Polisie ondersoek tref-en-trap ná juffrou deur bakkie gesleep is

Suzanne Leyden. Foto's: Verskaf.

Suzanne Leyden. Foto’s: Verskaf.

Die polisie ondersoek ʼn tref-en-trap-saak nadat Suzanne Leyden, die 36-jarige ma en onderwyseres van Randburg, Donderdagoggend etlike meter ver in Sandton, Johannesburg deur ʼn bakkie saamgesleep is.

Leyden, ʼn Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Sandown in Sandton, was Donderdagoggend op pad skool toe, toe sy omstreeks 07:00 in ʼn geringe botsing by die William Nicol-rylaan en Sandtonweg-kruising betrokke was.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburg-metropolisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê ʼn ooggetuie wat langs die pad gestaan het, het gesien hoe ʼn wit man in ʼn wit bakkie (ʼn Hilux of ʼn Isuzu) Leyden se wit Audi A4 van agter tref.

“Die getuie het haar sien uitklim en sy het na die bakkie geloop om die man se inligting te kry,” het Minnaar gesê. “Die bakkie se bestuurder wou glo nie uit die voertuig klim nie. Dit het vir die ooggetuie gelyk of die twee in ʼn argument was. Leyden het glo haar arm deur die venster ingestrek om vermoedelik die sleutels af te neem, waarna die man weggetrek en haar langs die bakkie saamgesleep het.”

Daar word vermoed dat Leyden se arm in die venster vasgehaak het. Die bestuurder van die bakkie het glo vlugtig gestop, haar losgehaak, en weer weggery. Dit is toe dat sy onder die bakkie beland en ʼn paar meter ver gesleep is. Die bakkie het van die ongelukstoneel weggejaag en die bestuurder word steeds gesoek.

Marlize Leyden, Suzanne se suster, het Donderdag aan Maroela Media gesê haar suster se toestand is steeds kritiek maar stabiel. Leyden het kopbeserings opgedoen en het bloeding op die brein. “Sy gaan heelwaarskynlik die hele naweek lank in ʼn geïnduseerde koma gehou word totdat die bloeding en swelling gesak het,” het Leyden gesê.

Leyden het ʼn vyfjarige seun, Armand.

Die metropolisie het ’n dossier van tref-en-trap en roekelose of nalatige bestuur by die Bramley-polisiestasie aanhangig gemaak. Die saak is na die Parkview-polisiestasie oorgeplaas vir verdere ondersoek. Maroela Media wag vir terugvoer van die stasie.

Klik hier vir meer stories oor die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ken ·

Vang asseblieftog daai verdomde bakkiebestuurder en maak seker daar’s behoorlike tronkstraf!!!!

Eduard ·

Ek is bly om te sien dat hulle nou die ras van mense begin bekend maak. Ek hoop hulle doen dit met alle berigte.

Suzanne ons bid vir n spoedige en volkome herstel na die gemors jou se seer gemaak het!

Dave ·

‘ ‘n Wit man’ wat die bakkie bestuur het. Vreemde bewoording want moordenaars en rowers is gewoonlik nie swart mans nie maar bloot ‘mans’. Hierdie keer is dit ‘n wit man. Selfs nie eens vir identifikasie doeleindes word swartes swart genoem nie. Ek hoop egter dit dien ‘n identifikasie-doel en dat die ‘wit man’ vasgetrek word en met die volle mag van die wet te doen kry.

Leeutjie ·

Nou weet ons ook Dave as hulle praat van mans dan is dit nie wit mans nie! Ek het al agtergekom as hulle praat van mense dan is dit ook nie wit nie.

Eduard ·

Dave ons het ons verskille maar die keer stem ek 200% saam met jou!

Leeutjie ·

Toemaar Eduard, ek lag nou lekker… ja daar is dae wat ek ou Dave se nek wil omdraai as ek hom in die hande kry. Maar die ou is darem seker nie altyd stout nie!

annatjie ·

Ek glo die bestuurder van die bakkie sal opgespoor word. Dis net ‘n dom besluit om jou hand in ‘n voertuig te druk om sleutels af te neem, veral in die tyd wat ons leef. Woede kan jou dood veroorsaak. Ek hoop en bid hierdie dame herstel volkome.

Leeutjie ·

Ek stem 100% Annatjie. Hy kon netsowel ‘n vuurwapen by hom gehad het. Jy doen dit nie! Skryf sy registrasie nommer af! Sjoe, in ‘n oomblik van (verloor jouself) kan ongelooflike implikasies he. Ek moet erken ekself vererg my ook en was ook in ‘n padwoede betrokke waar ek “retaliate” het! Sommige mense het dit net in hulle om dit te ontlok….

Radio Raps ·

Geweld roep geweld. As jy aggresief optree reageer die ander persoon dienooreenkomstig. Bly altyd kalm al is jy die verontregte!

Radio Raps ·

Geweld roep geweld. As jy aggresief optree reageer die ander persoon dienooreenkomstig. Bly altyd kalm al is jy die verontregte!

pop ·

Altyd die ras ding. Dis of ons mense al kwater en hatiger word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.