Die polisie is op soek na drie swaar gewapende mans nadat ʼn kitsbank by Sediba-winkelsentrum naby Hartbeespoortdam in Noordwes op Nuwejaarsdag opgeblaas is.
“Die ontploffing het Vrydag omstreeks vyf minute ná middernag plaasgevind,” het sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die verdagtes het die slot by die hoofingang oopgebreek, die veiligheidswag met ʼn vuurwapen gedreig en hom gedwing om in hul voertuig te klim.”
Die veiligheidswag kon weghardloop en terwyl hy weggekruip het, het hy die harde ontploffing gehoor voor die mans met ʼn wit VW Polo weggery het.
“Die mans het die Standard Bank-masjien met springstof gelaai en dit opgeblaas,” het Moleko gesê. “Die veiligheidswag het ontdek dat die kitsbank opgeblaas is en ʼn onbekende bedrag kontant gesteel is. Hy het dadelik die polisie ontbied.”
Die polisie versoek enigiemand met inligting om Hartbeespoortdam-polisie te kontak by 012 253 7000.
Lewenskoste is nou die hoogste ooit. Kan ons dalk nog meer sulke voorvalle verwag? Die regering dink die droogte en die lewe is ‘n grap! Wel, iemand sal die gelag moet betaal as die land se grootbaas nie tot insig kom nie. Intussen moet die belastingbetaler hoes…
Nou ja toe, die polisie behoort darem nie té veel moeite met hierdie saak te hê nie, want die ‘swaar gewapende mans’ behoort taamlik maklik uitgeken te kan word – dis mos nie dikwels dat ‘n mens oorgewig misdadigers raakloop nie…