Polisie ondersoek wel klagte teen Makhubo, Tau – ActionSA

Geoff Makhubo, burgemeester van Johannesburg (Foto: ANC Johannesburg/Twitter)

ActionSA sê die polisie het bevestig sy eenheid teen ernstige handelsmisdaad ondersoek die klag wat hy teen Johannesburg se burgemeester, Geoff Makhubo, en oudburgemeester Parks Tau aanhangig gemaak het.

ActionSA het verlede jaar ʼn rits private vervolgings teen persone van stapel gestuur wat ten spyte van “verdoemende getuienis teen hulle” steeds vervolging vryspring.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê een van hierdie sake is ʼn beweerde korrupte verhouding tussen Makhubo, Tau en die maatskappy Regiments Capital.

Tau is tans die adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake.

ʼn Verslag deur amaBhungane het aangevoer Makhubo en Tau was glo die baasbreine agter ʼn R30 miljoen-meevaller – waarby Makhubo glo sou gebaat het – deur hom toe te laat om onregmatig as tussenganger vir Regiments Fund Managers op te tree.

Aanklagte teen hulle is reeds in 2018 aanhangig gemaak en het bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery ingesluit.

Sommige van die getuienis wat verband hou met hierdie aanklagte het in November verlede jaar by die Zondo-kommissie ter sprake gekom. Verdere getuienis gaan na verwagting gelewer word wanneer Makhubo weer voor die kommissie verskyn.

“Ons aanvanklike vergaderings met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en wetstoepassingsowerhede het gewys dat baie min, indien enigiets, gedoen is sedert die saak in 2018 aanhangig gemaak is. Inteendeel, die NVG het bevestig hy het geen kennis van die saak nie,” het Mashaba gesê.

“Dit wys hoe politieke uitverkorenes deur die strafregstelsel beskerm word.”

Hy sê die polisie se bevestiging dat hy die saak ondersoek, is die eerste groot deurbraak in die private vervolgings wat ActionSA van stapel gestuur het.

“Dit wys hoekom burgerregtegroepe ʼn belangrike rol speel om diegene in die strafregstelsel aanspreeklik te hou vir hul optrede, of gebrek aan optrede.”

Mashaba sê ActionSA gaan die ondersoek fyn dophou om te verseker Makhubo word in hegtenis geneem en kry sy dag in die hof.

“Dit is die enigste troos wat ons kan bied aan die inwoners van Johannesburg oor hul stad wat bestuur word deur ʼn individu wat ernstig betrek word as ʼn groot rolspeler in die ANC se georganiseerde staatskaping.”

Mashaba sê ook indien hy in enige stadium agterkom daar word ingemeng met die NVG se besluit om te vervolg, of die besluit word vertraag, is sy regspan gereed om die hof te nader.

“Ons is vas oortuig dat die strafregstelsel net sonder vrees of vooroordeel gaan werk as die ANC nie meer nasionaal aan bewind is nie. Terwyl ons werk om die ANC landwyd te ontsetel, sal ons aanhou om private vervolgings te gebruik om te verseker politiek gekoppelde misdadigers ry aan die pen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Drie hoera’s vir Herman Mashaba!!! Hoog tyd dat skuldiges vervolg word en ons die $$$$ kan terug kry waar dit hoort.

Elize ·

Ek stem. Die enigste redding vir die land is om die ANC uit die kussings te lig

JohanR ·

Bly daar is ‘n saak hier, maar sal die saak eers in 2035 afgehandel wees?

jzjz05 ·

Nooit nie nie eers in 2025 nie ,Kyk maar hoe oud is Jacob Zuma se saak ??en die einde is nog vernie in sig nie.

Ou bees ·

Ja sien is glo praatjies is goedkoop. Hoeveel geld is nie nog weg van daai tyd af nie wat alles sloer?

Dries ·

Ek sal graag wil weet hoeveel van die ANC parlementlede is nie vrot tot in die been van korrupsie nie ????

pompies ·

Baie bly daar is n Herman Mashaba wat die ANC se truuks ken en hy het mos gese hy haat korrupsie in al sy vorme. Goed so gee die man n bells ek hoop net hulle ry aan die pen, wag nog vir Ace en trawante om bietjie in die hof te begin verduidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.