Polisie ontken topbeampte is ‘in hegtenis geneem’

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Sondag gesê hy het met skok en algehele ongeloof kennis geneem van ʼn valse nuusstorie wat versprei word waarin beweer word dat ʼn generaal-majoor in die polisiediens in hegtenis geneem is nadat gesteelde juweliersware in sy besit gevind is.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê die storie is glo op ʼn vals nuuswebwerf geplaas. In die storie word beweer dat ʼn klopjag deur ʼn “nasionale span” uitgevoer is op die huis van ʼn generaal-majoor verbonde aan die presidensiële beskermingseenheid. Volgens die valse nuusberig is die generaal-majoor en een van sy vennote in hegtenis geneem en is daar op verskeie goedere beslag gelê, na bewering in opdrag van die waarnemende nasionale polisiekommissaris.

“Die SAPD ontken al die bewerings wat in die betrokke artikel gemaak word – dit is vals en misleidend,” het Naidoo gesê. “Sulke valse inligting is onverantwoordelik, onaanvaarbaar en vernederend teenoor die generaal-majoor, die waarnemende nasionale polisiekommissaris en die SAPD in sy geheel en word ten sterkste veroordeel.”

Naidoo het gesê die “nuusberig” word beskou as ʼn opsetlike poging om die senior polisiebeampte in oneer te bring.

“Sosiale media is ʼn bruikbare medium vir die gemeenskap én die polisie. Die fopnuus en verspreiding van fopnuus wat ons deesdae al meer sien, veroorsaak nie net paniek in ons gemeenskappe nie, maar mors ook die polisie se tyd en hulpbronne. Terwyl staatshulpbronne gebruik word om fopnuus na te gaan en te verifieer, word die polisie weerhou van hul grondwetlike verpligtinge om misdaad te voorkom, na te spoor en te bestry en dit is ʼn onuithoudbare situasie.”

Naidoo het gewaarsku dat mense wat valse inligting op sosiale media versprei, ondersoek en vervolg sal word op dieselfde wyse wat mense vervolg word wat valse klagtes by die polisie indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

thelsa ·

Watter berig is nou “fake news”? Die inhegtenisneming of die ontkenning?

Eish ·

Waar kry fopnuus sy giftige angel vandaar? Eerstens sekerlik indien onbekendes/onbekendheid betrokke is wat die valsheid vatplek gee of minstens teelaarde voorberei vir die moontlikheid van die bewering.
Tweedens wanneer vorige gebeure relevant is met die fopnuus en so geloofwaardigheid daaraan verleen. Vorige Polisie kommissarisse is deur die bank verwyder uit hul poste vanweë onbekwaamheid en korrupsie.

Hasie ·

Indien dit nie waar is nie, laat die polisie uitvind wie die liegstorie opgedis het en vat hom hof toe. Behoort seker nie te moeilik te wees nie.

zoom zoom ·

Hasie. So ruk terug het die DA zuma uitgedaag om ‘m sekere dagblad hof toe te vat en ‘n eis teen hulle te maak oor die berug van die huis wat zuma ontvang het van die guptas en daarvan het niks gekom. So hier gaan ook nikd gebeur nie.

Michael ·

Eers was die verskoning “we are busy investigating the allegation “nou is dit fobnuus??

lisaan ·

In die nuwe woordeboek gaan die nuwe woord vir fop wees. waar of ware. en die waarheid gaan wees lieg, bedrieg opreg. Die mode woord uit die Trumpstal is fake fake.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.