Die Brooklyn-polisie is warm op die spoor van ʼn vermeende hawelose man wat na bewering Chris Orban (71), ʼn bekende eiendomsmagnaat van Pretoria, vermoor het.
Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met Orban se moord in hegtenis geneem nie, maar dat die ondersoek voortgaan en die polisie “sterk leidrade” opvolg.
Maroela Media het vroeër berig Orban is op 7 Junie in ʼn hospitaal dood nadat hy ʼn dag tevore erg in sy Waterkloof-huis, oos van Pretoria, aangerand en beroof is.
Weilbach het destyds gesê die slagoffer is die Saterdag omstreeks 15:15 deur ʼn 30-jarige nutsman wat vir hom gewerk het in sy huis in Banketstraat aangetref. Orban is erg aangerand en het beserings aan sy kop en gesig opgedoen.
“Die nutsman het besef sy werkgewer se liggroen Hyundai Tucson, ʼn bergfiets en ʼn plasmatelevisie word vermis,” het Weilbach gesê.
Volgens inligting het Orban glo vroeër die dag ʼn hawelose man na sy huis geneem. Daar was glo geen gedwonge toegang tot sy perseel nie.
Orban was nie getroud nie en laat ʼn aangenome seun van 13 jaar agter. Die seun is in veilige sorg.
Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.