Polisie ondersoek twee dubbelmoorde

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Vier mense, onder wie ʼn polisiekonstabel, is Saterdagaand in twee afsonderlike voorvalle in die Wes-Kaap doodgeskiet.

Die polisie ondersoek nou vier moordsake en was teen Sondag steeds na die verdagtes op soek.

Volgens kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het drie gewapende mans omstreeks 20:30 by ʼn huis in Melanistraat in Driftsands, Mfuleni, ingebreek en op drie mense losgebrand.

ʼn 40-jarige man en ʼn 37-jarige vrou is tydens die voorval doodgeskiet, terwyl nóg ʼn vrou (37) beseer is en tans in die hospitaal behandel word. Sy is in die been geskiet.

Volgens die polisie se inligting het die rowers selfone gesteel en in een van die slagoffers se silwer Peugeot gevlug. Die model van die motor is nie bekendgemaak nie.

Kort daarna, omstreeks 20:45, is twee mans, van wie een ʼn 28-jarige polisiekonstabel van die Delft-polisiestasie, in ʼn taxi in Jungle Walk, Langa, doodgeskiet. Die konstabel was nie tydens die skietery aan diens nie. Dis nie duidelik hoeveel verdagtes hierby betrokke was nie.

Nog twee passasiers was ten tyde van die voorval in die taxi, maar is ongedeerd.

Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die motief is nie in dié stadium bekend nie.

Die ondersoek en soektog na die verdagtes duur tans voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Outspoken ·

Hierdie land se moordsyfers skiet die hoogte in en daar word absoluut niks daaraan gedoen nie. Die kriminele is nie meer bang vir die gereg nie, hulle weet hulle sal dalk sit vir ‘n jaar en dan op parool vrygelaat word. Dis tyd om weer die doodstraf terug te bring. ‘n Lewe vir ‘n lewe!

Swerwer ·

Gewildste Nasionale sport van die RSA tans. Waar daar nie dissipline en respek is nie, gaan dit so.
Die huidige Regering het ongelukkig alle dissipline in ‘n oogwink in ons land tot niet verklaar.

Blomme ·

Ai… Our people roei dan our people op grootskaal uit! Geweld is regtig buite beheer. Arme ANC regering sit met ń probleem.

Magda ·

Al hierdie moorde moet voor CELE SE deur gele word, sy skuld dat die land in n wilde weste geword het.. Die ANC EN EFF STEL n baie goeie voorbeeld, want di polisie mag is een groot grap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.