Polisie ‘oneerlik’ met onderskep van kommunikasie

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die moontlikheid van regsaksie teen polisiebeamptes te ondersoek wat skynbaar hul posisies misbruik vir politieke doeleindes.

Dit volg ná daar in ’n onlangse verslag bevind is dat polisieondersoekers oneerlik is oor die redes vir hul aansoeke om mense se kommunikasie te onderskep. Bess Nkabinde, ’n afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, is aangestel om die onderskep van kommunikasie te ondersoek.

Die verslag is verlede week aan die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie voorgelê.

Luidens die verslag is dit bykans onmoontlik om vas te stel of die redes wat aangevoer word vir dié soort aansoeke, eg of gefabriseer is.

Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, verwys in ’n verklaring spesifiek na ’n geval waar joernaliste se persoonlike kommunikasie onderskep is ná lede van die polisie inligting gefabriseer het om toestemming by ’n regter te kry om die kommunikasie te onderskep.

Die polisielede het beweer dat hulle die joernaliste se kommunikasie wil bekom omdat hulle glo outomatiese tellermasjiene opgeblaas het.

Nkabinde het ook bevind dat dit bykans onmoontlik is om boek te hou van die groot aantal aansoeke vir kommunikasie-onderskepping omdat daar glo ’n oortollige aantal saaknommers aan die versoeke gekoppel word.

“Dit is teen hierdie tyd algemeen bekend dat die Zuma-administrasie die land se intelligensiestrukture uitgebuit het om politieke faksiegevegte te veg. Dit is uiters kommerwekkend om te hoor dat die strukture stééds uitgebuit word en dat daar só baie gevalle is van polisielede wat onder valse voorwendsels inligting onderskep,” sê Broodryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Nog altyd gese die grootste skelms is in die polisie. Hulle het mooi geleer by hulle anc regering. Hoekom moet ons belastingbetalers julle skelms betaal dit gaan my verstand te bowe.

Jack ·

Niks meer verwag nie. Nie eers nodig om die vanselfsprekende te publiseer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.