Minister Siyabonga Cwele het in antwoord op vrae in die Nasionale Vergadering gesê die geweld tydens die staking is kommerwekkend. Hy het gesê 167 sake van onder meer kwaadwillige saakbeskadiging, intimidasie en aanranding is by die polisie aanhangig gemaak.
Cwele het gesê hy sal voortgaan om met die poskantoor en vakbonde in gesprek te tree ten einde te verseker dat werkers terugkeer werk toe. Hy het ook aangekondig dat ʼn omkeerstrategie in plek gestel sal word ten einde die finansiële krisis by die poskantoor aan te spreek. Daar is ook ondersoeke van stapel gestuur oor voortdurende onreëlmatige besteding by die poskantoor.
“Die president het in Februarie vanjaar ʼn proklamasie onderteken wat die spesiale ondersoekeenheid magtig om ondersoek in te stel na bewerings van wanadministrasie by die poskantoor,” het Cwele gesê. Die minister stel intussen ondersoek in na die leierskapprobleme by SAPO. “Ek het aan die raad geskryf oor die voortgesette ongerymdhede en hulle reageer daarop. Wanneer ons dit finaliseer en bevind dat daar dinge verkeerd gedoen is, sal ons aksie neem.”
LP’s het vroeër die maand gehoor dat die poskantoor op die randjie van ineenstorting is weens finansiële probleme en die voortslepende staking.