Polisie ontken vermiste studenteaktivis is gevind

Vusi Oldman Mahlangu. Foto: Twitter

Vusi Oldman Mahlangu. Foto: Twitter

Die Oos-Kaapse polisie het Vrydag gesê gerugte dat die studenteaktivis Vusi Mahlangu gevind is, is onwaar.

Kol. Mzukisi Fatyela, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is steeds besig om leidrade op te volg en het nog geen inligting ontvang dat Mahlangu gevind is nie. “Mense sê glo op Twitter dat hy opgespoor is, maar die polisie kan dit nie bevestig nie. Die ondersoek gaan nog voort,” het Fatyela gesê.

JacarandaFM het Vrydagmiddag berig dat Mahlangu in ʼn verklaring bevestig het dat hy “vrygelaat is”, maar dat hy eers die polisie sal nader wanneer hy voel hy is veilig.

Maroela Media het vroeër berig Mahlangu, ʼn studenteaktivis en voormalige SR-lid van die Walter Sisulu-universiteit in Mthatha, het na bewering verdwyn nadat hy Dinsdagoggend glo by sy vriend se huis in Mthatha in die Oos-Kaap weg is om ʼn vergadering met kontrakwerkers by te woon. Mahlangu se vriend, Vuyo Mntonintshi, het op sosiale media beweer Mahlangu is omstreeks 10:00 by sy huis weg.

Mntonintshi het beweer hy het ʼn boodskap van Mahlangu se foon af ontvang wat lui: “Ek is of ontvoer of in hegtenis geneem en ek bloei…. In ʼn donker plek in Mthatha. My foon gaan enige oomblik doodgaan.”

Mahlangu het glo namens kontrakwerkers by die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) onderhandel waar die bestuur met ʼn proses besig is om weg te doen met die uitbesteding van werkers en om werkers se lone te verbeter. Hy is glo na die Oos-Kaap om daar ʼn universiteit se kontrakwerkers te gaan bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.