gevorm. “Ons God het ʼn ander plan vir ons gehad en Hy het jou kom haal om by Hom en al die engele in die hemel te wees.

“Ons verstaan nie hoekom nie en ook nie hoekom so vroeg nie, maar ek het troos in my hart dat jy hemel toe is terwyl jy geweet het hoeveel jy werd is en hoe lief ek vir jou is,” het hy geskryf.

“Jy is een asemrowende mens my Dommie en die tyd wat ek saam met jou spandeer het en die ongelooflike herinneringe wat ons gemaak het sal vir altyd in my hart leef en ek weet in joune ook. Ek is lief vir jou met my hele wese. Tot ons weer ontmoet my kosbare engel,” sluit hy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.