Polisie ontken dat beskerming vir KZN-koninklikes onttrek is

Prins Misuzulu Zulu is as die nuwe Zoeloekoning aangewys. (Foto: AFP)

Die polisie het berigte dat die koninklike familie in KwaZulu-Natal se beskerming onttrek is ten sterkste ontken.

“Dit is nogal jammer dat inligting, oor sodanige beskerming wat onttrek is, openbaar gemaak is sonder dat die SAPD se leierskap vir bevestiging hiervan genader is,” het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.

Dr. Mangosuthu Buthelezi, premier van die Zoeloevolk, het in ʼn verklaring gesê hy het van die paleis verneem dat lede van die polisie se BBP-beskermingseenheid opdrag gekry het om hulle te onttrek. Volgens Buthelezi is daar verneem dit is glo gedoen omdat die nuwe Zoeloekoning se aanwysing nog nie deur die regering bevestig is nie. Hy is dus nog nie op BBP-beskerming geregtig nie.

Naidoo het gesê die beskerming vir die koninklike familie word deur ʼn bedreigingsbeoordeling bepaal en dit word op ʼn deurlopende grondslag hersien.

Prins Misuzulu Zulu is Vrydagaand as die nuwe koning van die Zoeloes aangekondig waarna hoogdrama gevolg het. Van die lede van die koninklike familie is glo nie gelukkig met die manier waarop die nuwe koning aangekondig is nie.

Buthelezi het Saterdag die paleis besoek en ná afloop daarvan aan die media gesê Zulu is reeds op die troon. Zulu is kort ná die aankondiging Vrydag vinnig deur swaar gewapende lyfwagte omring voordat hulle in ʼn konvooi daar weggery het. Buthelezi het bevestig die nuwe koning is in Eswatini om sy persoonlike besittings te kry waarna hy sal terugkeer.

Rakende die beweerde onenigheid in die koninklike familie oor sy benoeming as nuwe koning, het Buthelezi gesê die koninklike familie het reeds hul steun en lojaliteit aan Zulu beloof. Hy het gesê diegene wat nie met die proses saamstem nie, is welkom om ʼn hof te nader. Daar is glo familielede wat reeds regsadvies hieroor inwin.

Zulu (46) is die oudste seun van die ontslape koning Goodwill Zwelithini (72) en sy ontslape vrou, koningin Mantfombi Dlamini Zulu (65). Hy is in die testament van die koningin as opvolger aangewys. Haar testament is Vrydagaand ná haar gedenkdiens deur haar prokureur voorgelees en dit is regstreeks uitgesaai.

Die koningin, wat die tussentydse leier van die Zoeloes was ná haar man se dood, is einde April dood. Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend gemaak nie. Koning Goodwill is in Maart aan Covid-19 dood. Hy het ses vroue en 28 kinders agtergelaat.

Die koningin het agt kinders, onder wie vyf seuns, by Goodwill gehad. Daar is reeds vroeër bespiegel dat sy waarskynlik haar oudste seun, prins Misuzulu, as die volgende Zoeloekoning sou aanwys.

Sedert die dood van die ontslape koningin, Goodwill se derde vrou en suster van Eswatini se koning Mswati III, het verskillende faksies in die koninklike familie probeer om hul kandidate as troonopvolger te laat aanwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
petro

nou hoekom moet hulle beskerm kry dan moet die boere ook beskerm kry

koos10

Zulu koning, Zulu’s moet dan betaal?
Ek moet my eie sekuriteit by my huis betaal maar die helfde van die SAPD se begroting word spandeer om 600 mense op te pas. Is hulle so bang vir hulle eie out people!

Snowball

Teen wie word hy beskerm? Sy eie familielede of iemand wat die Zoeloes gaan aanval, of inval???? Pot snot waarvoor ons moet hoes.

Bernard

Die “troon” is R63-miljoen/jaar werd. G’n wonder daar word gestoei om snoete in die trog te kry nie!

Jaco

Die regeringsbeleid om tradisionele stamhoofde en konings salarisse te betaal, kom vanaf Britse kolonialisme. ALLE wit regerings in SA vanaf 1910 het met dié beleid voortgegaan. Dis ook nogal ironies dat die Nasionale Party se apartheidsbeleid dié stelsel die meeste uitgebrei het. Na 1994 het die ANC die beleid net so behou. So as daar nou gekla word oor geldmors met dié stelsel, moet die blaam so 150 jaar of meer teruggaan na wit koloniale heersers en al die nogal wit regerings wat hulle opgevolg het. Kortom hierdie stelsel wat die “hulle” van nou so lekker toepas, het hulle by… Lees meer »