Polisie op spoor van Middelburg-moordenaars

Tony en Wilma da Silva. Foto: Verskaf aan Middelburg Observer

Tony en Wilma da Silva. Foto: Verskaf aan Middelburg Observer

Die polisie is warm op die spoor van twee vermeende kapers wat Jose Antonio (Tony) da Silva, ʼn bekende sakeman van Middelburg in Mpumalanga, verlede week doodgeskiet en sy voertuig gesteel het.

“Daar is verwikkelinge in die saak, en ons hoop om binnekort ʼn deurbraak te maak,” het kapt. Khanyisile Zwane, ʼn woordvoerder van die polisie, Maandag aan Maroela Media gesê.

Da Silva (61) is verlede Woensdag omstreeks 22:00 naby die Middelburg-winkelsentrum by ʼn verkeerslig deur twee mans oorval. Hulle het hom twee keer in die bors geskiet, uit sy voertuig gepluk en langs die pad gelos. Hy is op die toneel dood verklaar. Sy selfoon en ʼn onbekende hoeveelheid kontant was steeds in sy besit.

“Sy voertuig, ʼn Nissan NP200, is Donderdag uitgebrand in eMalahleni (Witbank) gevind,” het Zwane gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Die Middelburg Observer-gemeenskapskoerant berig Da Silva was die eienaar van die OK Grocer in die Komati Village-sentrum.

Brandus van Jaarsveld, ʼn familielid, het aan die koerant gesê Da Silva was ʼn vriendelike man wat altyd vreemdelinge gegroet het. “Hy was ʼn liefdevolle en gerespekteerde man wat ʼn passie gehad het om minderbevoorregtes te help,” het Van Jaarsveld gesê. Hy het die polisie en die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning.

Da Silva laat sy vrou Wilma, agter. Die egpaar het geen kinders gehad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.