Polisie ondersoek poskantoor-geweld

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie ondersoek minstens 167 sake van geweld wat verband hou met die staking by die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO), het die minister van telekommunikasie en posdienste gesê.

Minister Siyabonga Cwele het in antwoord op vrae in die Nasionale Vergadering gesê die geweld tydens die staking is kommerwekkend. Hy het gesê 167 sake van onder meer kwaadwillige saakbeskadiging, intimidasie en aanranding is by die polisie aanhangig gemaak.

Cwele het gesê hy sal voortgaan om met die poskantoor en vakbonde in gesprek te tree ten einde te verseker dat werkers terugkeer werk toe. Hy het ook aangekondig dat ʼn omkeerstrategie in plek gestel sal word ten einde die finansiële krisis by die poskantoor aan te spreek. Daar is ook ondersoeke van stapel gestuur oor voortdurende onreëlmatige besteding by die poskantoor.

“Die president het in Februarie vanjaar ʼn proklamasie onderteken wat die spesiale ondersoekeenheid magtig om ondersoek in te stel na bewerings van wanadministrasie by die poskantoor,” het Cwele gesê. Die minister stel intussen ondersoek in na die leierskapprobleme by SAPO. “Ek het aan die raad geskryf oor die voortgesette ongerymdhede en hulle reageer daarop. Wanneer ons dit finaliseer en bevind dat daar dinge verkeerd gedoen is, sal ons aksie neem.”

LP’s het vroeër die maand gehoor dat die poskantoor op die randjie van ineenstorting is weens finansiële probleme en die voortslepende staking.

Klik hier om vorige berigte oor die poskantoor te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.