Polisie ontken gerugte oor Mooinooi-vroue

Joey van Niekerk en Anisha van Niekerk. Foto: Via Facebook

Die polisie in Noordwes het Vrydagmiddag weereens beklemtoon dat die polisie geen bewyse gevind het wat met die verdwyning van Joey en Anisha van Niekerk verband hou nie.

Dit kom nadat mediaberigte Vrydag beweer het dat beendere gevind is wat vir forensiese toetse gestuur is om te bepaal of dit die oorskot van Joey (32) en Anisha (30) is.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het die berigte ten sterkste ontken. “Ons het niks gevind nie. Die polisie is steeds besig om na die vermiste persone te soek. Van my kant af kan ek bevestig dat daar geen nuwe inligting aan die lig gekom het wat met die verdwyning van die vermiste persone verband hou nie,” het hy gesê.

Wynand van Niekerk, Anisha se broer, het ook aan Maroela Media gesê hy dra geen kennis van die gerugte nie. Hy het gesê dat die familie slegs tot op ʼn punt oor die polisie se forensiese ondersoek ingelig word, om te verhoed dat die ondersoek benadeel word.

Van Niekerk het bevestig dat hy Vrydag in die Brits-landdroshof was waar vier verdagtes in verband met Joey en Anisha se verdwyning verskyn het

Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53), Alex Mudau (36) en ‘n vierde verdagte het vlugtig op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg verskyn.

Die vierde verdagte se naam word weerhou omdat daar tans onsekerheid is of hy minderjarig is of nie. Die verdagte se regsverteenwoordiger het Vrydag aangevoer dat sy kliënt minderjarig is, maar kon geen bewyse hiervan aan die hof lewer nie.

Die saak is tot 5 Januarie 2018 uitgestel om onder meer die staat die geleentheid te gee om die verdagte se ouderdom vas te stel. Al vier verdagtes sal in polisieaanhouding bly tot hul volgende hofverskyning.

Maroela Media het vroeër berig Joey (32) en Anisha (30) is op 10 Desember omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar is sedertdien nie weer gesien nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is Saterdagoggend in die Magaliesburg-omgewing gevind. Daar was egter geen teken van die vroue nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ander Annie ·

Sterkte aan hierdie families. Ek kan myself net indink deur watse spanning hulle gaan. Daar is altyd hoop.

WieJan ·

Want sodra daar geld op die spel is “gaan iemand eweskielik met die antwoorde uitkom”. Volg die storie en kyk wat hier besig is om te gebeur, die klomp word verhoor op aanklagte van moord maar MM praat nie klaar nie, hulle se nie juis waarom hulle aangekla word nie, buiten die feit dat van die vrouens se bank kaarte by die rowers gevind is nie, so iemand weet iets en wag vir die beloning klokkie…

Peet J ·

Sekerlik is hierdie twee vrouens met ‘n ander voertuig vervoer na ‘n ander plek en daarna is hulle voertuig aan die brand gesteek waarom sukkel die polisie so om inligting te bekom as daar reeds vier verdagtes inhegtenis geneem is en die vrouens se persoonlike besittings is ook in hulle besit gevind .

Alta ·

Hoekom kan die vedagtes nie se waar die 2 vrouens is nie? Ek is seker die hof kan dit uit hulle kry

LHS ·

In sommige lande sou hierdie 4 lankal soos voeltjies gesing het.

LV ·

Ek kyk hierdie week op Via na die Roofdossiere program met Genl Bushie,en ek dink aan hierdie voorval,en ek besef net:those were the days! Daardie kundigheid ,inisiatief,deursettingsvermoe en kennis,bestaan omtrent net nie meer in die SAPD nie.

Chris Ws ·

Daar is wel nog top forensiese deskundiges in die land maar hulle is yl gesaai en kan nie by als uitkom nie.Die SAP lede is oor die algemeen nie te gewillig om hul werk te doen nie so waarom sal hulle inligting uit die skuldiges in die’ saak probeer kry?Die twee vermistes is blank so dit maak hulle nog minder geintreseerd om agter die waarheid te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.